Menu terloops
In Wat om te kyk [5 Sep 2024]

‘Boer soek ’n vrou’ S16: Baie trane rol en die vonke wil-wil spat 


Verlede week is die eerste dame huis toe gestuur toe boer Daandré besluit het Lize-Mari en hy sal nie werklik goeie karperde maak nie. In hierdie episode van kykNET se gewilde maatsoekreeks ‘Boer soek ’n vrou’ gaan van die ander boere moet kies. 

Deur Annelene Oberholzer

Stroom aanlyn

‘Boer soek ’n vrou’ S16: Baie trane rol en die vonke wil-wil spat 

Een ding is seker, dié episode van Boer soek ’n vrou was beslis nie sonder drama nie! 

Boer Niel (30) van Dannhauser, KwaZulu-Natal

Boer Niel moet kies en programaanbieder Marciel Hopkins wil weet of hy seker van sy keuse is. “Ek is,” kom dit kort en bondig van hom.

Maar dis duidelik dat Aniska iets op die hart het wat nie kan wag tot waar boer Niel sy keuse maak nie.

Boer soek 'n vrou
Aniska het dié twee met haar besluit verras. Foto: Skermgreep

“Dit was ’n voorreg om deel te kon wees van hierdie hele proses, maar ek dink vir my – om dit makliker te maak – ek gaan uit my eie uit vra, is dit oukei as ek dan vanaand besluit om huis toe te gaan en nie langer aan te bly op die plaas nie?” kom dit van haar. En dit tref die groepie so onverwags soos ’n emmer yskoue water in die hartjie van die winter . . .

Beide Marciel en boer Niel aanvaar haar keuse en hy sê hy verstaan dit 100%, alhoewel hy erken hy het dit nie verwag nie. 

Alhoewel Mikal en Hestia baie geskok is, kan die twee nie help om baie verlig en oorweldig te voel oor hierdie kinkel nie. En terselfdertyd ervaar hulle meer as ’n sprankie hoop op die pad vorentoe met boer Niel.

Alhoewel boer Niel onkant betrap is deur Aniska se besluit, wil hy vir Mikal en Hestia verseker dat hulle die twee is wat hy in ieder geval die aand wou laat bly het.

Boer soek 'n vrou
Aniska verduidelik vir boer Niel hoekom sy groet. Foto: Skermgreep

Aniska groet

Marciel sê vir Aniska dat sy haarself geëer het met die besluit wat sy geneem het en haar stem ingespan het om te sê hoe sy voel.

“Ek sal nie sê dit was maklik nie, maar ek het baie rustigheid in my hart. So, hoe ek nou voel op die oomblik . . . dis oukei.”

Op pad weg van die plaas af, kan Aniska nie haar trane keer nie. Sy erken dit is vir haar moeilik, juis omdat sy met verwagtinge deel van die proses geword het en nou gaan sy met heel ander verwagtinge daar weg.

Boer JW (24) van Villiersdorp

Boer JW was tot in sy sokkies geskud toe Marciel aangekondig het dat al drie dames langer op die plaas aanbly omdat sy dink almal het meer tyd nodig om mekaar beter te leer ken. 

Wat gaan Valentynsdag op die plaas inhou? Die dag skop af met boeretroos en beskuit, hoe dan anders! En Nevé se beskuit oes haar groot lof in. Boer JW erken hy’s gek oor beskuit.

“Ek sal sê ek was gisteraand ’n bietjie ontsteld toe die ding in ’n ander rigting ingaan en ons hoef nou nie ’n keuse te maak nie en daar kom ekstra tyd, want ’n mens het hierdie opbou gehad en my besluit is geneem. 

“En nou moet jy weer daai persoon in die oë loop kyk, al weet sy dit nou nie. Dit het ’n bietjie die gemoed, of die hele vibe, daar in die huis verander,” kom dit van boer JW.

Vir Danelle bly boer JW nog ’n toe boek, maar sy dink hy was die vorige aand die meeste oop met almal as wat die geval tot nou toe was. Sy noem ook dat hulle drie baie onseker voel omdat boer JW genoem het dat hy reeds sy keuse gemaak het.

Mieke is seker almal was geskok deur Marciel se aankondiging dat hulle langer gaan aanbly en sy self voel heeltemal ontspoor daardeur.

Op haar beurt geniet Nevé die kans om weer oogkontak met boer JW te maak.

Boer soek 'n vrou
Om die tafel saam met boer JW. Foto: Skermgreep

’n Teksboodskap van Marciel onderbreek egter die gesprek rondom die kombuistafel.

“Liewe JW, gelukkige Valentynsdag. Nog ’n dag, nog ’n avontuur om liefde te vind. Om ’n boer se vrou te wees, moet jy op jou voete kan dink. Vandag gaan hulle in die winkels rondsnuffel om te sien wat hulle kan kry om jou te bederf. Groete, Marciel.”

Villiersdorp

Dis maar ’n stillerige drietal wat die pad na Villiersdorp aanpak en die onsekerheid knaag diep. Hulle eindig op by ’n winkel wat al die basiese goed aanhou wat nodig is. 

Danelle is bekend met klein dorpies en bly self in een. Ook Nevé dink sy kan op hierdie dorp oorleef.

In die Pop & Lap Craft Shop sukkel die drietal om hul ritme te vind. Maar hulle vind Valentynsdag-inspirasie danksy rooi karton wat hulle in hartjies kan opsny. 

Marciel kom kuier

Boer JW vertel vir Marciel hy het jare gelede laas Valentynsdag gevier. En nou met drie dames op die plaas is dit die ideale geleentheid om verlore tyd te herwin.

En oor die keuses wat voorlê?

“Dit gaan ’n bietjie moeilik wees, want jy gaan nou maar ’n bietjie seermaak. Maar die ding – as dit geneem is, moet ’n mens oor dit kom en jy moet vorentoe kyk. Dan kom jy al hoe nader aan dit waarvoor jy eintlik ingeskryf het,” sê hy vir Marciel.

Uit en tuis

Dis net hartjies op die tafel waar jy kyk en daar word gewoel en gewerskaf om iets spesiaal vir boer JW voor te sit. Die plaatkoekies flop so half, maar hulle gee nie bes nie.

Toe boer JW die huis binnekom, word hy baie gou in sy spore gestop sodat Danelle hom eers kan blinddoek sodat hy nie dadelik sy verrassing kan sien nie: die lieflike hartjies-tafel. En hy is beïndruk met hoe mooi dit lyk.

Wat maak Marciel daar?

Nevé is in die kol toe sy raai iemand gaan huis toe met Marciel se aankoms. Sy bevestig dat die tyd van grasie verstreke is. Danelle sê haar hart het in haar skoene gesink toe sy besef wat aan’t gebeur is.

Marciel wil by die drie weet wie die meeste tyd met boer JW deurbring. Onder groot gegiggel deur die drie, erken Danelle dat dit sy is. Mieke is baie spyt dat dit nie sy was nie want sy voel sy het nog baie om vir boer JW te wys. Nevé erken daar’s vlinders, maar verlief is nog nie heeltemal in die prentjie nie.

Boer JW vertel vir Marciel hy het met twee van die dames ’n konneksie waarvan een van hulle wel ’n vonkie by hom aanwakker. 

Boer JW kies

“Die eerste meisie wat ek wil hê moet bly, is Mieke. As jy langer sal wil bly?” vra hy tot Mieke se groot verligting.

“Nevé, ongelukkig vanaand gaan ek vir jou groet. Maar baie dankie,” is die woorde waarmee hy Nevé huis toe laat gaan.

Vir boer JW is dit asof daar ’n groot klip van sy skouers afgerol het en hy voel baie verlig dat daar nou net twee dames oorbly. 

Boer soek 'n vrou
Volgens Nevé (links) was die nuus dat sy moet groet nie juis verrassend nie… Foto: Skermgreep

Nevé groet

“Ek voel deur die dag het ek maar soos bietjie agtergekom wat sy keuse was. So, ek dink ek het myself maar bietjie voorberei. Hy is ’n toe boek, maar ek het al met baie mense gewerk, so jy kan body language baie vinnig agterkom,” sê sy vir Marciel.

Boer Jacques (27) van Venterstad, Oos-Kaap  

Sharezaan en Nicole keer terug na die plaas nadat hulle tyd spandeer het by Willem se Kampie, boer Jacques se gunsteling padstal, waar hulle onder andere geleer het hoe om roosterkoek te bak.

Uit en tuis

Sharezaan is opgewonde om weer terug op die plaas te wees nadat hulle volgens haar in die kombuis geswoeg en gesweet het.

“Dis lekker om hulle terug te hê en dis verblydend om te sien wat die padstal aan hulle gedoen het. Hulle lyk altwee baie meer ontspanne en gemaklik,” sê boer Jacques.

Kort voor lank moet hy die twee se roosterkoek-offerande beoordeel en later nooi hy hulle om veerpyltjies te speel. Hulle moet vir ’n kleur mik. Daardie kleur stem ooreen met brief van dieselfde kleur wat ’n paar vrae bevat.

Hy gooi die eerste veerpyltjie en tref wit. Die vraag: watter tipe meisie of kêrel is jy?

Sharezaan sê sy’s die betroubare tipe wat ook baie liefdevol is. Nicole sê sy gaan voluit as sy toegewyd is aan iets (of iemand) en daar gaan nie ruimte wees om te wonder waar iemand met haar staan nie.

Die vraag oor hoe belangrik dit is vir jou pasmaat om lekker te kan vry, sorg vir ’n paar blosende gesigte. Vir Sharezaan is dit belangrik omdat dit deel is van ’n fisieke konneksie wat met iemand gevorm word.

Saambly voordat daar troubeloftes afgelê word? Nicole reken dis belangrik om te sien hoe iemand leef voordat daar tot trou oorgegaan word.

“Daar’s ’n verskil tussen saambly en saamslaap,” kom dit van boer Jacques en voeg by dat dit vir hom op die plaas baie moeilik is om ’n meisie beter te leer ken.

Van boer Jacques se antwoorde laat Sharezaan voel daar is beslis van haar eie vrae beantwoord.

“Ek dink net nie ons kliek nie. Daar’s net nie vir my een wat ek dink sh*t ons kliek en, daar’s ’n spark en ek wil haar graag ’n soen gee of so-iets nie”, sê boer Jacques nadat die veerpyltjies veilig weggebêre is.

Boer Quintus (39) van Winburg, Vrystaat

Die gesprek om die ontbyttafel wentel oor Marciel se skok-aankondiging dat niemand die vorige aand huis toe gestuur is nie. Ook boer Quintus erken hy kon nie sy ore glo nie.

Boer soek 'n vrou
Daar was spanning tussen Emsoné en Veronica in boer Quintus se kombuis… Foto: Skermgreep

Vir Ria is die atmosfeer anders, asof daar meer intensiteit aan die orde van die dag is. Waar daar voorheen nie veel daarvan gemaak is as iemand by ’n gesprek aangesluit het nie, sê sy daar is nou ’n gevoel dat daar van die kosbare tyd met boer Quintus gesteel word.

Boer Quintus sê Marciel se nuus het duidelik vir Veronica geskok, maar Ria is, soos altyd, die konstante een, net haarself. Emsoné is vir hom ’n bietjie meer emosioneel daaroor.

“Ek het amper ’n hartaanval gekry, maar ja, so ’n mens moet dit verwerk en dit het vir my ’n rukkie gevat om dit bietjie te verwerk,” vertel sy tydens ontbyt.

Sy noem ook dat daar spanning tussen haar en Veronica is wat in die kombuis ontstaan het terwyl hulle besig was om ontbyt te maak.

Marciel se teksboodskap onderbreek die ontbyt. Dis soortgelyk aan die een wat sy aan boer JW gestuur het.

“Veronica, Emsoné en Ria moet vandag op hul eie avontuur gaan. Hulle moet Marquard gaan verken. Hulle het ’n paar items op hul inkopielys: iets om te restoureer, iets om te eet en vir môreaand se braai moet hulle vir jou ’n nuwe hemp opspoor.”

Emsoné deel nie in die ander twee se opgewondenheid oor hul uitstappie nie en sê sy weet nie hoe sy Veronica uit haar gedagtes gaan weer nie.

“Dit gaan baie moeilik wees as ons twee agterbly,” kom dit van ’n bekommerde Emsoné.

Marquard

Die dorp se naambord heet besoekers welkom in die vriendelike dorp, maar van vreedsaamheid tussen Emsoné en Veronica is daar nie juis sprake nie.

Emsoné kan nie dink dat hulle by die winkel waar hulle instap, ’n hemp vir boer Quintus gaan raakloop nie. Maar toe stel sy voor dat hulle twee hemde koop – een wat glad nie boer Quintus se styl is nie, en een wat beslis ’n goeie kopie vir hom sal wees.

Hulle besluit dis ’n prettige idee om vir hom die onvanpaste hemp eerste te gee en eers later die regte hemp.

Tussendeur besluit Veronica dat Emsoné dinge te veel oordink en om vir haar spasie te gun om te doen wat sy moet doen. Ria besluit wyslik om nie by ander se emosies betrokke te raak nie. 

Die volgende taak wat op hul wag volgens Marciel se stemboodskap, is restourasie by Marco’s Restaurant, die plaaslike pizzeria . Hulle vind ’n paar stoele wat duidelik aandag nodig het. 

Veronica voel positief oor die dag weg van die plaas omdat hul iets ligter doen en die fokus nou op iets anders is.

Uit en tuis

Drie pizzas en ’n verinneweerde stoel kom saam met die drie dames terug plaas toe. Boer Quintus moet raai wie het watter pizza gemaak. Sy eerste raaiskoot is in die kol: Emsoné het die pizza met die baie “groen” gemaak, maar hy ruil Veronica en Ria se pizzas om.

Hy is baie gelukkig met die stoel wat hulle daar aangebring het vir hom om te restoureer. En toe’s dit tyd vir daai hemp . . . 

Die luiperdmotief met ’n v-nek is beslis die allerlaaste wat boer Quintus verwag het, maar hy is ’n bok vir sports en kort voor lank is die liederlike hemp aan sy lyf.

“Ek dink definitief ek gaan die enigste een wees by die braai met so ’n hemp,” laat hy droogweg hoor. Hy is baie meer opgewonde, en ook baie verlig, oor die ander hemp wat beslis beter by hom sal pas.

Wat maak Marciel daar?

Boer Quintus en Marciel. Foto: Skermgreep

“Ek weet julle is baie opgewonde, ek het julle lekker hoor lag,” sê Marciel aan die span wat heerlik aan die drie pizzas weglê. “Maar iemand gaan vanaand huis toe,” plaas sy ’n demper op die plesierigheid.

Sy wil eers eenkant met die dames gesels, maar voordat hy uitgaan het boer Quintus ’n geskenkie vir elkeen van die dames: ’n handgemaakte sweep wat hy self gemaak het. 

Emsoné erken sy was baie gespanne in die oggend en noem dat Vanessa probeer help het met iets, en dit het haar onder meer druk geplaas. Dit was vir haar ’n bietjie te veel.

Op haar beurt was Veronica onbewus van hoe Emsoné die oggend ervaar het. Sy wou haar eintlik net meer betrek het omdat dit voorgekom het asof Emsoné effe buite die kring was. 

Maar dis duidelik dat hierdie twee nie werklik langs dieselfde vuur kan sit nie. 

Ria, wat letterlik in die middel van die twee sit, sê sy hoor altwee se kant en besef daar’s emosies betrokke.

“Eintlik gaan dit glad nie oor die kombuis nie. Eintlik gaan dit oor dat jy [Veronica] graag meer tyd met Quintus wil hê en jy [Emsoné] wil ook graag tyd met Quintus hê. Nou fight julle oor die tyd wat julle met Quintus wil hê,” som sy die situasie op.

Wie bly en wie ry? Foto: Skermgreep

Boer Quintus kies

“Ek is tevrede met wat ek in my gedagtes het,” sê hy vir Marciel. Die draaipunt het vir hom gekom toe daar tydens die piekniek die vorige dag gesels is oor die gewilligheid van die dames om op die plaas te wees.

“Toe’t ek net besef in my vorige huwelik het ek net met my hart gedink. En hierdie keer moet ek ’n bietjie beter dink en ek moet bietjie my kop gebruik. Ek hoop nie ek maak ’n fout nie,” sê hy.

“So, die persoon wat vanaand huis toe gaan . . . Veronica,” kondig hy aan. 

Dis ’n betraande Veronica wat haar tasse moet pak. Foto: Skermgreep

Haar vertrek vul Emsoné met hoop.

“Ek is baie, baie, baie opgewonde om nóg meer van hom te sien, ja.” Maar Emsoné erken ook dat sy spyt is oor die manier waarop haar en Veronica se paadjies geskei het.

En Ria? Sy ervaar baie borreltjies wat opborrel oor die kans van nog ’n dag op die plaas.

Boer Quintus het eers vroeër die middag klarigheid oor sy keuse gekry en besef hy gaan ’n fout maak as hy haar op die plaas hou.

Veronica groet

Dis ’n betraande Veronica wat besig is om haar tasse te pak.

“Ek het nie geweet wat om te verwag nie. Daar’s ’n deel van my wat gedink het dat ons rêrig ’n sterk konneksie het, maar ek wil regtig hê hy moet die regte een vind en hy weet wie dit is.

“Ek het ’n bietjie gesukkel om te laat gaan van my eie drome, so ek dink dis net nog ’n leerskool.”

Volgende keer

Spanning en emosies loop hoog… Soos Marciel sê, wanneer dit by die liefde kom, wil die hart hê wat die hart wíl hê.


Boer soek ’n vrou (S16) word Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Episodes is ook op Catch Up ná uitsending beskikbaar. Ons recaps word weekliks ná afloop van die program, omstreeks 21:00, gepubliseer. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies