Menu terloops
In Onderhoude [21 Okt 2024]

Van Moedverloorvlakte na ‘Nêrens, Noord-Kaap’ vir aktrise Daneel van der Walt


Kort voordat sy die rol van Suzette in ‘Nêrens, Noord-Kaap’ losgeslaan het, was Daneel van der Walt op die punt om moed op te gee met toneelspel. Maar toe draai Suzette haar loopbaan op sy kop… Daneel vertel meer.

Stroom nou

Van Moedverloorvlakte na ‘Nêrens, Noord-Kaap’ vir aktrise Daneel van der Walt

Toe Nêrens, Noord-Kaap in 2021 sy debuut as dramareeks op kykNET gemaak het, was daar ’n handvol spelers wat vir kykers onbekend was. Een van hulle was Daneel van der Walt, die geliefde Suzette wat nou, ná ’n duikongeluk, in ’n rolstoel is. Destyds het Daneel in onderhoude gesê sy was op die punt om moed op te gee wat ’n groot deurbraak betref toe sy die rol in regisseur en draaiboekskrywer Nico Scheepers se besonderse dramareeks gekry het. En nou, drie jaar later, is sy ’n bekende en welkome gesig op die kassie. 

Daneel vertel vir terloops meer oor haar karakter in Nêrens, Noord-Kaap en hoekom sy dink Suzette so geliefd onder kykers is. 

Daneel van der Walt Nerens Noord-Kaap
Ná ’n duikongeluk, is Suzette (vertolk deur Daneel van der Walt) nou in ’n rolstoel in Nêrens, Noord-Kaap. Foto: Skermgreep

Suzette het baie diep in kykers se harte gekruip. Hoekom dink jy praat die karakter so met mense? 

“Dit is vir my ongelooflik om te sien hoe mense hulself met haar kan vereenselwig. Ek dink dit gaan terug na die slim Nico Scheepers toe wat werklikwaar weet hoe om liefdevolle vroue te skryf. Kyk byvoorbeeld ook na Maggie (vertolk deur Ilse Klink); nog ’n sterk, liefdevolle vrou. Ek dink (die impak is ook só merkwaardig) omdat dit in skrille kontras staan met al die ander moeilike dinge wat in die reeks gebeur.” 

Suzette en klein Lourens het ’n baie hegte band. Maar dieselfde geld ook vir jou en Arnold Swart wat die rol van klein Lourens vertolk, nie waar nie?

“Arnoldjie. Hy het so ’n spesiale plek in my hart. Dit is dalk iets wat in die sterre geskryf is. Hy was verskriklik skaam tydens die verfilming van die eerste seisoen, en dis wonderlik om te sien hoe hy homself intussen regtig leer ken het en weet wat hy uit die lewe wil hê. Dís vir my mooi. Ek dink hy is ’n baie sterk en unieke mens en ek het soveel liefde in my hart vir hom. Hy is een van die redes hoekom ek so dankbaar is vir Suzette.” 

Daneel van der Walt Nerens Noord-Kaap
“Dit is vir my ongelooflik om te sien hoe mense hulself met haar kan vereenselwig,” sê Daneel oor kykers se reaksie op haar karakter, Suzette. Foto: Skermgreep

Voor Nêrens, Noord-Kaap se eerste seisoen was jy amper reg om handdoek in te gooi as aktrise. As jy kon teruggaan in tyd, wat sou jy vir die Daneel van die verlede gesê het?

“Moenie ophou nie. Luister na jou agent. My agent, Suzanne Boje, het vir my gesê: ‘Oukei, suster, jy gaan nie ophou nie’.” 

Sedertdien was jy baie besig. Daar was Roem, ’n musiekblyspel wat by al die groot kunstefeeste te sien was, die verhoogproduksie Braam en die engel, en nog werk voor die kamera in reekse soos Trompoppie, Fraksie en Koek. Wat is jou planne vir volgende jaar? 

“Daar was ditjies en datjies tussenin en daar is nog ’n nuwe TV-reeks, Spooksoeker, wat in Desember op Showmax begin. Volgende jaar? Dis nooit ’n lekker vraag vir ’n akteur nie!” 

Anja Taljaard en Daneel van der Walt in Deuntjie.
Daneel van der Walt het ook in die musikale kortprent, Deuntjie, teenoor Anja Taljaard gespeel. Dié film het by vanjaar se Silwerskermfees première.

Wat hoop jy kom nog op jou lewenspad? 

“Sjoe! Vrede. Gesonde liefde vir myself. Verskriklik baie treinritte verby mooi plekke. Verskriklik baie liefde. Die geleentheid om stories te vertel totdat ek stories van ou mense kan vertel. Grace. Met myself en met my medemens. Vreedsaamheid. En so baie kos!”


Nêrens, Noord-Kaap Deel II saai op Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Die volledige eerste reeks van dertien episodes van Nêrens, Noord-Kaap is tans beskikbaar op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies