Die vierde episode van die Batman–spinoff, The Penguin, wat tans op Showmax beskikbaar is en ook op M-Net uitgesaai word, fokus op die oorsprongverhaal van Sofia Falcone (Critics Choice Super-toekenningwenner Cristin Milioti) ) en hoekom sy as The Hangman bekend staan. Ook in dié episode is die Suid-Afrikaanse aktrise Marié Botha as Magpie in Sofia se terugflitse.
Botha is in Pretoria gebore en het in Johannesburg se noordelike voorstede grootgeword. Sy het Suid-Afrika op 18 verlaat om haar droom na te jaag om toneelspel aan die New York Universiteit se gerespekteerde Tisch School of the Arts te studeer. Nadat sy haar BFA-graad met lof verwerf het, het sy ingeskryf vir die meestersgraadprogram by Yale School of Drama en daardie jaar een van slegs 17 studente, gekies uit duisende, geword. Sy woon nou al 14 jaar in die Groot Appel, met ’n diverse versameling rolle in Off-Broadway- en streekteaterproduksies, asook indie films, en advertensies. Sy het ook vlugtig huis toe gekom om in 2012 in die TV-reeks Erfsondes te speel.
Sy vertel meer oor haar rol in The Penguin, waarin Colin Farrel die hoofrol speel.
Vertel ons meer oor jou rol in The Penguin?
“Ek speel Magpie, ’n skurk met ’n gesplete persoonlikheid en ’n voorliefde vir blink goed. As ons terugflitse van Sofia Falcone in Arkham Asylum sien, ontmoet ons vir Magpie. Sy raak bevriend met Sofia, maar uiteindelik neem paranoia oor en Sofia begin Magpie as ’n bedreiging en ’n spioen sien. Dít is die eerste keer wat Sofia op die afgrond verkeer en die uitkoms is haglik.
“Om Magpie te speel, moes ek ’n fyn balans handhaaf tussen haar pragtige, dromerige, kinderlike wese, en, aan die ander kant, haar duisternis, trauma en wraaksugtigheid.
“Dit is ’n geskenk om karakters te kry wat ’n beroep op my doen om te transformeer en myself in dele van ’n psige te plaas wat baie anders as my eie is – Magpie is só. Sy word geteister deur kindertrauma, maar probeer steeds om positiwiteit te handhaaf en na skoonheid in haar lewe te soek. Dít is mooi én diep hartseer. Sy is baie kosbaar vir my.”
Wat kan jy vir ons vertel oor die ervaring om in só ’n groot reeks te speel?
“Om te sien hoe Cristin Milioti die rol van Sofia Falcone, die vroulike hoofrol in The Penguin, hanteer, was ontsagwekkend. Die werk wat sy gedoen het, het my toegelaat om waar te neem wat dit verg om ’n vertoning van hierdie grootte en kaliber te lei, en ek is so gereed om binnekort daardie ruimte te betree. Ek was uiters bevoorreg om haar as ’n kompas te hê en om teenoor so ’n legende te kon speel. Ek hoop om in die toekoms weer saam te werk.”
Hoe het jy die rol losgeslaan?
“Ek het by my familie in Suid-Afrika gekuier en het pas my reis verleng toe ek die callback (vir ’n volgende oudisie) gekry het. Dit sou op Zoom saam met die regisseur van episode 4, Helen Shaver, wees. Ek het om middernag aangemeld, en die mees intense callback van my lewe het gevolg. Ons het vir lank aan die eerste Magpie-toneel gewerk en dit op verskillende maniere aangepak, amper tot die punt waar ek gedink het, ‘Maak ek nou ’n gemors hiervan? Ek weet nie meer watter kant toe nie.’ Net ná die oudisie was ek seker dit was die einde van die pad vir hierdie een. Maar die volgende dag het ek ’n oproep van my agent gekry dat ek die rol gekry het en die volgende oggend op ’n vlug terug New York toe moes wees vir ’n hare- en grimeringstoets!”
Hoe is die terugvoer oor jou vertolking en die reeks as geheel?
“Ek is verstom deur die ondersteuning en liefde wat ek vir hierdie klein deeltjie van dié groot, ongelooflike reeks ontvang het. By die première het ek die kans gehad om met die briljante Lauren LeFranc, wat die showrunner en skrywer-skepper van die reeks is, te gesels en ek het absoluut my kop verloor toe sy sê, ‘Ons is gaande oor Magpie’.
“Die reeks vaar regtig goed. Ons is in vir ’n wilde rit met hierdie een, en as ’n Batman-aanhanger kan ek nie wag om te sien waar The Penguin ons neem nie.”
Wat is jou droomrol?
“Vir so lank as wat ek kan onthou, hou ek daarvan om skurke te speel. Én ek is ook al vir so lank as wat ek kan onthou ’n Harry Potter-aanhanger. Toe ek hoor van die HBO-weergawe van Harry Potter wat tans in ontwikkeling is, het ek geweet dit sou groter as ’n droom wees om Bellatrix Lestrange te speel. Helena Bonham Carter het die karakter in die rolprente gespeel, en die kompleksiteit, humor en waansin wat sy dra, is so lekker – ek sal enigiets gee om daarin te duik. Daar is ook ’n deel van my wat nie heeltemal gereed voel om vir Magpie te groet nie. Ek voel dat hierdie ongelooflike karakter baie meer het om te bied. Fingers crossed!”
Is jy ’n New Yorker of ’n Suid-Afrikaner?
“Ek weet ek is ’n New Yorker in my siel. In my hart sal ek egter altyd Suid-Afrikaans wees. Dis onmoontlik om die Afrikaanse boeremeisie in my te laat gaan, en ek sal dit ook nooit wil doen nie. Die oomblik as ek in Kaapstad van die vliegtuig afklim en die seelug ruik, die smeltkroes van tale hoor, en soos ’n local deur immigrasie stap en my ouers sien wag om my Hermanus toe te neem, weet ek ek is tuis.”
Kyk The Penguin op Showmax of op M-Net en DStv Stream (DStv-kanaal 101). Nuwe episodes word Maandae op Showmax gelaai en word om 21:00 op M-Net uitgesaai.