Wat om te kyk op TV en aanlyn te stroom hierdie week – hier is ons top-keuses vir 22 tot 28 Januarie 2024.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Donkerbos
Reeds beskikbaar. Weeklikse episodes vanaf Sondag, 21 Januarie 2024, op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream. Ook op Catch Up ná uitsending beskikbaar. Die volledige reeks is ook reeds op Showmax beskikbaar.
Met Donkerbos se aanvanklike vrystelling op Showmax in November 2022, skryf André-Pierre du Plessis só in sy resensie: “Aangrypend. Dís Nico Scheepers se rillerreeks, Donkerbos. Want jy kan bloot net daarna kyk – sonder om enigsins te volg wat aangaan, selfs met die volume op nul – en dís wat jy sal ervaar. Asof Scheepers se storie jou met kettings vasboei. Asof jy weet hierdie is jou aandag só werd, wegkyk is nie ’n opsie nie.”
Die reeks, wat vir Showmax vervaardig is en steeds op dié platform beskikbaar is, is (uiteindelik) nou ook vanaf 21 Januarie 2024 op kykNET en DStv Stream (kanaal 144) beskikbaar. Só vergroot die kykerpoel wat deur Scheepers se skepping aan die strot gegryp word.
Donkerbos draai om ’n senutergende moordraaisel wat begin met die ontdekking van die liggame van ses kinders in ’n verlate woud in die klein dorpie van Donkerbos in Limpopo.
Erica Wessels (van Dwaalster en I Am All Girls) vertolk die hoofrol. Sy speel Fanie van Wyk, ’n speurder wat drie jaar tevore onder ’n donker wolk uit Pretoria ná ’n rampspoedige ondersoek gevlug het. Nou moet sy dié haglike saak probeer ontsyfer.
Ook in die rolverdeling is onder andere Edwin van der Walt, Stian Bam, Leandie du Randt en Wilhelm van der Walt.
Summertide
Weeklikse episodes vanaf Sondag, 28 Januarie 2024 om 18:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) en DStv Stream. Ook op Catch Up ná uitsending beskikbaar.
M-Net se nuwe gesinsdrama, met die bekroonde Corné en René van Rooyen van Red Letter Day Pictures as skeppers en vervaardigers, speel in die prentjiemooi Valsbaai-omgewing af. Daarin vertolk die akteur Frank Rautenbach, wat meer as 20 jaar terug sy aanvanklike roem met sy rol as Tiaan in 7de Laan verwerf het, die hoofrol as ’n mariene-bioloog, Martin Field.
Martin keer ná die dood van sy vrou (Amalia Uys) saam met sy twee kinders na sy ouerhuis terug om ’n nuwe bewaringstrust te begin, maar hy – en só ook sy kinders Tristan en Lucy – sukkel om ná die trauma tot verhaal te kom.
Volgens die Van Rooyens – ook die kreatiewe span agter onder meer Alles Malan – is die reeks ’n “in-diepte ondersoek na die mal, morsige, en pragtige wêreld van familiebande.”
Lees meer oor Summertide.
Expats
Vanaf Vrydag, 26 Januarie 2024, op Prime Video beskikbaar.
Expats is ’n sesdelige reeks wat op die topverkoperboek, The Expatriates, deur Janice Y.K. Lee, gegrond is. Dit speel af in 2014 met ’n dinamiese, tog onstuimige Hong Kong as agtergrond en met die fokus op drie Amerikaanse vroue – Margaret (Nicole Kidman), Hilary (Sarayu Blue), en Mercy (Ji-young Yoo) – wie se paaie ná ’n skielike tragedie kruis.
Jacqueline Novak: Get on Your Knees
Vanaf Dinsdag, 23 Januarie 2024, op Netflix.
Ok, so. Eerstens, as jy nog nie Novak se boek, How to Weep in Public, gelees het nie, is dié jou teken dat jy dit onmiddellik moet doen. En as jy dit gelees het, sal jy weet dat Novak ’n ongelooflike gawe het om stories te vertel. So dan ook in dié mengsel van stand-up en teater. Get on Your Knees sinspeel op presies wat jy dink – moenie haar briljante verweefde storie oor haar seksuele coming-of-age misloop nie. Dis blerrie skreeusnaaks.
Six Nations: Full Contact
Vanaf Woensdag, 24 Januarie 2024, op Netflix.
Hierdie is ’n lekker dokkie wat die beste rugbyspanne in Europa volg soos hulle wedstryd ná sweetbedrupte wedstryd vir die trofee in die 2023 Sesnasies-kampioenskap meeding.
Dis dieselfde vervaardigers as dié van F1: Drive to Survive, so kan sommer weet die spanningsdraad gaan styf gespan wees…
Masters of the Air
Dié reeks première op Vrydag, 26 Januarie 2024, met twee episodes op Apple TV+. Daarna word nuwe episodes weekliks tot en met Vrydag, 15 Maart 2024, vrygestel.
Dié epiese oorlogdramareeks is gegrond op die gelyknamige boek deur Donald L. Miller met Tom Hanks en Steven Spielberg wat deel van die vervaardigingspan uitmaak. Oor die loop van nege episodes word daar vertel oor die “Bloody Hundredth”, oftewel die Amerikaanse lugmag se “100th Bomb Group” wat lugaanvalle oor Nazi-Duitsland geloods het.
Lees meer in ons Redakteurskeuse vir vandeesmaand.
Ook nuut:
Vanaf 22 Januarie 2024:
Not Quite Narwhal S2, Netflix
Ten Pound Poms S1, weeklikse episodes om 19:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) en DStv Stream. Ook op Catch Up ná uitsending beskikbaar.
Vanaf 23 Januarie 2024:
Kevin James: Irregardless, Prime Video
Love Deadline, Netflix
Vanaf 24 Januarie 2024:
Queer Eye S8, Netflix
Vanaf 25 Januarie 2024:
Griselda, Netflix
Masters of the Universe: Revolution, Netflix
Vanaf 26 Januarie 2024:
Badland Hunters, Netflix
Vanaf 27 Januarie 2024:
Doctor Slump, Netflix
Nog aanbevelings
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →