Menu terloops
In Wat om te kyk [12 Jul 2026]

Nuwe kykNET-dokkiereeks vertel verhaal van ‘Die Boere van Patagonië’


’n Byna vergete hoofstuk van Afrikaner-geskiedenis kry nuwe lewe in die boeiende dokumentêre reeks ‘Die Boere van Patagonië’, wat eersdaags op kykNET uitsaai.

Deur Redaksie
Nuwe kykNET-dokkiereeks vertel verhaal van ‘Die Boere van Patagonië’

Met Voetspore het Johan Badenhorst kykers oor dekades heen na afgeleë wêrelddele saamgeneem. Nou vertel hy die merkwaardige verhaal van die Afrikaners wat ná die Anglo-Boereoorlog ’n nuwe lewe in Argentinië gaan bou het in die nuwe dokkiereeks Die Boere van Patagonië.

Ná die oorlog was talle Afrikaners moedeloos en verslae. Plase is afgebrand, oeste vernietig, vee uitgewis en duisende vroue en kinders het in konsentrasiekampe gesterf. Baie families het gevoel daar is net een opsie oor: om Suid-Afrika te verlaat en elders ’n nuwe heenkome te gaan soek.

Terwyl sommige uitgewyk het na plekke soos Tanzanië en Madagaskar, het sowat 600 Afrikaners die lang reis na Argentinië aangepak. Hier is hulle genooi om die yl bevolkte streek van Patagonië te help ontwikkel. Daar, in ’n landskap wat sterk herinner aan die Karoo, maar met veel strawwer winters, genadelose winde en geïsoleerde plase, het die boere ’n nuwe lewe probeer uitkerf.

Vandag leef hul afstammelinge steeds daar – met vanne soos Van der Merwe, Kruger, Botha en Pelser. Hoewel baie van hulle reeds verspaans het, leef elemente van Afrikaner-kultuur steeds voort.

Hulle speel Boeremusiek, langarm en braai skaaprib oor die kole. En soms praat hulle steeds Afrikaans – ’n vorm van die taal wat grootliks onveranderd gebly het sedert hul voorouers Suid-Afrika meer as ’n eeu gelede verlaat het. Waar Afrikaans in Suid-Afrika oor dekades heen verder ontwikkel en gestandaardiseer is, leef ou uitdrukkings en woorde in Patagonië steeds voort.

Johan Badenhorts, Boere van Patagonie
Voetspore se Johan Badenhorst is die vervaardiger en verteller van die nuwe dokkiereeks Die Boere van Patagonië. Foto’s: Verskaf

Identiteit, kultuur, herkoms

Die Boere van Patagonië ondersoek nie net die historiese redes vir die Groot Trek na Argentinië nie, maar vra ook belangrike vrae oor identiteit, taal, kultuur en herkoms.

Die reeks, wat uit vyf episodes bestaan, kyk na die verwoesting van die Anglo-Boereoorlog en die motivering agter die emigrasie, die uitdagings wat die boere in Patagonië moes trotseer, die ontdekking van olie en die rol wat Afrikaners daarin gespeel het, asook die behoud van die Afrikaanse taal en kultuur in Argentinië. Die reeks spekuleer ook oor wat die toekoms van Afrikaans in Patagonië mag wees.

“Die Afrikaner-diaspora is ’n relatief onlangse verskynsel met groepe in veral Australië, Kanada en Engeland. Maar meer as 120 jaar gelede is daar ’n groep Afrikaners na Patagonië. Hulle het nie net bly Afrikaans praat, braai en biltong maak nie. Hulle het ook langarm gedans en Boeremusiek gemaak. Dis tans dalk die laaste stuiptrekke van ’n unieke groep Afrikaners. Maar steeds bly hul verhaal van deursetting en oorlewing ’n inspirerende verhaal,” sê Johan, vervaardiger van die reeks.

“Wat uitgestaan het, is die feit dat selfs hulle wat nie meer Afrikaans kan praat nie, maar steeds vanne het soos Botha en Van der Merwe, geweldig trots is op die kontinent van hulle herkoms. Hulle vier dit steeds elke jaar.”

Die reeks is oor twee maande in beide Suid-Afrika en Argentinië verfilm. In Suid-Afrika word daar gekyk na die gemeenskappe vanwaar die emigrante oorspronklik gekom het. Die Argentynse been van die produksie fokus op Buenos Aires, Comodoro Rivadavia, Sarmiento en die omliggende gebiede waar die boere hulle gevestig het.


Die Boere van Patagonië begin 19 Julie om 20:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies