“Elke boer het ’n braai gereël waar sy vriende en familie die geleentheid gaan kry om die vroue te ontmoet en om hul eie idees oor die pasmaats te vorm,” sê Boer soek ’n vrou-aanbieder Marciel Hopkins. Sy kan nie help om te wonder of die vroue nog so gemaklik gaan voel na hierdie ontmoeting nie.
Boer Niel (30) van Dannhauser, KwaZulu-Natal
Dis tyd om ’n bietjie te speel op boer Niel se plaas. Daar’s ’n pyl-en-boog-speletjie en elke kleur op die teiken wat deur ’n pyl getref word, het ’n koevertjie van dieselfde kleur. Boer Niel tref gelukkig die teiken met sy eerste probeerslag en hy kry die wit koevert.
“Die speletjie vanmôre het my eintlik verbaas, wel, vir die twee vroue ook. Dis vrae . . . dis goed wat jy wil weet,” erken hy.
Mikal bevestig dat liggaamlike aantrekkingskrag tussen twee mense belangrik is, maar dat dit nie álles is nie. Sy het die vrae geniet, selfs al was sommige dieper vrae en ander snaakse romantiese vrae.
Hestia tref blou en die vraag wat daarmee gepaard gaan, handel oor eerste indrukke tydens die ontmoeting in Oudtshoorn.
“My eerste indruk van Mikal was – in Oudtshoorn het jy my vroeg verbaas. Soos, ek het heeltemal onderskat wat ek dink ek sou gesien het. En ek hou nog steeds meer en meer van wat ek sien.
“Met Hestia, die laaste dag of twee, het jy my ook baie begin verbaas. Ek het baie van jou begin leer wat ek nie geweet het is in jou nie. En ek is so bly dat julle twee aan die einde van die dag hiersô is,” sê boer Niel en erken hulle het heeltemal al sy verwagtinge oorskry.
Hestia sê boer Niel se video het vir haar baie nuuskierig gehad en dat hy as baie intelligent oorgekom het. Sy het ook gehou van die manier waarop hy praat en sê dat dit elke dag nog beter is om hom te sien.
Maar toe die vraag oor die belangrikheid van ’n goeie soen opduik, is hy baie gou om die antwoord te ontduik en sê dis die twee vroue se vraag om te antwoord.
Hy sê die vorige aand toe Aniska huis toe gegaan het, was vir hom bittersoet. Maar nou, met net twee op die plaas, is dit vir hom soet. Hy het na haar vertrek weer Hestia en Mikal se briewe gelees en beklemtoon aan hulle dat hulle twee beslis sy keuse sou wees om te bly.
“Ek het ’n opinie gehad dat een van hulle spesifiek baie, baie goed gaan inpas in my lewe – maar in die laaste dag en ’n half, twee dae, het die ander enetjie my ook baie begin verbaas en dit het my opinie bietjie begin verander. Nie oor die ander dame nie, maar hierdie enetjie het ek goedjies begin sien wat vir my dinge baie anders laat sien.
“Om eerlik te wees, ek kan altwee van hulle in my lewe sien,” erken boer Niel.
Dag 4: Nou word daar gebraai
Marciel kan nie help om te wonder of iemand ooit gereed kan wees om so baie mense onder hierdie omstandighede te ontmoet.
Mikal erken sy is opgewonde en ook baie senuweeagtig. Sy wil baie graag boer Niel se ouers en vriende beïndruk. Op haar beurt is Hestia bekommerd dat boer Niel se mense haar dalk nie in dieselfde lig gaan sien as hy nie.
Boer Niel het sy bes probeer om die twee op hul gemak te laat voel deur vir hulle te sê hy is klaar deur hulle beïndruk, en dis eintlik al wat tel.
Hy stel hulle aan almal voor as twee oulike meisies en sê later hy spog behoorlik met die twee omdat hulle so “great” is.
Boer Niel se neef, Marnus en sy vrou, Sanri, het net goeie goed te sê oor Hestia. Hulle dink sy sal goed inpas en sy’s baie ontspanne.
“Sy’s oopkop en sy’t nie moeilikheid nie,” se Marnus. En hulle voel dieselfde oor Mikal.
Karel en Angie, boer Niel se ouers, dink ook altwee vroue is baie aangenaam. Pa Karel is mal oor Mikal. Haar manier van praat besorg Mikal boonop ekstra punte.
Ma Angie dink Hestia is ’n bietjie meer spontaan as Mikal en sy dink boer Niel se lyftaal neig meer na Hestia se kant. As boer Niel onseker is, is sy ouers na dese nog meer deurmekaar oor wie hy gaan kies.
André, een van boer Niel se goeie vriende, erken ook dat daar een meisie is wat hulle bietjie meer verbaas het en hy dink sy gaan beter inpas by die familie. Vir hom is dit duidelik dat een van die twee ’n beter band met die familie gevorm het.
“Boerdery is nie maklik nie,” kom dit gewigtig van vriende Pierre en Theunis. “Jy’t goeie jare en jy’t slegte jare. En jou vrou moet by jou staan.”
Intussen draai Hestia nie doekies om terwyl sy met boer Niel se vriende gesels nie.
“As ek moet dink aan die man van my drome, dan sien ek vir Niel,” laat sy tot groot vermaak hoor. “Ja, ek is 100% in vir hierdie ding.”
Skoonsuster Nicole sê boer Niel het met hoë lof voorheen oor die een meisie gesels en dit het geklink of hy klaar gekies het, tot waar die ander meisie sy voete onder hom uitgeskop het. Broer Gulus stem saam. En hulle voel ook onkant betrap, want hierdie is ’n kinkel wat hulle nie verwag het nie.
Dag 5
Boer Niel en die twee vroue het ná afloop van die braai besluit om eers ’n fliek tuis te kyk. Maar die dag het sy tol geëis en ná 10 minute was almal uitgeknikker – tot waar Mikal almal rondom half-vier die oggend wakker gemaak het.
Hestia het vir boer Niel vertel sy sou nooit so vinnig iemand aan haar ouers voorstel nie.
“Jy moet eers rêrig weet jy wil saam met daai persoon wees voordat jy nou nog mense betrokke maak in jou verhouding,” sê sy.
Mikal voel benoud oor die uitstemproses maar wil graag haar laaste paar dae op die plaas geniet.
Boer Niel erken sy kop was die vorige aand nog op ’n 50/50-plek gewees, maar dat sy gevoelens van vroeër in die week nog nie werklik verander het nie.
Mikal erken dat sy baie hou van wat sy sien wat boer Niel betref en dat sy hom werklik van nader wil leer ken. Hestia besef altwee van hulle koester gevoelens vir die aantreklike boer.
“Die dame wat huis toe gaan, dink ek gaan seerkry,” sê Hestia.
Boer JW (24) van Villiersdorp
Mieke ervaar die atmosfeer op die plaas ligter as die vorige dag. Danelle vind dit vreemd dat Nevé nie meer daar is nie. Sy geniet egter ook dat daar net twee van hulle oor is.
Mieke voel dat die verhouding tussen Danelle en boer JW meer lighartig is, terwyl sy dieper wil beweeg en hom beter wil leer ken.
So tussendeur maak hy hulle touwys met die afskuur van ’n ou meubelstuk wat daarna geverf gaan word.
“Mieke het mooi verstaan rondom die afskuur en goeters, en sy het dit mooi hanteer. Met die verf, het sy dit ’n bietjie snaaks hanteer. Sy verf lekker dik en sy gaan sommer net tekere,” lag boer JW. En hy geniet ook die feit dat daar nou net twee vroue is wat in ag geneem moet word.
Danelle erken sy sien uit na die braai om mense te leer ken… En natuurlik ook ’n paar stories oor boer JW uit te vis. Mieke sê sy koester geen verwagtinge nie en dat sy iemand beter leer ken wanneer sy die ander mense in sy lewe ook leer ken.
“Ek voel ek is 100% seker oor die persoon wat ek huis toe gestuur het. Ek dink ek het die regte twee meisies nou aan my sy. Ek sien uit om met hulle nou die pad verder te vat,” sê boer JW.
Boer JW verseker die twee dat sy vriende hulle met ope arms gaan verwelkom omdat hulle al keelvol is om hom as die derde wiel aan die wa altyd saam te sleep.
Dag 4: Nou word daar gebraai
Boer JW hoop dat die twee heerlik gaan saamkuier met sy familie en vriende, en dat hulle net hulself sal wees.
Danelle voel gemaklik in die wete dat sy goed funksioneer tussen mense. Dis haar herlaai-plek en sy beskryf haarself as ’n ekstra-ekstrovert.
Mieke besef dis belangrik om nie net ’n goeie indruk op boer JW se ouers te maak nie, maar ook op die gaste teenwoordig. Sy is meer van ’n introvert maar het seker gemaak sy gesels een-tot-een met verskeie van die gaste.
Stefan en Carla, vriende van boer JW, is oortuig dat Danelle beter gaan inpas omdat sy meer sosiaal is en maklik is om mee te gesels. Tog voel Carla dat hoewel dit makliker is om met Danelle te gesels, Mieke die een is wat beter luister na wat gesê word.
Boer JW se pa, Johan, dink hulle is twee wonderlike mense en dis lekker om met hulle te gesels. Hy sê ondanks die bewering dat Mieke ’n introvert is en Danelle ’n ekstrovert is, kon hy dit nie tydens hul gesprekke agtergekom het nie.
Ma Isabel glo die twee kan vir boer JW op verskillende maniere aanvul.
“Mieke is ’n afgeronde dame, weet wat sy wil hê in die lewe. Twee uiteenlopende vroue,” kom dit van boer JW se vriend, Wian.
Sy oom Jaco beskryf Danelle as ’n fonteintjie en dat dit duidelik is sy kom van die Vrystaat af. Hy voel daar is iets spesiaal aan haar: “Daar’s ’n fontein in haar. Ek meen, dis soos in die water wat uit die rots gekom het met Moses. Daar’s lewe”. Hy keer ook gou om te sê dit beteken nie Mieke het nie lewe nie.
Boer JW se vriende Doré en Gerhard het ook die kans gehad om die twee van nader te leer ken.
“Ek wil nou niks sê nie, maar Mieke is bo Danelle, maar Danelle vul JW aan op ’n ander manier as Mieke,” sê Doré. En Gerhard dink al haar boksies word ge-check vir hul vriend.
“Dit wat ’n mens wil hê is nie altyd wat jy kry en wat jy nodig het nie. En ek dink Danelle sal hom meer uit sy comfort zone haal,” kom dit van sy vriende, Adelle en Hanru.
“Ek dink ek het baie hoop, en ek het positiewe hoop, vir die toekoms en ek sien uit. Ek kan amper nie meer wag om te sien wat die toekoms vir my inhou nie,” kom dit van hom.
Dag 5
“As ek na Danelle kyk, dan sien ’n mens hierdie vrolike meisie met baie selfvertroue. En al praat sy baie, as jy vir haar sê maar sy moet nou stilbly en luister, dan sal sy luister,” lag boer JW.
“Om so sterk te voel oor JW, maak my ’n bietjie bang. Dit is iets wat ek nog nooit gevoel het nie. En ek het nie gedink dis moontlik om in so ’n kort tydjie sulke sterk gevoelens teenoor ’n persoon te hê nie,” erken Danelle.
“As ek vir Mieke kyk, sy is hierdie koel en kalm persoon, maar sy luister baie mooi,” sê boer JW.
Sy voel rustiger ná die vorige aand en asof sy vir boer JW meer kan vertrou en meer van haarself met hom kan deel.
“Ja, waarvoor ek maar die meeste bang is, is daai deel dat hy my nie aanvaar nie. So, dis al deel hoekom ek maar net ’n bietjie terughou,” verduidelik Mieke.
Boer Quintus (39) van Winburg, Vrystaat
Daar’s nie blaaskans op die plaas nie. Ria en Emsoné stap ewe knap met hul swepe in die hand en help vir boer Quintus om sy beeste kraal toe te jaag.
Emsoné voel die dag is baie rustiger ná Veronica se vertrek die vorige aand. Ook Ria voel meer verlig, veral omdat sy haarself nie meer in die middel van die twee en hul emosies bevind nie.
Met die koeie in die kraal, word Ria byna-byna deur ’n wegbreek-koei getref. Maar sy het kalm gebly en net eenkant toe getree. Boer Quintus kon nie glo hoe goed sy die situasie hanteer het nie.
“Dis maande en jare se wag vir iemand om weer die plekkie langs my in te neem. ’n Ding waarvoor jy gewag het, waardeer jy baie meer as ’n ding wat jy net gekry het,” kom dit van hom.
Dag 4: Nou word daar gebraai
Terwyl die donderweer dreun, wil boer Quintus by die vroue weet wat hulle taktiek vir die aand se braai gaan wees.
Ria sê sy sien uit daarna om te sien hoe boer Quintus tussen sy vriende optree. Sy self voel al hoe meer gemaklik op die plaas en kan haarself daar sien inpas.
Op haar beurt wil Emsoné net haarself wees sodat sy familie en vriende kan sien wat hy in haar raakgesien het. En soos Ria, voel sy dat sy kan inpas by die leefstyl op die plaas. Saam met boer Quintus, natuurlik.
Hy vestig sy hoop op nog reën want die afgelope twee maande het daar nog nie ’n druppel geval nie. Sy mielie-oes is feitlik tot niet. Hy is nie seker of hy sy beeste moet instuur of die stroper nie. Maar die vasberade boer glo daar’s altyd ’n plan om te maak.
“Hier op die plaas moet jy maar bietjie buite die boks dink,” sê hy met die hoop dat Rina en Emsoné dit ook besef.
Hy is baie opgewonde oor die braai-vooruitsig om weer sy vriende en familie te sien, en die belangrikste persoon van almal: sy dogtertjie, Reeza.
Vir Ria is dit intimiderend om die stoor in te stap waar die braai plaasvind – en soveel gesigte te sien. Sy sê nadat boer Quintus hulle voorgestel het, het hy hulle “vrygelaat” om self verder die mense te leer ken.
Ook boer Quintus se ouma Ria is daar om die twee te ontmoet. En sy ouers, Kobus en Marisa, vertel dat Reeza beslis ten gunste daarvan is dat haar pa weer iemand in sy lewe kry.
“Sy is gereed. Sy wil sien haar pa het iemand vir wie hy weer kan lief wees,” kom dit van Marisa.
Boer Quintus se broer, Stephan, en skoonsuster, Natashia, beskou Emsoné as lekker spontaan. Dit help ook dat sy van die Vrystaat is en boerdery-agtergrond het omdat haar pa ’n boer is.
Op haar beurt onthou Ria van vakansies op haar ouma-hulle se plaas in die Karoo. Maar sy besef dis anders om op ’n plaas te kuier as om daar te bly.
Nog vriende, Christo en Marguerite, sê hulle kry die gevoel dat Ria gemaklik is met wie sy is en dat sy niks nodig het om te bewys nie. En dat sy daardie selfde kwaliteit in boer Quintus sien.
Boer Quintus se broer, JP, sou graag vir Ria en Emsoné in een bottel wou pas en vir sy boet sê dit is die hele pakket wat by hom sal pas.
Maar wat is ’n regte egte plaas-braai in ’n skuur dan as daar nie gedans word nie? En boer Quintus se danspassies laat Emsoné se kop heeltemal draai van lekkerkry.
En Ria? Haar gevoelens vir dié planmaker-boer versterk met elke sekonde.
Boer Daandré (26) van Brits, Noordwes
Lize-Mari het verlede week huis toe gegaan. Nou is dit Elizette en Marisca wat ontbyt op die plaas saam met boer Daandré geniet. Hy terg vir Elizette met tamaties op haar bord, en sy lag.
Ja, vreemd genoeg het sy vir ’n tamatieboer geskryf, maar self hou sy nie werklik van tamaties nie!
Boer Daandré gaan ’n ooreenkoms met haar aan: sy eet ’n stukkie tamatie en hy sal ’n olyf eet – iets waarvan hy nie hou nie. So gesê, so gedaan. Dis duidelik dat nie een van die twee weer dieselfde ooreenkoms sal aangaan nie.
“Ek kan definitief ’n paadjie vorentoe sien met enigeen van julle. En ek sê nog die heeltyd dit gaan klein goedjies wees wat op die einde van die dag die groot verskil gaan maak.” deel hy die twee vroue mee.
Hy neem hulle na die pakhuis waar die tamaties gestoor en verpak word. Die twee word uitgedos in ’n rooi oorpak met haarnette.
Tussendeur voel boer Daandré gemaklik met die wete dat enigeen van die twee die pad vorentoe saam met hom kan aanpak.
Volgende week
Die braaivleisvure brand hoog op die oorblywende plase en die boere kom al nader aan die groot keuses wat geneem moet word.
Boer soek ’n vrou (S16) word Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Episodes is ook op Catch Up ná uitsending beskikbaar. Ons recaps word weekliks ná afloop van die program, omstreeks 21:00, gepubliseer.