“Die boere se finale keuses stap al hoe nader. Vandag kry hulle die geleentheid om alleentyd met elke dame te spandeer. Ek hoop hulle kry die antwoorde en vra die vrae wat op hul harte is,” verklap Marciel Hopkins meer oor hierdie episode van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou.
Boer Jacques (26), Venterstad, Oos-Kaap
Dis dag vier op die plaas en boer Jacques het tot dusver nie soos die ander boere nodig gehad om ’n keuse tussen drie dames te maak nie. Een van die oorspronklike drie dames, Dánika, het met die aankoms op die plaas die skokaankondiging gemaak dat sy vanweë werksverpligtinge nie langer kan deelneem nie.
Sharezaan vertel hulle het ’n heerlike vuurtjie gemaak die vorige aand, ’n glasie wyn geniet en kaart gespeel. En ten spyte daarvan dat dit in ’n laat nag ontaard het, kon sowel sy as Nicole alleentyd met boer Jacques geniet.
Maar vanaand is dit die groot aand waar hulle met boer Jacques se familie en vriende gaan kennis maak. En Nicole hoop van harte dat daar meer van ’n rigting met alles sal wees na afloop daarvan.
Sharezaan is dankbaar oor die geleentheid op die plaas en sê sy voel rustig in haar hart, ongeag wat vorentoe gaan gebeur.
So maak mens
Boer Jacques neem vir Sharezaan en Nicole na sy ma se huis waar sy die twee gaan touwys maak oor hoe wors gemaak word. Hy kan nie help om te wonder of dit bietjie grillerig vir die twee gaan wees nie.
“As jy jou handjies gaan optrek, raak dit ’n lang dag,” sê hy.
Sy ma, Glodene, vertel dat daar springbokwors gemaak gaan word met lekker geroosterde koljander en naeltjies.
Nicole is baie senuweeagtig want dit is iets wat sy nog nooit vantevore gedoen het nie. En die rou vleis en derms . . . vreemd, noem sy dit. Maar sy sien uit daarna om die wors te proe later by die braai.
Nou word daar gebraai
Boer Jacques lyk effe op sy senuwees toe hy met Nicole en Sharezaan opdaag vir die aand se verrigtinge. Hy hoef glad nie bekommerd te wees nie, hulle word hartlik verwelkom en gou word daar land en sand gesels. Sy vriende, Garry en Sonja, het met Nicole gesels. Sonja het haar as ’n stadsmeisie ervaar, maar een wat verskriklik rustig is. Sy dink ook Nicole is die teenpool van boer Jacques en dis wat hy nodig het.
Ook boer Jacques se vriende Annette en Abraham het met Nicole gesels. Annette dink Nicole kan dalk die een vir hom wees: “Jy kan nie in ’n see in ’n storm met iemand wees wat baie besig is nie.”
Maar Abraham dink nie so nie. Hy dink sy gaan te stil wees vir boer Jacques. Hy dink Sharezaan is ’n beter idee.
Vriend Leroy sê hy ken vir boer Jacques redelik goed, ook sy nukke en waarvan hy hou en nie hou nie. Daarom kan hy verstaan hoekom Sharezaan vanaand op die plaas saamkuier. Nog ’n vriend, Mark, sê sy sal goed inpas in enige situasie.
Boer Jacques se pa, Tertius, sê: “Ek wil nie ’n skoondogter hê wat ons nie aanvaar nie. Ons bly baie naby mekaar, 3 km is baie naby, jy weet.”
Glodene stem saam en voeg by: “Of een wat sê ‘Ma of Pa kan nie vandag kom nie, dit pas ons nie.”
Sharezaan is baie beïndruk met boer Jacques en sê sy het soveel respek vir hom, ook omdat hy vir haar alles wys. Hy deel sy hart en hy deel sy mense.
Boer Daandré (26) van Brits, Noordwes
Ook hier is dit dag vier vir die oorblywende twee dames en boer Daandré se vriende en familie maak reg vir ’n groot makietie om vir Elizette en Marisca te ontmoet.
Elizette is opgewonde om vir boer Daandré saam met sy familie en vriende te sien. Marisca dink hy het die situasie baie mooi hanteer toe hy hulle ingelig het dat die bymekaarkom met familie en vriende ’n maak-of-breek-geleentheid kan wees. En hulle altwee wonder en hoop tussendeur dat hulle by sy lewe kan inpas.
Nou word daar gebraai
Die drietal word luid toegejuig toe hulle by die gaste aansluit. Eerste aan wie hulle amptelik voorgestel word, is natuurlik boer Daandré se ouers, Niel en Marlene. Ook kleinboet Andrico en sy ouma Suzette is teenwoordig.
Marisca en Elizette geniet dit duidelik met almal rondom hulle en kuier al te lekker saam.
Boer Daandré se vriend, CJ, en Andrico voel dat Elizette dalk beter by die plaas sal aanpas omdat sy haar plaas-agtergrond in Memel opgedoen het waar haar pa met beeste boer. Andrico voel ook mense praat makliker met haar, maar gaan die afstand sake verfomfaai? CJ voel Centurion is baie nader en dis waar Marisca vandaan kom.
Vir boer Daandré se tannie, Sunette, voel dit asof Elizette se plaas-agtergrond haar dalk kan bevoordeel omdat sy die plaaslewe beter verstaan.
Intussen verseker Marisca vir boer Daandré se vriende, Lodewyk en Elzette, dat sy beslis op die plaas sal aard. Altwee dames lyk vir Lodewyk en Elzette na goeie kandidate en dis duidelik dat hulle dink boer Daandré gaan sukkel om te kies. Maar vir Elzette staan Elizette ook net ’n bietjie sterker uit as Marisca.
Ma Marlene dink altwee is pragtig, maar Marisca het haar oog ’n bietjie meer gevang, waarskynlik vanweë haar borrelende persoonlikheid. Maar sy sien ook Elizette se sagtheid raak.
Een van boer Daandré se broers, Henco, en sy skoonsuster, Rihanza, voel ook dat Elizette “kom meer voor soos ’n Daandré-tipe mens”. Rihanza voel wel dat altwee plat-op-die-aarde is en sal kan inpas by die plaaslewe.
“Ek het rêrig dalk nou net die tyd nodig om als te process, net om vir jouself daai sekerheid te gee – want dis baie om op een slag om in te neem,” is boer Daandré se versugting.
Dis speeltyd
Lottoland se groot Jenga-stel wag op boer Daandré, Elizette en Marisca. Maar dis nie al nie. Daar is ook weer ’n paar koeverte met vrae wat gevra gaan word.
’n Blosende boer Daandré trek ’n vreemde vraag: Hoe voel jy oor mooi onderklere?
“Praat ons nou uit die slaapkamer uit hiersô?” wil hy tot groot vermaak van Elizette en Marisca weet. Later erken hy dat hy dit baie geniet het, want die vrae het gehandel oor goed waaraan daar nie altyd gedink word nie. Hy het beslis ’n talent vir uitdagende vrae uit die bondel trek, soos die een wat vra of hy al ooit verlief was.
Beide Elizette en Marisca laat hom duidelik verstaan dat hy moet antwoord. “Tot hierdie week toe, nee, nog nie,” kom dit van hom en in die swanger stilte wat volg, laat hy dit net daar.
Marisca wil bitter graag weet vir wie hy daai gevoelens koester want hy steek alles baie goed weg. Maar gaan sy voor die volgende dag die antwoord kry waarop sy hoop?
Boer Daandré vertel dat musiek sy herlaaistasie is. En kort voor lank word daar, vellies en al, gedraai en geswaai in die voorkamer . . .
“My hart is opgewonde. My hart sê vir my hy’s reg en my kop kan die prentjie daarby plaas. So, die twee praat saam en die twee vul mekaar aan. Die een bring die kleur na die prentjie toe,” kom dit van ’n opgewonde boer Daandré.
Boer Niel (30) van Dannhauser, KwaZulu-Natal
“Die tyd van onsekerheid en tussen die lyne lees is vinnig besig om uit te hardloop,” waarsku Marciel.
Wat gaan Dag 5 vir boer Niel, Hestia en Mikal bring?
Boer Niel erken aan Mikal dat dinge vir hom heeltemal anders uitgedraai het as wat hy gedink het dit sou.
“Ek dink ek kan rêrig ’n pad met jou sien… Ek begin regtig baie van jou hou” sê hy vir haar.
“As ek en Niel alleen is – dis gemaklik, en dit voel reg, dit voel rêrig net reg,” sê Mikal. Sy vertel ook vir boer Niel sy het gewys alles wat sy kon en dat sy werklik hoop hy het gesien wat hy nodig het om te sien.
Maar daar is natuurlik ook iemand met die naam van Hestia in die prentjie. En boer Niel sê hy kan sy pad vorentoe met enigeen van die twee sien . . .
“Op hierdie stadium dink ek 100% met my hart. Ja, ek dink ek gaan 100% met gevoel gaan. Ek het nou al genoeg gesien in my kop en idees van wie wie is. So, op hierdie tyd, dink ek, wat die enigste verskil gaan maak tussen die twee is hoe ek met hulle voel, en hoe hulle my laat voel,” som boer Niel die huidige stand van sake op.
Hestia draai nie doekies om nie: “Ek het al vir jou gesê ek doen hierdie vir jou. Dis my fokus. Ek meen, natuurlik, dis hoekom ek hier is.”
Boer Niel erken ook aan haar dat hy ’n pad met enigeen van hulle twee sien, en dat dit hom benoud maak.
“Jy’s hierdie persoon vol humor, en besig . . .” sê hy vir Hestia en noem dat dit vir hom lekker is. Dan verwys hy na haar ander kant “soos ’n blom wat ontblom [bloom], dit raak net mooier. Jy’s reguit. Dis iets wat ek laaik.”
Met haar volgende vraag aan boer Niel, neem sy behoorlik die wind uit sy seile.
“Dink jy ek kan lekker vry?” wil sy weet. Stamelend kom die antwoord dat hy wel so dink en met ’n gesukkel om woorde uit te kry, besluit hy om liefs net by “ja” te volstaan.
Die laaste aand
Dis die drietal se laaste aand saam en daar word heerlik saam gekook in die kombuis. Hestia wil weet wat die lekkerste aktiwiteit vir boer Niel was. Die pyl-en-boogspeletjie was vir hom die beste.
Hestia sê sy’s dankbaar dis die laaste aand op die plaas, nie omdat sy haastig is om weg te gaan nie, maar omdat sy wil weet hoe sake staan.
“Ek is definitief reg vir dinge om op ’n punt te kom. Dit was ’n lang week, dit was ’n besige week en ek sê nog heeltyd ’n mens moet tog onthou hoekom hierdie week was.’n Mens geniet dit en jy geniet die week saam met die dames. Die doel is tog om ’n vrou te kry, so ja, ek is reg vir dit,” sê boer Niel.
Boer JW (24) van Villiersdorp
Dis Dag 5 naby Villiersdorp en Mieke sit rustig en tokkel op haar kitaar op die stoep terwyl boer JW met Danelle in die sitkamer gesels. Hy wil by haar weet of hy oor sommige van die eienskappe beskik wat sy in iemand soek en of glad nie.
“Nee, met dié min tyd tiek jy al te veel bokse,” laat sy tot sy groot verligting hoor. En sy vra hom dieselfde vraag.
“Ja, ek sal ook sê definitief is ons persoonlikhede die teenoorgestelde, jy sê ’n ding soos jy dit sê, maar ook tog – as ’n mens vir jou sê ‘bly nou stil en luister’, dan luister jy,” kom die antwoord.
Boer JW beskryf haar as ’n sterk persoon wat impulsiewe besluite neem, maar sy het wel ook ’n ernstiger kant, veral as daar alleen met haar gesels word.
Op haar beurt erken sy dat dit moeilik is om meer met hom te deel omdat daar nog ’n persoon op die plaas is. Maar, as dit net hulle is, sal sy met hom kan praat oor alles.
Hy wil ook weet hoe hulle twee die afstand tussen hulle kan hanteer. Danelle sê sy het reeds toe sy vir hom geskryf het, geweet hulle bly ver van mekaar af, maar sy het steeds die kans gewaag. Nou, sê sy, is tegnologie daar om te help om die afstand te krimp. En sy glo dat hulle beslis dit kan laat werk.
Aan Mieke erken boer JW dat hy gevestigde roetines het en ook sy manier van dinge doen, maar dat hy aanpasbaar is. Hy beskryf haar as iemand wat goed oor dinge dink, ernstig is en nie besluite wil neem as dit nie die regte besluit is nie. Sy is seker oor wat sy wil hê en sy weet wat sy in ’n ander persoon soek.
Mieke besef ook boer JW is op ’n baie ernstige plek, ernstig om te trou en met die res van sy lewe te begin.
Die laaste aand
Vir Danelle voel dit asof alles nog oukei is soos wat dit die geval die afgelope week was, maar die werklikheid is dat dit wél iemand se laaste aand op die plaas gaan wees. Maar sy is vas van plan om nie te veel daaraan te dink dat alles nou op ’n einde gaan kom nie.
Mieke kom tot die besef dat sy aansienlik meer omgee vir boer JW as wat sy gedink het.
Boer Quintus (39) van Winburg, Vrystaat
Ná die vorige aand se reënbui en skoffel in die skuur, besluit boer Quintus sy trekker moet skoongemaak word. Maar nie deur hom nie . . . Ria en Emsoné word met die hoëdruk-wasser opgesaal.
Ná die takie afgehandel is, word daar gesels oor die vorige aand. Ria sê dit het haar baie aan haar eie mense herinner en dat sy na hulle verlang het. Emsoné stem saam.
Later sê Emsoné sy dink boer Quintus wik en weeg nog tussen hulle twee en dat sy wens dis sy. Tydens hul alleengesels vertel Ria vir boer Quintus dat een van sy vriende hom die vorige aand beskryf het as “los van geld en sonder goed” en dit is hoe sy hom sien.
“Dis presies wie ek wil wees, of probeer wees. Oomblikke is vir my belangrik, geleenthede, maar dis nie altyd so lekker om dit alleen te sien nie,” kom dit van boer Quintus.
Asof dit deel van die teks was, weergalm die roep van die visarend eensklaps deur die stil lug. “Hoor jy die visarend? Nou net was daar ’n oomblik,” sê hy. “Ons kon iets deel. Ek kry half amper hoendervleis.”
Hy toets die water en vra vir Ria hoe sy sal voel as sy dalk die een is. “Dit maak my baie bly, ja, dit maak my baie bly. Dit sal vir my hartseer wees as ek nie die een is nie, maar ek sal ook oukei wees. Jy hoef nie oor my te worry nie.”
Boer Quintus vergelyk Ria met ’n ui: “Een lagie op ’n slag. Sy maak dit vir my soos ’n boek wat jy lees. Jy wil sien hoe gaan die einde lyk.”
Ria vertel vir boer Quintus dat hy soms tog diep in haar oë kyk, en hy wil natuurlik weet hoe dit haar laat voel.
“Dit laat my voel jy sien my raak en jy wil dieper in my oë kyk. Jy wil meer van my sien,” laat sy met ’n skalkse glimlaggie hoor. En boer Quintus hou daarvan.
Emsoné het ’n geheime wapen tydens die braai die vorige aand ontdek: boer Quintus se dogtertjie, Reeza. Sy het glo na ’n gesprek met Emsoné vir boer Quintus aangemoedig om “die een met die kort hare” te kies . . .
Emosies dreig om Emsoné te oorweldig toe sy erken sy voel baie kwesbaar. Maar sy is ook trots op haarself dat sy oopgemaak het en kwesbaar voel.
“Ek het nou twee meisies wat 100% gereed is, maar ek kan net een kies . . . Ek is nog nie seker nie,” kom dit van ’n wroegende boer Quintus.
Boer soek ’n vrou (S16) word Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Episodes is ook op Catch Up ná uitsending beskikbaar. Ons recaps word weekliks ná afloop van die program, omstreeks 21:00, gepubliseer.