Menu terloops
In Wat om te kyk [5 Jul 2023]

‘Wie Word ’n Miljoenêr?’-wenner is hittete koel miljoen kwyt


So naby! Maar toe ry ’n vraag oor Suid-Afrika se voormalige eerste minister, Jan Smuts, haar opmars na ’n koel miljoen rand se geldjies in die wiele.

‘Wie Word ’n Miljoenêr?’-wenner is hittete koel miljoen kwyt

In vandeesweek se uitsending het Susan Booyens (55) slegs die tweede deelnemer geword sedert die afskop van die gewilde kykNET-vasvrareeks Wie word ’n miljoenêr? wat R500 000 met haar algemene kennis losgeslaan het. Die sakejoernalis en skrywer, Theunis Strydom, het in die eerste seisoen van die reeks ook R500 000 gewen.

Dit was so hittete, of Susan het met daardie miljoen weggeloop. As dit net nie vir Suid-Afrika se voormalige eerste minister, Jan Smuts, was nie… 

Haar vinnige vingers het haar in die warm stoel voor die aanbieder Rian van Heerden laat beland toe sy die enigste deelnemer was wat ikoniese Suid-Afrikaanse boeke in die korrekte orde van publikasiedatums kon rangskik.

In haar bekende rustige stem het sy telkemale sonder huiwering vir Rian haar antwoorde ferm bevestig met “en dit is my finale antwoord”. 

Dié baie flink dinker huiwer nie om enige uitdaging te takel nie. Kykers sal haar onthou as ’n televisie-aanbieder, maar sy is ook ’n senior subredakteur by Netwerk24 én ’n multimedia-joernalis. 

Susan het ’n paar vrae beantwoord: 

Jy het Blitsvinnig op kykNET aangebied. Watter jaar was dit en watter herinneringe het jy van die reeks? 

“Jissie, dit was in die beginjare van kykNET, in 2000, dit was basies dieselfde formaat as die ou Flinkdink, en my vriend Dawid van Lill, kampioen der kampioene, het die vrae opgestel; met die liewe Edwill van Aarde, eertydse aanbieder, as arbiter. 

“Ek kan báie vinnig vrae vra, ek dink Tom Larney en ek het eenkeer vir die snelvuurafdeling binne 60 sekondes 15 vrae en antwoorde kafgedraf! Die reeks is ongelukkig om administratiewe redes nooit voortgesit nie, wat jammer is. Dit was ’n vrolike ervaring en so reg in my kraal.”

Is jy ’n aanhanger van speletjiesprogramme – en spesifiek van Who Wants To Be a Millionaire?

“Ek was mal oor Flinkdink as kind en het seker as boekwurm daaroor gedroom om eendag deel te neem, maar die program was lankal saliger toe ek behoorlik my verstand gekry het. 

“Rian maak Miljoenêr ’n groot plesier vir ’n deelnemer. Dis net ’n bietjie stadig vir my as ek moet kyk; ek is háástig as dit kom by trivia! Saam met my joernalis-sus, Hannelie, is ons verwoestend effektief met sosiale 30 Seconds, en hoewel stadig, hou ek nogal van die Britse reeks QI se humor en aanbiedingstyl.”

As gevolg van jou beroep en agtergrond, is dit verstaanbaar dat jy ’n goeie algemene kennis het. Is daar enigiets anders wat jy doen om daardie kennis te help verbreed? 

“Sus Hannelie spot altyd en sê sy’s “deeply superficial”, en dis ook ek daai. Ek weet bietjies-bietjies van baie en verorber inligting sonder diskriminasie soos ’n Kreepy Krauly in ’n vuil swembad, aan die vlak kant én die diep kant. Die mees arbitrêre goed gaan sit soos klitsgras in die uithoeke van my brein.”

Hoe sal jy die algehele ervaring beskryf oor hoe dit was om op die Wie Word ’n Miljoenêr?-stel te wees? 

“Absoluut fantasties, van begin tot einde! Dis lekker as ’n mens op die hande gedra word vir jou kennis en intellek, en jou ouderdom, voorkoms of status nie saak maak nie. 

“Die span van Red Pepper Pictures is wêreldklas en ons Afrikaanse produksie hoef geen tree vir die internasionale reekse terug te staan nie, inteendeel. Die mededeelnemers in my episode was warm en groothartig en ongelooflik ondersteunend nadat ek speelkans gekry het.”

Wat is jou geheim om oënskynlik kalm te lyk terwyl jy een ná die ander vraag moet antwoord? 

“Haai raai, ek is net so gebore, stroesbob, geen geheime nie. Sodra ’n mikrofoon of kamera aangaan, raak ek so gelukkig en rustig soos ’n vis in die water, absoluut in my element. So, ek wás kalm! 

“En ek moet byvoeg, Wie Word ’n Miljoenêr se uitvoerende vervaardiger Lindi Lucouw se inligtingsessie met die deelnemers vooraf was goud werd. Sy’t ons herinner as jy onseker is oor die antwoord, gesels met Rian, vat jou tyd en pluis dit uit, moenie dadelik boedel oorgee nie.” 

Is jy spyt jy het nie maar die waagkans met jou antwoord vir die Jan Smuts-vraag gevat nie? 

“Oe, dis maklik om ná die tyd te bespiegel, maar nee wat, glad nie. My glas is altyd vol pleks van half of leeg, ek is diep dankbaar vir die stewige meevaller wat ek wel gekry het. Net om te gaan deelneem was waagmoedig genoeg, en om verby die “Vinnige vingers”-ronde te vorder!”

Wie Word 'n miljoener?
En toe sou haar antwoord korrek gewees het! Foto: Verskaf

Die mees voorspelbare vraag: het jy verwag jy gaan daardie halfmiljoen losslaan? En wat gaan jy daarmee doen? 

“Ek het vermoed as ek wel op die stoel kom, sal ek ’n kans staan om ’n ent te vorder, en Rian was ’n regte sport, hy’t my behoorlik gemotiveer en aangetjeer. Vir nou hou ek daai tjekkie veilig om te groei, dis ’n kussingkie vir die toekoms – dalk maak dié ervaring vorentoe deure oop vir nog uitsaaiwerk. Taal en feite versorg is my eerlike brood en botter, maar aanbied, onderhoude voer en stemwerk is my heerlike poeding.”

Wat sal jou raad wees aan toekomstige deelnemers van Wie Word ’n Miljoenêr? 

“Moet vir geen oomblik huiwer nie, jy’t niks om te verloor nie en jy weet meer as wat jy dink. Oefen daai “Vinnige vingers” vooraf en as die kollig op jou val, geniet elke sekonde en bedink die vraag hardop, daar’s ’n gehoor wat jou aanspoor en almal wil hê jy moet wen!


Wie Word ’n Miljoenêr? word Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die eerste seisoen is ook op Showmax beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies