Menu terloops
In Gons [20 Feb 2024]

‘Wie word ’n miljoenêr?’: Jy kan die volgende Afrikaanse miljoenêr wees – skryf in!


Vinnige vingers eerste! kykNET se gewilde vasvraprogram ‘Wie word ’n miljoenêr?’ soek weer deelnemers.

‘Wie word ’n miljoenêr?’: Jy kan die volgende Afrikaanse miljoenêr wees – skryf in!

Soos met die vorige seisoene van Wie word ’n miljoenêr? is daar weer ’n allemintige R1 miljoen op die spel in die nuwe seisoen. Maar dit gaan iemand met ’n goeie skeut algemene kennis verg om al daai rande in die sak te steek en as jy een van daai kykers is wat die antwoorde voor die TV uitskree, is jy dalk net daai iemand. 

Gryp geleentheid aan

Waarvoor wag jy? Gryp die kans! Steek jou banggeit in jou sak en gaan daarvoor, jy’t regtig niks om te verloor nie en jy weet vir seker meer as wat jy dink.

Susan Booyens

Selfs al het jy vantevore probeer, is die deur vanjaar weer oop vir jou om in te skryf. Só kan diegene wat ook al voorheen hul vinnige vingers in die ateljee gewaag het sonder om dit tot by die warmstoel te maak, weer inskryf. Die gesegde lui nie verniet “derde keer is skeepsreg nie” – hierdie is dalk net die geleentheid waar jou miljoen-rand skip eindelik land haal. 

Sedert Wie word ’n miljoenêr vir die eerste keer in 2021 met Rian van Heerden as aanbieder op kykNET begin het, is daar in totaal R5,5-miljoen se prysgeld aan 120 wenners uitbetaal. Tog het niemand tot op hede al die miljoenrandvraag beantwoord nie… 

Die eerste groot wenner wat Wie word ’n miljoenêr? opgelewer het, was in 2022 toe die sakejoernalis en skrywer Theunis Strydom R500 000 in sy sak gesteek het. 

Verlede jaar het die joernalis Susan Booyens presies dieselfde bedrag losgeslaan nadat sy een korrekte antwoord weg van die R1 miljoen was. 

Susan se raad 

Wie Word 'n miljoener?
Amper-amper! Foto: Verskaf

“Waarvoor wag jy? Gryp die kans! Steek jou banggeit in jou sak en gaan daarvoor, jy’t regtig niks om te verloor nie en jy weet vir seker meer as wat jy dink,” sê Susan. 

“Dis ’n groot avontuur en as jy nie die antwoord ken nie, haal diep asem en kyk of jy dit nie kan uitwerk nie, vertrou jou instink en gebruik Rian as klankbord. Dis beslis een van daai gevalle van wie nie waag nie, wen nie – en énige prysgeld is mos ’n lekker bonus.

“En dis heerlik om te sien hoe die ratte van ’n deelnemer se brein so voor jou oë inklik – en indien nie, lag ons almal saam vir die dapper probeerslae. 

“Boonop leer mens heeltyd snaakse feite en bisarre trivia wat jy om die braaivleisvuur met smaak kan oorvertel, en die beste kenners en swemmers sit hoeka altyd aan wal.

“Almal wat kyk wil hê jy moet goed doen, en bewonder jou durf!”

Dus, as jy die vraag-klokkie hoor lui én weet waar die antwoord-klepel hang, weet jy wat om nou te doen.

Hoe werk dit?

  • Mense wat wil inskryf, moet teen 15 Maart 2024 ’n aanlyn algemene kennis-toets op kykNET se webtuiste by www.kyknet.tv voltooi. 
  • Diegene wat na die volgende ronde deurdring, sal ’n telefoniese onderhoud met die vervaardigers kry en ’n tweede algemene kennis-toets aflê. 
  • Deelnemers moet 18 jaar of ouer wees. 
  • Deelnemers sal tydig ingelig word oor die tye waarop hulle beskikbaar moet wees vir opnames.
  • Volledige bepalings en voorwaardes is op kykNET se webtuiste beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
Sien alle opsies