Oor die afgelope paar weke het daar etlike dramatiese tonele in die Afrikaanse uittog van Showmax se gewilde The Mommy Club-franchise, The Mommy Club: Van die hoofstad, afgespeel. Kykers het skaars die reeks se vyf Afrikaanse ma’s van Pretoria – Johandri Johnson, Ansu Viljoen, Crystal Van Der Burgh, Louise Volschenk en Tessa Tullues – ontmoet, voordat die vonke begin spat het. Soveel so dat dié realiteitsreeks nou die mees gekykte Afrikaanse reeks op Showmax is sedert dié platform se vernuwing.

’n Aanbieder vir die reünie-episodes van die reeks moes dus met sorg gekies word. “Ons het Leandie (du Randt) gekies omdat sy ’n uitsonderlike aanbieder met jare se ondervinding in die vermaaklikheidsbedryf is,” sê Lea Knoesen, uitvoerende vervaardiger by POP24, oor hul keuse.
Leandie het ook Love Island South Africa aangebied en is as sulks bekend met die drama wat met realiteitstelevisie gepaardgaan.
Dié reünie première op Vrydag, 27 Junie 2025, met ’n tweede aflewering op Vrydag, 4 Julie 2025 op Showmax.
Leandie vertel hier meer oor wat mense kan verwag en hoe sy die reünie benader het.
Hierdie is nie jou eerste uittog as die aanbieder van ’n realiteitsreeks nie – hoe voel jy oor die geleentheid om dié reünie aan te bied?
“Dit is altyd ’n eer om as aanbieder gekies te word. Ek voel werklik bevoorreg om met hierdie vroue se harte en kwesbaarheid vertrou te word. Dit verg baie om jouself op TV te plaas, en ek hoop om hul sterkpunte uit te lig, nie net die negatiewe goed waarop die publiek dalk nou fokus nie.”
Hoe het jy besluit om aanbiederstaak te benader – vanwaar die inspirasie vir jou aanslag?
“Ek glo daaraan om getrou te bly aan wie ek is en hoe ek dinge benader. My fokus was om die program en die inhoud daarvan van binne en buite te ken, en nou saam met die produksiespan en regisseur te werk.
“Die belangrikste is egter om met ’n oop hart in te gaan en werklik te luister. Wanneer jy luister om te verstaan, eerder as om te oordeel, kom jou reaksie uit die hart, nie die kop nie – en dís waar die towerkrag lê.”
Hoe beplan jy om alles by die reünie aan te spreek?
“Soos Switserland! Ek is iewers tussen Dr. Phil en Judge Judy.
“My doel is om hulle te help om dinge vanuit mekaar se perspektiewe te sien, terwyl hulle steeds vasstaan in dit wat hulle glo die waarheid is.
“Ek is ook daar om die gesprek te lei. Dit gaan nie oor my nie; dit gaan daaroor om vir hulle die ruimte te skep om hul waarheid te deel. Terselfdertyd hoop ek om ook as ’n stem vir die publiek te dien.”
Die belangrikste is egter om met ’n oop hart in te gaan en werklik te luister. Wanneer jy luister om te verstaan, eerder as om te oordeel, kom jou reaksie uit die hart, nie die kop nie – en dís waar die towerkrag lê.
Leandie du Randt
Wat is van die grootste punte wat jy wil aanspreek?
“Hierdie seisoen was so dramaties; daar is baie om aan te spreek. Van die dringende onderwerpe is die Johandri- en Ansu-sage, die mom-shaming-kwessie, ál die drama, en natuurlik die hele bosveld-situasie.”
Wat kan kykers van die reünie verwag?
“Kykers kan baie eerlike gesprekke verwag oor wat werklik op kamera, en selfs agter die skerms, gebeur het. Daar het intussen tyd verloop, maar noudat hulle vir hulself op die skerm gesien het, sal emosies rou wees. Daar sal trane, gelag, skokke en beslis ’n hele paar argumente wees.”
Hoe het al die drama jou voorbereiding beïnvloed?
“Dit het my oor my eie lewe laat besin. Dít het vir my ruimte gegee, maar ook daaraan herinner om geanker te bly. Soms besef ons nie hoe ons vir ander oorkom totdat ons onsself objektief sien nie.
“Ek dink baie van hierdie vroue se bedoelings was anders as hoe dinge uiteindelik uitgespeel het. Dit sal ’n spieël vir hulle wees, en hopelik ook vir die kykers, om te stop en te besin oor wie hulle hulself mee omring, hoe hulle hulself uitdruk, en of die ontvangs daarvan dan strook met hul bedoelings.”
Voel jy dat dié reeks van die dinge weerspieël wat in Afrikaanse gemeenskappe gebeur?
“Ongelukkig, ja, tot ’n mate. Maar ook, hierdie dinge gebeur in alle gemeenskappe.
“Vir my gaan dit meer oor wat kan gebeur as jy omring word deur die verkeerde mense, of net mense wat nie jóú soort mense is nie. In Afrikaans sê ons, ‘Mense wat nie jou dam se gans is nie.’ Dit was nog altyd vir my belangrik om myself te omring met mense met wie ek nie omgee om lewens te ruil nie. Jy word soos die vyf mense met wie jy die meeste van jou tyd bestee, so kies jou binnekring baie versigtig.”
Wat hoop jy om by die reünie te bereik?
“Ek wil hê die vroue moet voel dat hulle die geleentheid gehad het om hul waarheid te deel. Ek hoop hulle voel gehoor, nie geoordeel nie. Meer as enigiets anders wil ek hê hulle moet wegstap met die wete dat daar skoonheid in elkeen van hulle is.
“Dit gaan daaroor om die regte mense rondom jou te kies sodat jou ware toorkrag kan skyn. Of hulle wel mekaar se mense is, weet ons nog nie. En as hulle nie is nie, is dit ook oraait. Ek dink ’n groot teken van volwassenheid is om te kan verskil van mekaar, terwyl jy steeds respek en vriendelikheid toon.”
Die reünie première op Vrydag, 27 Junie 2025, met ’n tweede aflewering op Vrydag, 4 Julie 2025 op Showmax.
The Mommy Club: Van die hoofstad is op Showmax beskikbaar om te stroom.
Kyk ook vorige seisoene van The Mommy Club op Showmax.