Menu terloops
In Recaps & Resensies [5 Jun 2025]

‘Die brug’ S2: ’n Maalkolk van hoë emosies – áls wat jy na episode 5 moet weet


In die vorige episode van ‘Die brug’ S2 het Luwellen eers die ondersteuning van sy leierskap gehad, maar het hy dalk sy hand oorspeel? Dinge is besig om al taaier te raak in ‘Die brug’.

Deur Annelene Oberholzer

Kyk 'Die brug S2' op DStv Stream

‘Die brug’ S2: ’n Maalkolk van hoë emosies – áls wat jy na episode 5 moet weet

Gaan iemand se frustrasie dalk die oorhand kry op Dag 5 van Die brug? Die teiken is om met 100 vlotte ’n 200 m-lange brug na die eiland te bou. Nie een van die spanne het tot dusver hul teiken gehaal van 10 vlotte per dag nie en dis nou al die vierde dag van bou . . .   

Skote word afgevuur

By Noordhuis is dit medeleier Roscoe wat sukkel met iets wat hom swaar op die hart lê – en dit het met leierskap te doen. Maar terwyl hy daaroor met die span probeer gesels, word dié oomblik deur die lughoring onderbreek. Dis tyd om hand aan die ploeg te slaan, óftewel ’n vlot in die water te kry. 

Maar Roscoe wil sy hart uitpraat. Nou. En Lelani en haar lysie wat sy opgetrek het toe sy die waarnemende speler was, is in die visier. “Ek voel net jy kies vir jou die maklike werkies uit en dan kom jy met ’n lysie om al die ander mense te judge.”

Ná ’n lang relaas kondig hy aan dat Lelani tuis moet bly en kos op die vuur buite vir almal moet maak. En dat hy nie gaan bou nie, hy is siek. Oepsie, is hy besig om sy eie brug te verbrand? 

‘Ek sien myself net as belangrik’

Die brug
By Noordhuis is dit medeleier Roscoe wat sukkel met iets wat hom swaar op die hart lê. Foto: Skermgreep

Roscoe vertel dat hy in ’n baie streng huis grootgeword het. “Vir my was dit altyd, ja – ek weet nie, vir een of ander rede . . . Ek sien myself net as belangrik”.

Hy erken hy is gek oor die kollig en dat hy geskiedenis gemaak het in sy streek toe hy die eerste bokstoernooi daar aangebied het. Dit was vir hom ’n baie groot oomblik toe hy in sy pak voor die toeskouers kon staan, want dít is vir hom sy beloning. “Ek skep die hele platform, net vir my om oor die mic [te praat] – dís eintlik al wat ek daaruit kry.”

Nadat hy standerd 9 gedruip het, het hy besef hy moet die lewe ernstiger opvat. Later het hy ’n meisie ontmoet en hulle het saam ’n dogtertjie gehad. Maar op ’n dag het die dogtertjie vir hom vertel daar’s ’n ander man wat daar kom en beweer hy is eintlik haar pa. DNS-toetse het toe wel bewys dat dit nie Roscoe kind was nie, al noem sy hom steeds “Daddy” wanneer hy haar sien.

Hy vertel dat drank sy volgende stap was, soveel so dat hy sy motor afgeskryf en sy werk verloor het. Wat hom nou aanspoor om sy lewe beter te benader, is sodat daai dogtertjie wel eendag kan sê “dit was my pa gewees”. Terwyl die emosies oorhand kry, erken Roscoe hy voel soos ’n mislukking en dis hoekom hy so hard probeer om bo uit te kom. “Ek voel soos daai voorbeeld maak van ’n bak krappe. Een wat wil uitkom, die ander krappe trek jou af.” 

Sy grootste droom is net om aan mense te bewys dat hy nie ’n mislukking is nie . . .

Waarnemende speler

Dis Hilana wat vrywilliglik Suidhuis se werfhoender gaan wees vir die dag. “Ek gaan nie my ou self wees en net die bul by die horings gryp en go for it nie,” sê sy. Want Hilana speel met ’n plan. Sy wil ook die brug tussen haar en die spelers oop hou.

Die brug
Hilana is vrywilliglik Suidhuis se werfhoender vir die dag. Foto: Skermgreep

Soos wat die titel aandui, word daar van die speler verwag om waar te neem. En dis presies wat Hanri gedoen het toe sy die eerste waarnemende speler was. Dis duidelik dat Luwellen se manier van praat met mense haar nie aanstaan nie. Melissa is dit eens met Hanri en sê dis duidelik dat Luwellen hom van haar distansieer nadat hy die vorige dag deur haar oor die kneukels geraps is.

Beseringstyd

By Suidhuis sukkel Jaco met laerugpyn. Hy erken hy voel ’n bietjie gedreineer en dat sy spanlede hom aanmoedig om dit rustiger te vat om te herstel. Maar dis iets waarmee hy sukkel. “Ek dink ek moet daai binnekant van my ’n bietjie werk om myself ’n bietjie spasie te gee om net te ontspan en te glo dat ek hulle [die span] nie teleurstel nie.”

Die brug
By Suidhuis sukkel Jaco met laerugpyn. Foto: Verskaf

Die stilte ná die Roscoe-storm

Die spanlede sukkel nog om te verwerk wat vroeër rondom die ontbyttafel plaasgevind het toe Roscoe ’n lang spreekbeurt gehad het waarin dit duidelik was dat hy Lelani as medeleier wou aanvat. “Ons sal almal saamstem, daai was ’n klomp k*k,” kom dit pront van Tiaan. Op haar beurt glo Lelani sy is wel ’n konsulterende leier. 

Anesca voel sy het al haar respek vir Roscoe verloor: “Dit was lelik, die manier waarop hy gepraat het.”

Is daar dalk ’n nuwe vriendskapsbrug aan’t gebeur? Dit wil voorkom asof Lelani se wantroue in Wilhrisca besig is om te taan en die twee werk lekker saam. Maar die geel mes wat in die vorige episode weggeraak het, is nog steeds ’n hindernis om volle vertroue in Wilhrisca te vestig.

Nog skote word afgevuur

Met Luwellen se optrede die vorige dag waar hy sy speelgoed bietjie rondgegooi het omdat die span volgens hom te stadig bou en hulle minder vlotte as Noordhuis op die water het, is dinge by Suidhuis op wankelrige bene. Jaco voel dat hulle nie goed genoeg doen in Luwellen se oë nie. 

“Daar’s baie verskonings gegooi van sy [Jaco] se rug. Ons is nie hier vir ’n hospitaal nie. Ons is nie hier vir ’n vakansieoord nie. Ons is nie hier om holiday te hou nie. Ons is hier om ’n brúg te bou,” vuur Luwellen die skote af. Vir hom is Jaco die speler wat die meeste kla.

Die versoeking wink

Terwyl Roscoe woel en werskaf by Noordhuis, daag daar ’n verrassing op – ’n nota wat hom uitnooi om dit te lees.

Die keuse word duidelik uitgespel: R10 000 om vir homself te vat óf voorraad vir ’n heerlike plaasontbyt met spek, eiers, wors en varsgebakte brood. Kykers sal onthou dat Wilhrisca ’n soortgelyke keuse tussen geld en koffie moes maak. Sy het die geld gekies. Só ook Roscoe…

Die brug
Roscoe het die R10 000 vir homself gevat. Foto: Skermgreep

Wat gaan Hilana kies?

By Suidhuis is dit Hilana wat die onverwagte nota ontvang. Sy het besef daar gaan ’n keuse kom, maar wat op haar wag is nog meer verleidelik as dié van Roscoe. Hannes het die koffie bo die geld gekies, en die R10 000 wat hy nie gevat het nie, word nou by dié nota se kontant gevoeg. 

Gaan Hilana nee sê vir R20 000? Inderdaad! En sy stort ’n paar trane voordat sy verder middagete voorberei.

Die brug
Hilana het trane gestort nadat sy nie die R20 000 gevat het wat aan haar aangebied is nie. Foto: Skermgreep

‘Ietsie wat lig is’

Tydens middagete is Hilana slaggereed om met die span te gesels. 

“Ek weet nie hoe swaar julle dra vandag nie, maar ek wil vir julle ietsie gee wat lig is,” en daarmee lees sy voor wat sy van elkeen dink. Dat haar woorde elkeen diep getref het, is duidelik. Sommige oë word waterig, en selfs Luwellen, die man wat half die vieste in is vir almal, is vir eens sonder woorde . . .

Die brug
In dié episode vind kykers meer uit oor hoe Luwellen weer sy pad gevind het na ’n diepe besef van wat die waarheid nou is. Roerende tonele. Foto: Skermgreep

Hy verlaat die groep en gaan staan eenkant. “Ek het altyd gevoel op skool was ek die benchwarmer, die mannetjie wat laaste gekies word. Altyd. Maar niemand het my hart rêrig gesien wat ek kan doen nie.

“My ma was ’n domestic werker. Arm grootgeraak. En ek was die enigste seun in die familie wat matriek geslaag het. Ek het klaargemaak met skool en ek het ’n besigheid gehad wat baie winsgewend was. Almal het my geken. I was the man. Or I thought I was the man . . .

“My bynaam was Kopbeen. Hulle het my genoem die mooi skollie. Altyd in die moeilikgyt, maar nooit in die tronk. I was ugly. Ek het die morale vergeet. Geld het gemaak dat ek vergeet het.

“2009 vat die Here alles van my af weg. Dit was ’n Maandag. Die skuldeisers . . . hulle dra ons huis léég, soos in leeg. Ek hoor my vrou huil,” en toe oorweldig die emosies vir Luwellen. 

Vind uit hoe hy weer sy pad gevind het na ’n diepe besef van wat die waarheid nou is. En hy glo sy eie brug, sy hartbrug, het die vorige dag begin vorm aanneem.

Hou maar ’n wag voor die mond in plek

Roscoe, ten spyte van sy dapper apologie aan Lelani, is nog lank nie uit Noordhuis se hondekas nie. Inteendeel, dis asof daar elke keer nog ’n spyker ingeslaan word. En baie diep boonop.

Die brug
“Vrouens is sterk . . . dis nie altyd ‘mannekrag’ [wat dinge laat werk] nie,” is Leilani se mening. Foto: Skermgreep

Rechaux kry bevestiging van haar vermoede by Lelani – en dit was dat Roscoe inderdaad haar wou uitstem op Dag 1. Sy rede was dat hy gedink het Johan en Tiaan is sterk manne en dat Rechaux die swakste skakel was. Praat van vet op die vuur! Die meisies is ontsteld want hoe durf Roscoe dink dat hulle nie hul kant kan bring nie? En Lelani som dit mooi op: “Vrouens is sterk . . . dis nie altyd ‘mannekrag’ [wat dinge laat werk] nie.”

By Suidhuis gaan dinge nie veel beter nie. Luwellen is weer die sondebok, dié keer omdat hy van die planke op die dek neergegooi het. Melissa wonder of sy hom weer moet aanspreek of gaan hy “hom weer wip soos ’n kind?”.

Twee ander spelers voel Luwellen het twee onsensitiewe opmerkings gemaak. Veral Hirome voel sterk daaroor dat die opmerkings wat hy teenoor hom en Jaco gemaak het, naamlik dat Die brug nie ’n hospitaal of ’n oord is nie, was ongevraagd.

Onverwagte fakkel 

Kort ná die lughoring die einde van hul werksessie aangekondig het, word daar by altwee die houthuise ’n fakkel in die lug gewaar. Tiaan kan nie help om te wonder of dit hierdie keer dalk slegte nuus gaan bring nie.

Durand is die een wat by Noordhuis die pos-kan oopmaak, terwyl Hanri by Suidhuis die gewigtige taak hanteer. Daar’s twee briewe in elke pos-kan. Die eerste een is vir die leiers.

 “Hoe voel julle oor julle medeleiers? Watter leier staan uit? Wie van hierdie twee leiers sal julle verkies om die verantwoordelikheid alleen oor te neem?” En dan moet daar gestem word voordat die tweede brief voorgelees kan word. Terwyl die stemmery seepglad by een van die houthuise verloop, kortwiek ’n gelykop-telling die proses by die ander houthuis.

Die herhalende gelykop-telling noop daardie houthuis se span om ’n dramatiese stap te neem: Die leiers moet onder mekaar besluit wie gaan bly en wie gaan gly.

Die brug
Dié twee leiers moes onder mekaar besluit wie gaan bly en wie gaan gly nadat die stemproses heeltyd gelykop geëindig het. Foto: Skermgreep

’n Skokkende kinkel

Terwyl die eerste brief duidelikheid oor leierskap gebring het, is die tweede brief se boodskap die een wat die spelers geheel en al onkant betrap. Dis ’n oorverdowende stilte wat heers nadat die brief voorgelees is. Iemand moet huis toe gaan… Die medeleier wat nie gekies is nie.  

“Dit was regtig ’n rowwe oomblik,” sê Noordhuis se Johan en erken dat hy byna vir die eerste keer besef het hierdie is nie speletjies nie. “Hierdie is ernstige goed, dis emosionele goed. Goed kan drasties skielik verander. Dit was nogal ’n skok op die sisteem.” 

By Suidhuis weet die inwoners nog nie wat op hulle wag nie – daai skok en drama kom in volgende week se volgende episode… Sjoe. Kry die tissues reg…

Vlot-telling

Suidhuis het nog 77 vlotte om te bou en Noordhuis het goed ingehaal. Hulle het not 78 vlotte wat te water gelaat moet word. En nie een van die twee spanne is naby die teiken van 10 vlotte per dag nie.

Volgende week:

 “Almal se harte het gebreek,” erken Jaco nadat een van hul spanlede moes groet. Minder spelers, baie vlotte wat nog gebou moet word . . . En dan weer ’n fakkel wat die spanne se fragiele roetine befoeter.


Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies