Dié week word meer as een karakter gedwing om te besluit wie hulle kan vertrou en wie hulle eerder op ’n afstand moet hou. Terwyl sommige die antwoorde kry waarna hulle al lank soek, bring daardie waarheid nie noodwendig die vrede waarvoor hulle gehoop het nie.
Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek op die kassie uitspeel.
Binnelanders
Joe (Roberto Kyle) sit hierdie week met meer vrae as antwoorde wanneer die bloeduitslae uiteindelik beskikbaar is. Daar is egter net een persoon wat vir hom die waarheid kan gee. Uit desperaatheid neem hy besluite wat my laat wonder het of hy nie dalk eerder net moes asemhaal voordat hy opgetree het nie. Ek verstaan sy desperaatheid, maar soms maak ’n mens juis die grootste foute wanneer jy antwoorde te vinnig soek.
Louis (Germandt Geldenhuys) staan intussen voor ’n moeilike dilemma wanneer nuwe inligting sy besigheid kan raak. Nou moet hy besluit of hy sy lojale werknemers, of die nuwe werknemer in wie hy nog glad nie vertroue het nie, glo. Partykeer wil ek Louis behoorlik skud, want hy kan ongelooflik hard wees op ander mense. Maar dan besef ek ook sy hart en sy kop trek nie altyd in dieselfde rigting nie.
Bonnie (Antoinette Modise) se wêreld stort inmekaar wanneer die waarheid uiteindelik uitkom. Nou moet sy besluit of vergifnis sterker as seerkry is. Ek is maar ’n sucker vir romanse, so ek sê vat die kans.
Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.
Suidooster
Die battle om Oos-Wes se nuwe bestuurder te wees, is amptelik aan die gang en ek kan nie help as om vir Frankie (Mienke Ehlers) duim vas te hou nie. Sy verdien die geleentheid, maar dit kan tog mos nie so eenvoudig wees nie… Iets sê vir my hierdie kompetisie gaan nog baie ingewikkeld raak.
Ava (Simone Neethling) se lewe raak intussen nóg meer deurmekaar wanneer iets gebeur wat die toekoms van Ruiterbosch kan verander. Vir ’n oomblik het ek regtig gedink meer as een lewe gaan verlore wees en ek was glad nie gereed daarvoor nie.
Nazeem (Irvine van der Merwe) se geluk loop uiteindelik uit wanneer hy sy hand oorspeel. Eerlikwaar – die tydsberekening kon nie beter gewees het nie. Payback is nie altyd mooi nie, maar ek moet erken hierdie was een van die mees bevredigende tonele van die week.
Tannie Kate (Annelisa Weiland) dwing haar kinders om iets vir haar te doen, maar die uitslag is allesbehalwe waarvoor sy gehoop het. Ek hoop regtig daar is ’n fout, want soms is dit beter om nie te weet nie.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up en DStv Stream.
Diepe Waters
Karla (Danielle Swanepoel) probeer die verlies van haar baba te verwerk en neem ’n drastiese besluit oor haar loopbaan. Selfs haar ma se terugkeer laat haar nie van plan verander nie en my hart het behoorlik vir haar gebreek.
Zelda (Sandi Schultz) moet weer sien hoe haar verlede haar geluk bedreig, maar hierdie week wag daar ’n kinkel wat my mond letterlik laat oophang het. Ek het dit glad nie sien kom nie en skielik gaan alles oor die waarheid. Die vraag is net of hierdie onthulling haar uiteindelik gaan red en of dit haar lewe nog verder gaan kompliseer.
Die nuwe kelner in Boskruin maak ook nie juis vriende onder die jonges nie. Maar is daar regtig rede om bekommerd te wees?
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.