Menu terloops
In Wat om te kyk [19 Jun 2023]

Wat om te kyk: TV-hoogtepunte vanaf 19-25 Junie 2023


Wat om te kyk: Die hartverskeurende dokkie ‘Take Care of Maya’, die derde seisoen van ‘The Righteous Gemstons’, die rillerreeks ‘The Fear Index’ en die ‘Yellowstone’-prequel, ‘1923’ tel onder ons top-keuses om hierdie week op TV en aanlyn te kyk. En daar’s meer!

Wat om te kyk: TV-hoogtepunte vanaf 19-25 Junie 2023

Wat om te kyk op TV en aanlyn te stroom hierdie week – hier is ons top-keuses.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

Take Care of Maya 

Vanaf Maandag, 19 Junie 2023, op Netflix.

Dié dokumentêre film sny diep. Só dan maar altyd as ’n verhaal om die lewenslot – en die hart van ’n kind – draai. 

In 2016 bring die negejarige Maya Kowalski se ouers hul siek kind na die Johns Hopkins-hospitaal. Niks sou hulle op die nadraai van daai besoek kon voorberei nie. Dit blyk Maya het ’n rare siekte – die simptome sluit asma-aanvalle, vreeslike sere op haar arms en bene, erge krampe in haar voete en hewige kopsere in. By Johns Hopkins kry hulle nie antwoorde nie. Maar Maya se ma, Beata, is ’n verpleegster en neem haar na Mexiko vir behandeling wat toe nog nie in die VSA goedgekeur was nie. Tot hul verligting blyk Maya se pyn en ander simptome te verdwyn. Dis tot en met ’n jaar later wanneer die dogtertjie se aftakelende pyn terugkeer en Maya weer na Johns Hopkins gehaas word. Dis dan wanneer die gesin se lewe onherroeplik omgedolwe word: die hospitaal verdink Beata daarvan dat sy Maya se simptome opmaak en die dogtertjie word deur die hof van haar gesin vir drie maande geskei. Maar dis nie ’n heel gesin wat herenig nie – eerder ’n gebroke een wat nooit weer dieselfde sou wees nie. 

The Righteous Gemstones S3 

Die eerste twee episodes van die derde seisoen word op Maandag, 19 Junie 2023, op Showmax beskikbaar gestel. Daarna word episodes weekliks beskikbaar gemaak.

Die mega-beroemde televangelist-familie, die Gemstones, preek en bid en doen liefdadigheidswerk like it’s nobody’s business… Als terwyl hulle eintlik hul bediening gebruik om hulself te verryk en geraamtes in die kas te hou. Dié mense ken beslis nie van practice what you preach nie. 

Met die aanvang van die derde seisoen kry die Gemstone-kinders uiteindelik hul sin en neem beheer oor al die kerksake. Hulle kom gou agter dat dié besigheid veel meer moeisaam is as wat dit gelyk het en dat hul luukse lewe eintlik teen ’n (helse, pun very intended) hoë prys kom. Dit maak als vir heerlike sosiale kommentaar op die berugte verskynsel van TV-predikers in Amerika, maar ook elders. 

Steve Zahn (The White Lotus) en Kristen Johnston (3rd Rock from the Sun, Mom), sluit by dié seisoen se rolverdeling aan. Danny McBride (wat ook die reeks geskep en geskryf het), asook Adam Devine, Edi Patterson, Skyler Gisondo, John Goodman en Walton Goggins is terug in hul karakters se skoene. 

Collider loof die reeks se rolverdeling as “een van die beste ensembles in komedie-TV.” 

Die vorige twee seisoene is ook op Showmax beskikbaar.

The Fear Index 

Weeklikse episodes vanaf Vrydag, 23 Junie 2023, op Showmax beskikbaar om te stroom. 

Josh Hartnett (Pearl Harbour) speel dr. Alex Hoffman, ’n tech genius wat homself in die middel van ’n komplot bevind om die wêreld se finansiële markte te vernietig. 

Dié sielkundige rillerreeks bestaan uit vier episodes en is gegrond op die gelyknamige topverkoperboek deur Robert Harris. Ook in die rolverdeling is Arsher Ali (Avenue Five), Aïssa Maïga (The Boy Who Harnessed the Wind), en Leila Farzad (I Hate Suzie, Avenue Five). 

Strooi 

Saterdag, 24 Junie 2023, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). 

Strooi is een van kykNET se nuwe Storiefilms, óftewel TV-flieks. Die romantiese komedie maak luuks gebruik van misverstande en kommunikasiegapings om die storie – wat draai om ’n skoolfotograaf van Dewetsdorp (Izette Blignaut) wat ’n aantreklike vreemdeling (Jefferson Jīnlòng Lan) langs haar gebreekte kar met haar aankoms in Gauteng ontmoet – grappig vorentoe te dryf. 

1923

Weeklikse episodes vanaf Donderdag, 22 Junie 2023, om 21:00 op M-Net (DStv-kanaal 101). Ook op Catch Up.

Dié reeks, wat spog met veteraan- en bekroonde akteurs soos Helen Mirren, Harrison Ford en Timothy Dalton, dien as ’n prequel vir die uiters gewilde dramareeks, Yellowstone.  

Soos met Yellowstone, draai die verhaal om die Dutton-familie, maar hier word daar op vroeër generasies gefokus met die vertelling wat in 1923 afspeel. Dis ’n periode van geweldige broekskeur – nie net vir die Duttons nie, maar ook vir die groter Amerikaanse volk met onder meer die beginstadium van die Groot Depressie en die Prohibisie-tydperk. 

Die reeks het ’n punt van 90% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes met talle kritici wat Mirren en Ford se gemaklike chemie uitwys as genoegsame rede om te kyk.

Die Sydney Morning Herald het ook Taylor Sheridan se skryfwerk geloof as “so styf dit voel asof die spanning enige oomblik kan breek.”

Rain Dogs S1

Weeklikse episodes vanaf Vrydag, 23 Junie 2023, om 22:10 op M-Net (DStv-kanaal 101). Ook op Catch Up.

Rain Dogs is ’n Britse komediereeks wat vir onder meer die skryfwerk deur Cash Carraway, asook die vertelling, geprys word. Die storie, ’n tragi-comedy (waarvan daar heeltemal te min gemaak word!), volg ’n sukkelende enkelma, Costello Jones (Daisy May Cooper), en haar jong dogter, Iris (Fleur Tashjian). Daar is nog heerlike karakters wat die storie verder inkleur, soos Selby (Jack Farthing), Iris se kamma-pa, en Costello se holderstebolder beste vriendin, Gloria (Ronkẹ Adékoluẹjo). 

Die New Yorker beskryf die reeks as ’n “vertoonvenster vir gebrekkige menslikheid en (soms verregaande) galghumor”.

The Guardian beskryf dit weer as “ ’n somber en pragtige drama waarin die min ligpunte ’n kwessie van oorlewing is, soos gate wat deur die donker geslaan word.”

Nope

Vanaf Donderdag, 22 Junie 2023, beskikbaar op Showmax. 

Met dié neo-Western wetenskapfiksie-gruwelfliek, laat die Oscar-bekroonde fliekmaker Jordan Peele (Get Out, Us) kykers weer uit hul vel uit skrik. 

Die Oscar-wenner Daniel Kaluuya, wat ook die hoofrol in Peele se Get Out gespeel het, vertolk hier die perde-afrigter, OJ Haywood. Keke Palmer (Scream) speel sy suster, Emerald. Dié twee se lewens word deur ’n onverwagte fenomeen in die wolke bo hul plaas omvergewerp.

Nope het al verskeie pryse gewen, waaronder die prys vir beste wetenskapfiksieprent by die 2022 Saturn-toekennings. 

Nog hoogtepunte hierdie week:

Vanaf Maandag, 19 Junie 2023:

  • Father of the Bride

Vanaf Dinsdag, 20 Junie 2023: 

  • 85 South: Ghetto Legends, Netflix

Vanaf Woensdag, 21 Junie 2023:

  • Break Point: Part 2, Netflix
  • Survivor USA S43, Showmax
  • Hier sit die manne S1, VIA (DStv-kanaal 147) om 17:30
  • Trou, trek of toer? S1, VIA (DStv-kanaal 147) om 20:30.

Vanaf Donderdag, 22 Junie 2023:

  • Glamorous, Netflix
  • Let’s Get Divorced, Netflix
  • Skull Island, Netflix 
  • Sleeping Dog, Netflix
  • Swartskaap S2, VIA (DStv-kanaal 147) om 20:00

Vanaf Vrydag, 23 Junie 2023: 

  • I’m a Virgo S1, Prime Video
  • Barrabrava S1, Prime Video
  • Swagger S2, Apple TV+
  • The Rookie S4, Showmax
  • Slim vang sy baas S7, VIA (DStv-kanaal 147) om 17:30
  • iNumber Number: Jozi Gold, Netflix 
  • Make Me Believe, Netflix 
  • The Perfect Find, Netflix  
  • Through My Window: Across the Sea, Netflix  
  • Catching Killers: Season 3, Netflix 
  • King of Clones, Netflix 

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om kortfilms en dokkies die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies