Menu terloops
In Gons [31 Okt 2023]

‘Boer soek ’n vrou’: Boer André besluit dis tyd vir liefde  


Die top-tien boere wat in die volgende seisoen van kykNET se gewilde ‘Boer soek ’n vrou’ ’n liefdesmaat wil vind, is onlangs aangekondig. Hier vertel André meer van homself.

‘Boer soek ’n vrou’: Boer André besluit dis tyd vir liefde  

André, ’n 31-jarige boer van Modimolle (voorheen Nylstroom) is een van die tien boere wat liefde in die 16de seisoen van kykNET se maatsoekreeks Boer soek ’n vrou wil vind.

André, ’n boorling van Pretoria, se gemengde boerdery sluit vee, wild en pekanneute in. Sy oupa het ’n plaas gehad by Bokfontein, en dit is waar die kannetjie van toentertyd feitlik elke naweek deurgebring het. Dit was daar waar sy liefde vir die Bosveld en die bos ontstaan het. 

Boer soek 'n vrou
André boer in Modimolle en het ’n groot liefde vir die bos. Foto: Verskaf

Vier jaar gelede het hy en sy pa saam begin boer nadat hy sy graad in ingenieurswese behaal het. Hy benut sy graad steeds, en boonop het hy en sy pa ’n internet-tegnologiemaatskappy tot stand gebring. Tussen alles deur kry hy kans vir sy gunstelingsport, gholf. Visvang, reis en altyd iets nuuts is wat hom aan die gang hou. 

André is baie trots op sy pa by wie hy soveel geleer het – van gholf tot houtwerk en hoe om selfstandig te wees. Hy voel dat hy reeds baie van sy persoonlike mylpale bereik het. Hy het sy graad, ’n werk wat hy geniet, en dinge val mooi in plek vir hom.

Volgende mylpaal

“My volgende groot mylpaal is om te trou en kinders te kry,” vertel André. Hy het onlangs oom geword, en hy voel hy is nou op die regte plek om alles in die lewe met iemand te deel.

Hy het nie ’n vooropgestelde idee van hoe sy moet lyk nie, maar hy weet dat sy vir hom mooi sal moet wees. 

“Ek hoop dat sy my sal kan aanvaar deur vir my te kan lag, maar ook vir haarself te kan lag. Sy moet gemaklik wees in haarself en geduldig met ander.”

André erken dat hy soms koppig en ook hard op homself kan wees.

“Ek kan partykeer ’n toe boek wees, en ek maak nie maklik oop nie.”

Maar daar is ook die ander kant van dié doelgerigte jong boer. Hy is betroubaar, hardwerkend en eerlik. André sê voorts hy sal ’n gelukkige mens wees as hy net die helfte so ’n goeie mens en man is as wat sy ouma hom vertel hy is. Hy is ook iemand wat familie- en vriendgedrewe is.

Boer soek 'n vrou
“Ek was nog nooit verlief gewees nie, of ek dink nie so nie,” sê André. Foto: Verskaf

Uit sy gemaksone

Dit was juis danksy sy vriende se aanmoediging dat hy uit sy gemaksone getree het deur vir Boer soek ’n vrou in te skryf. Hulle het vir hom gesê ’n meisie gaan nie sommer net by die voordeur op die plaas opdaag nie. Nou hoop hy hierdie stap gaan hom help liefde vind.

“Ek was nog nooit verlief gewees nie, of ek dink nie so nie,” verklap hy.

Tog glo hy dat hy wel romanties kan wees as die geleentheid hom voordoen. En op die plaas is daar baie geleentheid en plekke om juis meer romanties te wees.

“Om romanties te wees is om die ander persoon eerste te stel en uit jou pad te gaan om vir haar iets lekkers te doen. Dit sal vir my lekker wees as my pasmaat ook ’n liefde het vir die plaas en belangstel om in die plaaslewe te deel. Maar ’n mens soek iemand wat ook ambisie het, ’n plan vir die lewe en hul eie mylpale.

“Kinders is definitief op die horison. Ek het altyd gesê as ek nie ’n vrou kry nie, ek ’n kind sal aanneem, want ek het ’n groot liefde vir kinders.”

André is ook seker dis nou die regte tyd om iemand te vind.

“Ek het myself lank genoeg in ’n hok toegesluit – as ’n mens dit so kan sê – en ek is nou reg om uit te klim. Ek is reg om oop te maak, en indien dit gebeur, is ek reg om seer te kry ook.”

Wil jy vir ’n boer skryf?

Persone wat die boere beter wil leer ken, kan dit op een van die volgende maniere doen: 

  • Skryf in op kykNET se webtuiste by www.kyknet.tv
  • Besoek die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER
  • Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229
  • Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
  • Die sluitingsdatum vir briewe is teen middernag op 30 November 2023.

Wanneer is dit op die kassie?

Marciel Hopkins bied vir ’n vierde keer Boer soek ’n vrou aan, en dié maatsoekreeks sal van Julie 2023 op kykNET uitgesaai word. Kykers sal dan die boere se liefdesreis kan volg, en die reeks, wat uit 13 episodes bestaan, sal oudergewoonte fokus op die vyf boere wat die meeste briewe ontvang het.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer
Sien alle opsies