Wat om te kyk op TV en aanlyn te stroom hierdie week – hier is ons top-keuses vir 11 tot 17 Desember 2023.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Platform 7
Weeklikse episodes vanaf Donderdag, 14 Desember 2023, om 21:00 op M-Net en DStv Stream (kanaal 101). Ook op Catch Up beskikbaar.
Dié Britse sielkundige rillerreeks is gegrond op die topverkoperboek Platform Seven deur Louise Doughty, met Jasmine Jobson as die hoofkarakter, Lisa Evans.
Ná haar selfdood, sit Lisa se gees vas op ’n treinstasie se platforms. Sy drentel oor en weer tussen die platforms totdat sy op ’n dag vir Edward (Phil Davis) – altans, Edward se gees – ontmoet. Dan kom ’n kinkel en sy begin haar eie dood – en die lewe wat dit voorafgegaan het – bevraagteken soos sy die hartgebroke mense wat sy agtergelaat het, in heroënskou neem.’n TV-verwerking van een van Doughty se ander boeke, Crossfire, is tans op Showmax met Keeley Hawes in die hoofrol.
Reacher S2
Vanaf Vrydag, 15 Desember 2023, op Prime Video.
Reacher se tweede seisoen skop af met ons held, Jack Reacher (Alan Ritchson), wat ’n boodskap kry dat lede van sy ou weermageenheid een vir een wreed afgemaai word. Hy span dan kragte saam met drie van sy voormalige spanmaats, Frances Neagley (Maria Sten), Karla Dixon (Serinda Swan), en David O’Donnell (Shaun Sipos) om ondersoek in te stel. Saam-saam begin hulle die kloutjie by die oor bring, maar om elke draai is daar net nog meer vrae oor wie presies vir hulle in die rug gesteek het – en wie die volgende teiken is. Reacher is egter vasbeslote om die waarheid te ontbloot en sy spanlede te beskerm.
Die tweede seisoen van dié aksiebelaaide reeks is gegrond op Bad Luck and Trouble, die 11de boek van die skrywer Lee Child se immergewilde Jack Reacher-reeks.
Die eerste seisoen het ’n punt van 92% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes met Chase Hutchinson van Collider wat meen “ ’n besonderse Alan Ritchson” is ’n absolute versinnebeelding van die titelkarakter.
Poker Face S1
Vanaf Maandag, 11 Desember 2023, op Showmax.
Die Emmy-benoemde aktrise Natasha Lyonne, veral bekend vir haar briljante spel in Russian Doll en Orange Is The New Black, speel ene Charlie Cale in die Oscar-benoemde Rian Johnson (Knives Out, Glass Onion) se raaiselreeks, Poker Face.
In die reeks, bestaande uit tien episodes, beskik Lyonne se karakter oor die buitengewone vermoë om vas te stel as iemand lieg. Ná een van Charlie se vriende vermoor word, vat sy die pad en oral waar sy met haar Plymouth Barracuda stop, is daar (heel toevallig…) ’n nuwe raaisel om op te los.
Onder die ander spelers tel Adrien Brody, Joseph Gordon-Levitt, Chloë Sevigny, Jameela Jamil, Cherry Jones, Stephanie Hsu en nog.
Poker Face is reeds vir ’n tweede seisoen hernu. Ook nie te versmaai nie is die reeks se 98% op Rotten Tomatoes, die glowing resensies en die vir Emmy-benoemings wat dit ontvang het – onder meer vir beste aktrise vir Lyonne se begeesterde spel.
Ed Power van die Daily Telegraph (UK) skryf só daaroor in sy resensie: “Dit is aangrypend, gruwelik wanneer dit moet wees, en Lyonne is sjarme op ’n stokkie.”
Entertainment Weekly se Darren Franich was dit ook eens dat Poker Face selfs as die “beste misdaadreeks van die jaar” beskou kan word met ’n rits ander resensente wat meen dié reeks herinner sterk aan die beste dele van die ikoniese reeks, Columbo.
Blue Lights S1
Vanaf Maandag, 11 Desember 2023, op Showmax.
Blue Lights, wat in Belfast in Noord-Ierland afspeel, volg drie rookie-polisiebeamptes wat hulself in ’n stryd teen bendes, geheime agente, die gemeenskap, en selfs hul eie polisiedepartement vind soos hulle die laaste twee maande hul proeftydperk probeer oorleef.
Die BBC-reeks se rolverdeling sluit Sian Brooke (Guilt, Good Omens), nuwelinge Katherine Devlin en Nathan Braniff, asook Martin McCann (Last Sentinel), Richard Dormer (Game of Thrones), Valene Kane (Gangs of London, The Winter King) en Andi Osho (I May Destroy You) in.
The Guardian het Blue Lights as een van die beste reekse van die jaar bestempel, met The Daily Telegraph wat ook vir die reeks ’n vyfster-resensie gegee het.
The Family Plan
Vanaf Donderdag, 15 Desember 2023, op Apple TV+.
Dan Morgan (Mark Wahlberg) lewe ’n heel normale, voorstedelike lewe as ’n toegewyde eggenoot, pa van drie, en ’n suksesvolle motorhandelaar. Maar dit is net die helfte van die storie…
Dekades vantevore was hy ’n elite sluipmoordenaar vir die regering en het hy van die wêreld se gevaarlikste bedreigings… “uitgeskakel”. Maar ’n mens is nooit heeltemal vry van jou verlede nie, of hoe? En so spoor ’n paar ou gegriefde vyande hom dan vir Dan op en die gort is gaar. Dan laai vinnig sy niksvermoedende vrou (Michelle Monaghan), angstige tienerdogter, pro-gamer tienerseun en super-oulike 10 maande oue baba in hul minivan en vertrek op ’n impromptu road trip na Las Vegas. Hy is vasbeslote om nie net sy gesin te beskerm nie, maar ook sy ware identiteit steeds geheim te hou.
Ook nuut hierdie week:
Vanaf 11 Desember 2023:
The Killing Kind, weekliks om 19:00 op M-Net en DStv Stream (kanaal 101)
Couple’s Retreat, Showmax
Dirty Little Deed, Showmax
Play Dead, Showmax
Private Property, Showmax
Vanaf 12 Desember 2023:
Single’s Inferno S3, Netflix
Kevin Hart & Chris Rock: Headliners Only, Netflix
Under Pressure: The U.S. Women’s World Cup Team, Netflix
Vanaf 13 Desember 2023:
1670, Netflix
Car Masters: Rust to Riches S5, Netflix
The Influencer, Netflix
Se Eu Fosse: Luísa Sonza, Netflix
Vanaf 14 Desember 2023:
Kwa Mam’Mkhize S2, Showmax
Agu S1, Showmax
The Great Holiday Bake War, Showmax
Dotty & Soul, Showmax
The One, Showmax
Trolls, Showmax
Mummies, Showmax
As the Crow Flies S2, Netflix
The Crown: S6 Deel 2, Netflix
Yu Yu Hakusho, Netflix
Vanaf 15 Desember 2023:
Carol & The End of The World, Netflix
Yoh’ Christmas, Netflix
Chicken Run: Dawn of the Nugget, Netflix
Familia, Netflix
Face to Face with ETA: Conversations with a Terrorist, Netflix
Stars S1, Showmax
School Run, Showmax
A Merry X-Mess, Showmax
Mkhize to Masemola, Showmax
Vanaf 17 Desember 2023:
Super Mario Bros., 20:00 op M-Net en DStv Stream (kanaal 101)
Nog aanbevelings
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →