Dis weer Rian van Heerden wat as aanbieder van Wie word ’n miljoenêr die deelnemers se algemene kennis op die proef stel. En soms is sy algemene kennis as ’n hulplyn ook in die spervuur.
Só werk die speletjie
Die eerste vangnet vir die deelnemers ná die vyfde vraag word op R10 000 gestel. Daarna kry hulle die geleentheid om self hul tweede vangnet vas te stel vanaf die sesde tot die 14de vraag van die 15 vrae.
Deelnemers mag net drie van die vier beskikbare hulplyne gebruik waarvan elkeen net eenmalig ingespan kan word. Hulle kan die gehoor vra vir hulp of vir ’n 50/50 vra waar twee van die vier moontlike antwoorde verwyder word. Dan kan hulle ook ’n pêl bel of vir Rian vra om uit te help met die antwoord.
Die ses deelnemers:
1. Casper Strydom (Kaapstad)
2. Magda Kok (Krugersdorp)
3. Lida de la Bat (Somerset-Wes)
4. Llew Abdoll (Kuilsrivier)
5. Wouter Engelbrecht (Pretoria)
6. Paul Dunn (Linden)
Die eerste vinnigste vingers
Daar word met ’n taai vraag afgeskop waar deelnemers vastelande van klein na groot moet rangskik. Die regte volgorde is: Europa, Suid-Amerika, Noord-Amerika en dan Asië.
Net drie deelnemers het dit korrek beantwoord, maar dis Wouter Engelbrecht (38) wat met 5.236 sekondes langs sy naam die vinnigste uit die blokke is. Wouter is ’n finansiële bestuurder en sy tweelingsuster, Wanda, ondersteun hom vanaand vanuit die gehoor.

Hy draf die eerste vyf vrae met gemak kaf en stel hy sy volgende vangnet op vraag 11 vir R70 000. Gaan hy in die kol wees met sy antwoord op die maksimum aantal lede in die Nasionale Vergadering van die parlement in Suid-Afrika? Sy finale antwoord dat dit 400 is, is in die kol – en dis ’n baie verligte Wouter wat aanbeweeg.
Hy span ’n hulplyn in om vas te stel wat die grootste klier in die menslike liggaam is. Die gehoor moet help. 44% van die gehoor kies die lewer, maar is hulle reg? Wouter aanvaar die gehoor se keuse as sy finale antwoord. Hulle was in die kol en hy beweeg op na die R30 000-vraag.
Kalaallit Nunaat is die inheemse naam van ’n Europese eiland. Sy finale antwoord dat dit Groenland is, is absoluut korrek.
Maar die vraag oor wie of wat Pushinka was wat die Russiese leier Nikita Chroestsjof in 1961 aan die Amerikaanse president, John F Kennedy, en sy gesin gestuur het, noop hom om die 50/50-hulplyn te kies. Wouter kies die hond uit die twee moontlike keuses – en hy beweeg aan.
Sy vangnet-antwoord dat Buzz Aldren, die tweede mens op die man, se woorde “Peace and hope for all mankind” was, kelder sy opmars na die R70 000-vangnet. Sy woorde was “Beautiful view”.
Die tweede vinnigste vingers
Dié keer moet die deelnemers wedlope van kort na lank rangskik. Dis natuurlik Parkrun, Kaapstad-marathon, Twee Oseane-ultramarathon en die Comrades.
Vier deelnemers is korrek maar dis Lida de la Bat (28), ’n onderwyseres van Somerset-Wes, wat die ander uitknikker met die korrekte orde in 5.513 sekondes. Haar man, Pierre, is daar om haar te ondersteun. Lida draf die eerste vrae tot by die vangnet tjoef-tjaf klaar en sy stel haar volgende vangnet op vraag 10 vir R50 000.

Maar met die volgende vraag, soos sy self erken kan sy nie eers ’n veerpyltjiebord raak gooi nie, gaan sy die gehoor vra wat die waarde van die rooi kol op ’n standaard-veerpyltjiebord is. 75% van die gehoor sê dit tel 50 punte en Lida kies ooreenkomstig. Sy beweeg aan na die R20 000-vraag.
Weer kies Lida ’n hulplyn, die 50/50-hulplyn vir die vraag oor watter liedjie van die vier keuses nie deur Dolly Parton geskryf is nie. Sy moet tussen 9 to 5 en Wrecking Ball kies. Haar instink dwing haar na die tweede liedjie se kant, en sy is in die kol.
Lida span haar derde hulplyn in vir die vraag wie op 21-jarige ouderdom in 1997 die jongste wenner van die Amerikaanse Meesters-gholtoernooi was. Haar “Bel ’n pêl”-opsie is om haar pa, Burger, te bel. Maar gaan hy wel sy telefoon antwoord? Hy doen wel, maar hy huiwer tussen Jordan Spieth en Tiger Woods.
Lida kies op die einde vir Tiger Woods. Natuurlik is dit die korrekte antwoord.
Daar is nog twee vrae oor voordat sy haar vangnet gaan haal. Maar met die eerste van die twee vrae oor waar “You are now in Fairyland”-graffiti te vinde is, besluit sy om handdoek in te gooi. Sy volstaan by die R25 000 wat sy tot nou toe gewen het. Die korrekte antwoord was Distrik Ses.
Die derde vinnigste vingers
O aarde, wie gaan die ministers van finansies in chronologiese volgorde volgens aanstellings korrek rangskik? Dit is natuurlik Trevor Manual, Pravin Gordhan, Malusi Gigaba en nou Enoch Godongwana.
Net twee deelnemers het die volgorde korrek gehad, maar dis Paul Dunn wat net-net vir Llew Abdoll klop. Paul het dit binne 7.858 sekondes reggekry en Llew was met ’n fraksie van ’n sekonde agter hom met 7.905 sekondes!
Paul (49) is ’n joernalis en sy vriendin, Karin, ondersteun hom vanaand vanuit die gehoor. Vir dié bewese nuushond is die eerste paar vrae baie maklik. Maar die vyfde vraag laat hom twyfel en hy span die gehoor as ’n hulplyn in. Die vraag handel oor watter haarstyl uit die ikoniese TV-reeks Friends baie gewild geword het onder die publiek. 53% stem vir The Rachel en Paul laat hom deur hulle lei. Hy slaak ’n groot sug van verligting want dit was so hittete of hy het sy tweede hulplyn ingeroep.

Paul stel die volgende vangnet op vraag 10 vir R50 000. Hy besluit om die 50/50-hulplyn te aktiveer vir die vraag oor die vroulike bewaringsgesinde wat bekendheid verwerf het met haar werk onder die berggorillas. Dit help hom baie – en hy kies Dian Fossey as sy finale antwoord.
Maar die woord “uKhahamba” wat die Drakensberg beskryf, knikker hom uit omdat hy ’n kans gewaag het op “Die heilige plek” en hy keer huiswaarts met R10 000 in die sak. Die korrekte antwoord is “Versperring van spiese”. Rian verduidelik dat dit na die massiewe basaltpilare verwys wat soos spiese na bo troon.
Wie word ’n miljoenêr S5 saai weekliks op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar. Wie word ’n miljoenêr S2-S4 van die reeks is op Showmax beskikbaar.










