Menu terloops
In Recaps & Resensies [29 Mei 2025]

‘Die Brug’ S2: Nuwe spelers, wantroue en frustrasie – als wat jy ná episode 4 moet weet


Gaan die krapperigheid tussen twee spanlede dalk die bootjie laat sink in die nuutste episode van ‘Die brug’? En hoe gaan een leier dit regkry om handjie by te sit met vlotbou as sy heeltyd seesiek raak? 

Deur Annelene Oberholzer

Kyk 'Die brug S2' op DStv Stream

‘Die Brug’ S2: Nuwe spelers, wantroue en frustrasie – als wat jy ná episode 4 moet weet

Dis Dag 4 op Die brug en die derde dag van vlotbou as die nuwe episode van dié reeks begin. 

Waarnemende speler

In verlede week se episode het die opdrag gekom dat daar elke dag een speler van elke span moet uitsit. En elke dag moet dit iemand anders wees wat op die werf agterbly en op geen manier deel van die konstruksie van die vlotte kan wees nie. 

By Suidhuis is dit Hanri wat in hierdie episode hand opsteek om die waarnemende speler te wees. Sy voel dat vier mans en twee dames die sterkste kombinasie gaan wees om die vlotbouery nog vlotter te laat verloop.

Die brug, episode 4
Hanri was dié keer die waarnemer by Suidhuis. Foto: Skermgreep

Lelani word deur die groep gekies om tuis te bly en kos te maak. Maar een en een maak nie twee vir Wilhrisca nie. Lelani sukkel met seesiek, sy het pilletjies daarvoor, maar sy drink dit nie. “Daai Wiskunde wiskunde nie in my kop nie,” sê sy. 

“Nuwe besem” vee dalk wel skoner

Tydens die vlotbouery kom Wilhrisca na vore met ’n goeie idee en die span gaan akkoord daarmee. Johan is egter nog nie seker oor haar nie. Wil sy, of wil sy nie, deel van die span wees nie? Hy besef wel dit moes vir haar moeilik gewees het om by ’n nuwe span aan te sluit nadat sy op Dag 1 deur die spelers van Suidhuis uitgestem is. 

Maar Rechaux is baie beïndruk met Wilhrisca se vernuf. “Vir die klein mensie wat sy is, het sy regtig hard gewerk. Sy het haar brein ook smart gewerk en daar was ek en sy dieselfde. Hoenders van eenderse vere, ja.”

die brug S2 kyknet
Hulle is voëls van eenderse vere, meen Rechaux oor haar en Wilhrisca. Foto: Skermgreep

Agter die kap van die byl

Luwellen en Hilana sit beslis nie langs dieselfde vuur nie. Reeds met die eerste dag van vlotbou was dit duidelik dat sy hom verkeerd opvryf omdat sy elke ding bevraagteken.

Op Dag 2 van vlotbou gaan dit vir Hilana daaroor dat sy haar vrees vir byle moet oorbrug. Luwellen se frustrasie hoop op want hy voel onnodige tyd word gemors om Hilana te leer om iets te doen, soos byvoorbeeld om die tou met ’n byl te kap. 

Die brug S2, kyknet
Hilana en Luwellen kan net nie vat aan mekaar kry nie. Foto: Skermgreep

Hannes dink Luwellen is ’n ongelooflike voorman met soveel vaardighede. Maar, sê hy, daar moet gewaak word daarteen dat daar op ander mense se tone getrap word. “Jou body language, eish!” is hoe hy die situasie opsom.

Leier of volgeling?

In Lelani se afwesigheid val die volle verantwoordelikheid van Noordhuis se leierskap op Roscoe se skouers. Maar die kommunikasie tussen hom en twee van die spelers duik in die hek. Rechaux dink nie sy’t al enige tekens van leierskap by hom gewaar nie. Johan het ook sy bedenkinge oor wat hy as “impulsiewe leierskap” beskou. Op sy beurt voel Tiaan dat hy en Roscoe lekker saam kan werk, maar mensgewys is hy wat Tiaan is die skaaphond en Roscoe is by die beeste . . . “Ek dink hy soek instruksies, hy kan nie instruksies gee nie.”

Roscoe het ongelukkig nie veel vertroue as leier ingeboesem nie. Foto: Skermgreep

By Suidhuis wil dit voorkom asof Hannes se belangstelling in sy spanlede hom dalk mag kelder. Hilana voel dat hy te veel wil uitvis en dat sy hom nie eintlik meer vertrou nie. 

En Luwellen besluit dis tyd om hart oop te maak by Hannes en Melissa. Hy is bang dat “ ’n sekere persoon” dinge kan misverstaan en dink hy wil oorneem.

“Moenie jou lig laat swakker skyn omdat iemand anders iets te sê het nie,” bemoedig Melissa hom.

Die brug
Die werk van leiers is ook om te luister… en dis wat Hannes en Melissa moes doen toe Luwellen hart oopgemaak het oor die wrywing tussen hom en Hilana. Foto: Skermgreep

Die fakkels bring meer as net ’n boodskap

Geen pos-kan die keer op die vlotte nie, maar wel twee mense. Hannes het met Brugidia (soos Suidhuis hul kano gedoop het) die nuweling gaan haal. Dis ’n vrou, merk Hanri op. En haar naam is Elsje.

By Noordhuis arriveer die pos in die gedaante van ’n man. Gaan dit ’n goeie of ’n slegte ding wees? Een ding is seker, daar’s baie knoppe en baie mae aan land. Wat gaan Durand se aankoms vir die span inhou?

Die twee nuwelinge bring natuurlik ook briewe saam. Die eerste brief loof almal vir hul goeie spanwerk. Dan: “Het julle vergeet dat net een van julle oor die brug gaan loop om die skat te eis? Van vandag af is julle agt spelers, elkeen met een hand op die skat”.

Die twee spanne ontvang ook die bloudruk vir hul vlotte. En sowaar, hulle is baie na aan die kol!

Suidhuis was omtrent in hul noppies oor die nuus dat hulle in die kol was met hul vlotontwerp. Foto: Skermgreep

Wie is die nuwelinge?

Durand (27) is van Houtbaai en hy is in hierdie stadium werkloos omdat hy ’n jaar afgevat het om sy meestersgraad te voltooi. Hy dink mense besef nie hoeveel lae daar aan hom is nie – van rock tot potgooi is sy kos. En hy is hier om te wen . . .

die brug, Durand
Durand is Noordhuis se nuwe speler. Foto: Skermgreep

Elsje (38) vertel sy’s ’n skaapboer se vrou. En nee, sy’s nie ’n boervrou nie – sy is ’n boer se vrou. Sy glo ’n boer is net so sterk soos wat sy vrou hom maak. Sy is hier om aan haarself te kan bewys dat vroue ook kan deelneem en Die brug kan voltooi.

Elsje is die nuwe speler in Suidhuis. Foto: Skermgreep

Hoe meer haas, hoe minder vlotte

Altwee spanne is ver agter die teiken van vlotte wat per dag voltooi moet word. Daar is wel agt by elke huis in die water, maar die teiken is tien vlotte per dag! En as die spanne nie hul sokkies baie gou begin optrek nie, gaan die brug baie jaloers aan daai skat vasklou.

Wanneer waarnemings skeefloop

Vanweë haar seesiek-ervaring op die eerste dag van vlotbou, het Lelani die tweede dag op die werf rondgeskrop en waargeneem. Op Dag 3 van bou is sy slaggereed om weer in te val, maar nie voordat sy haar waarnemings met haar span deel nie. 

“Ek het ’n baie mooi briefie vir julle geskryf. Dit is nie ’n uitk*ksessie nie. Ek wil net vrae vra en ek wil asseblief graag julle raad terughê ook. Haar medeleier, Roscoe, is duidelik nie gelukkig met hierdie stap nie. Hy voel sy moes direk met hom gesels het.

Wie gaan die werfhoenders wees?

Lelani besluit dadelik by Noordhuis dat dit Rechaux moet wees omdat sy die vorige dag baie saagwerk gedoen het. En dis wat Lelani wil oorvat vir die dag.

By Suidhuis steek Hirome sy hand op om vir Elsje die geleentheid te bied om saam met die span te werk en ervaring op te doen.

Eenkant-gesprekke

By Noordhuis is daar drie spelers, wat ten spyte van Wilhrisca se harde werk die vorige dag, nog groot wantroue jeens haar koester, waarskynlik omdat hulle nie die vrede vertrou vir die “regte rede” hoekom sy by hulle beland het nie. Is sy dalk ’n spioen van Suidhuis?

Die brug
Lelani se kritiek op Wilhrisca kry net die end nie… Foto: Skermgreep

Lelani voel sy werk te stadig. Op haar beurt wil Anesca met haar praat en voelers uitsteek hoe sy daaroor sal voel as die vier vroue saamstaan. Ook, Anesca voel daar’s soort van ’n vriendskapsband besig om te ontwikkel tussen hulle twee. Dit verhoed haar egter nie om een van die ander spanlede te betrek om die kat mooi uit die boom te bekyk wat Wilhrisca aanbetref nie.

“Donkerte en seer”

’n Emosionele Hirome maak sy hart oop teenoor Hannes by Suidhuis en vertel van sy ontwortelende kinderjare, jare wat net vol donkerte en seer was. En trane en vrees. ’n Plek waarheen hy nooit weer wil terugkeer nie. Sy openhartige en hartverskeurende vertelling is een wat jy nie durf misloop nie.

Dit is ook die rede hoekom hy vir Die brug ingeskryf het. Om sy geloof in homself en in sy vermoëns te vestig sonder om meer enige vrese oor homself te koester nie.

Hirome het hart oopgemaak teenoor Hannes. Sy storie is werklik een wat die hartsnare roer – en jou in bewondering laat. Foto: Skermgreep

Gaan volgehoue druk en wantroue vriendskapsbande sink?

By Suidhuis is die span een vlot en een dag agter skedule. Alhoewel die vlotbou vorder, raak dinge ’n bietjie warm onder die leierskap se kraag en dis einste Luwellen wat dit veroorsaak. Is dit omdat hy te veel druk op almal uitoefen of is dit omdat daar gevoel word hy wil oorneem?

Anesca kry vir Wilhrisca eenkant en verduidelik Lelani se plan dat dit ’n vrou van hul span moet wees wat oor daai brug gaan stap. “Wilhrisca se reaksie was nie dadelik wat ek verwag het nie. Ek voel amper asof sy ‘ja’ gesê het net vir ‘ja’ en nie noodwendig dalk my ook vertrou nie.”

En die vermiste mes? Het Wilhrisca werklik iets daarmee te doen?

Terug by Suidhuis sukkel dit maar om in vrede te werk met Luwellen en veral Melissa vat dit swaar.  Sy vertel Luwellen het teruggekom “met ’n houding wat skrik vir niks” nadat hy tot by hul laaste vlot gestap het en aangekondig het dat Noordhuis meer vlotte in die water het as hulle. Toe sy hom spreekwoordelik in die bek ruk oor sy negatiewe aansporing, draai Luwellen weg en stilstuipe volg. Hy praat nou met niemand nie.

Volgende week

Die volgende brief wat hulle ontvang se boodskap lok groot skok en ontsteltenis uit. Gaan die twee spanne kan voortgaan om die wa deur die drif te kan trek?

Soos Johan opmerk: “Hierdie is nie speletjies nie.”


Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies