Wat om te kyk op Showmax vandeesmaand – hier is ons top-keuses.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Pulse S1
Oorlewing is allesbehalwe ’n speletjie as ’n groep videospeletjieskeppers deur elektromagnetiese strale getref word en binne hul eie game in ’n stryd tussen lewe en dood vasgevang word.
Dís die premis van Showmax se nuwe gruwelreeks, Pulse, wat vanaf 23 Junie op dié platform gestroom kan word. Dis nie Showmax se eerste foray in die wêreld van gril en ril nie.
Onder dié akteurs tel SAFTA-wenner Tarryn Wyngaard, bekend vir haar werk op DAM en Dwaalster. Sy speel Jaz, die skepper van ’n indie-trefferspeletjie. Thapelo Mokoena (Trackers, Bulletproof) speel Jaz se eks. Onder die ander akteurs tel Sven Ruygrok en Carel Nel met kameerolle deur onder andere die veelbekroonde Albert Pretorius (Nêrens, Noord-Kaap), Laré Birk (Dominee Tienie, Vir Altyd), asook toneelspellegende Frank Opperman (Dominee Tienie, Nêrens, Noord-Kaap).
Pulse, wat oor ses episodes strek, volg ook op die sukses van gruwelstories soos Fried Barry, asook Glasshouse.
Vanaf 23 Junie.
Winning Time: The Rise of the Lakers Dynasty
Dié reeks – reeds vir ’n tweede seisoen hernu, so jy kan mos maar nou net weet dit tref soos die moet – draai om die lewens van die spelers en afrigters van die Lakers-basketbalspan in die 1980s. Die Lakers is onder die mees gerespekteerde sportspanne ter wêreld – ongeag die sportsoort.
Die sportdrama is deur HBO vervaardig en die konsensus op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes is dat die vertelling oor die daarstel van die Lakers-dinastie – op en van die baan af – ’n “slam dunk” is.
Die sterbelaaide rolverdeling word gelei deur die Oscar-benoemde John C. Reilly en Jason Clarke (Mudbound), met nuwelinge Quincy Isaiah en Solomon Hughes wat die legendariese spelers Magic Johnson en Kareem Abdul-Jabbar vertolk. DeVaughn Nixon (Snowfall, Runaways) vertolk wraggies die rol van sy actual pa, NBA-ster Stormin’ Norman Nixon.
Stroom vanaf 1 Junie.
Peacemaker S1
John Cena hervat sy rol as Peacemaker, die jingoistiese moordenaar wat nuwe betekenis aan “die doel heilig die middelle” gee as hy mense links en regs in die naam van vrede afmaai.
Peacemaker se storielyn tel op waar The Suicide Squad-fliek s’n geëindig het (so ja, jy gaan dalk effe verlore wees as hierdie jou eerste rodeo met dié vredevegter is…). Ons sien Peacemaker terug by die huis ná sy stryd met Bloodsport – maar gou kom hy agter dat vryheid, nes vrede, nie gratis en verniet is nie.
Die reeks, wat deur die veelbekroonde James Gunn (van Guardians of the Galaxy-faam en The Suicide Squad) geskep is, strek oor agt episodes. Ook in die rolverdeling is onder andere Danielle Brooks (Orange is the New Black), Freddie Stroma (Harry Potter and the Half-Blood Prince), en Jennifer Holland wat haar rol as Emilia Harcourt uit The Suicide Squad hervat. Só ook Steve Agee as John Economos.
Peacemaker is reeds vir ’n tweede seisoen hernu en het ’n punt van 94% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes.
Vanaf 1 Junie.
John Lewis: Good Trouble
John Lewis: Good Trouble is ’n moet-kyk, in-diepte profiel oor die Amerikaanse vryheidsvegter, politikus en kongreslid John Lewis.
Die dokkie is in 2021 vir ’n Emmy-prys vir uitstaande historiese dokumentêr benoem en strek oor die ses dekades wat Lewis teen sosiale ongeregtigheid geveg het.
Hy was onblusbaar in sy onverskrokke stryd om gelyke burger- en stemregte en logiese en regverdige wapenbeheer daar te stel, asook die hervorming van die gesondheid- en immigrasiestelsel in die VSA.
John Lewis: Good Trouble het ’n punt van 94% op Rotten Tomatoes, met Time wat skryf: “Good Trouble wys dat Lewis nooit die beginsels wat noodsaaklik vir sy land se oorlewing en welstand is, uit die oog verloor het nie”. Volgens die New York Times maak die film ’n dringende argument: “dat ‘n nuwe golf van kiesersonderdrukking die einste regte bedreig wat Lewis beywer het om te verseker.”
Stroom vanaf 1 Junie.
Kaalgat Karel
Tarren-Lee Habelgaarn skryf só oor Kaalgat Karel, wat verlede jaar in teaters gedraai het en nou op Showmax beskikbaar is:
“Kaalgat Karel vertel die verhaal van Karel Venter (vertolk deur die skreeusnaakse Francois Jacobs), ’n kaalnaeler, wat verlief raak op die sagte en beeldskone paramedikus, Rita (vertolk deur Christia Visser) nadat ’n kaalnaelsessie skeefloop. Maar daar is een probleem: sy is ’n ernstige en pligsgetroue enkelma wat geen belangstelling het in sy bedrywighede nie.
“Dis ’n fliek met sjarme, romanse, onverwagse vriendskap en baie pret. Dit het ’n eenvoudige storielyn met een doelwit: om gehore te laat lag. Met al die moeilike tye wat mense tans beleef en die pandemie wat swaar op mense se harte lê, is hierdie net ’n klassieke komedie wat tussen die wêrelde van Leon Schuster en Adam Sandler sy plekkie vind.”
Francois is ook tans in die tweede seisoen van die dating-werklikheidsreeks, Op my eish!
Zack Snyder’s Justice League
As daar nou een fliek is waaroor daar al baie debat gevoer is, is dit 2017 se Justice League. Zack Snyder was aanvanklik die fliek se regisseur, maar ná die dood van sy dogter, het hy die leisels aan Joss Whedon oorgegee. Whedon is intussen in omstredenheid gehul nadat hy van “onprofessionele” gedrag op dié stel (en vele, vele ander produksiestelle) beskuldig is.
Die twis oor Justice League is egter meer spesifiek oor die groot veranderinge wat Whedon gemaak het – soveel so dat dit glad nie uitgedraai het in die fliek wat Snyder, of miljarde DC-aanhangers, envision het nie. Whedon se weergawe was ’n flop by die loket. Totaal en al.
Daar is toe wyd beywer vir die vrystelling van die sogenaamde “Snyder Cut” – ook die rolverdeling en produksiespan het die #ReleaseTheSnyderCut-petisie ondersteun. HBO het toe opdrag gegee vir die hervrystelling van die fliek – maar soos Snyder dit wou gehad het: Donker, grinterig…en lank (242 minute). Dis uiteindelik verlede jaar grootskerm toe en nou kan jy dit op Showmax kyk.
Die premis draai om die dood van Superman, wat lei tot die heraktivering van die Mother Boxes, millennia-oue toestelle wat die wêreld kan vernietig. Om te keer dat die Mother Boxes in die verkeerde hande beland, span Batman, Wonder Woman, Cyborg, Aquaman en The Flash kragte saam.
Vanaf 16 Junie.
My Brilliant Friend: Those Who Leave and Those Who Stay S3
Die Italiaanse HBO-dramareeks My Brilliant Friend, wat op Elena Ferrante se topverkoper-boeke gegrond is, keer vir ’n derde seisoen van dramatiese, meesleurende lief en leed terug. Die reeks volg twee vriendinne se coming-of-age-verhale in die tweede helfte van die 20ste eeu aan die buitewyke van Napels.
Soos die vorige twee seisoene, is die derde aflewering pragtig geskiet.
Ons tel eers Lila (Gaia Girace) se storiedrade op waar sy as enkelouer onder moeilike omstandighede kop bo water probeer hou. Elena (Margherita Mazzucco) het intussen ’n suksesvolle roman geskryf.
Seisoen 3 het ’n 100% kritici-gradering op Rotten Tomatoes, met die Washington Post wat skryf: “My Brilliant Friend is ’n reeks van seldsame omvang en ’n buitengewone prestasie.”
Die vierde en laaste seisoen, gegrond op die laaste roman in Ferrante se reeks, The Story of the Lost Child, het ook onlangs die groenlig ontvang.
Vanaf 9 Junie.
Ook nuut op Showmax in Junie:
1 Junie 2022
- Station Eleven (Ed’s Choice)
- Law & Order: Organized Crime S1
- Devils S2
- The Bay S2
- Shining Vale S1
- Black Power: A British Story of Resistance
- Uprising
- Dreamland: The Burning of Black Wall Street
- Lie With Me
- Subnormal
- Superstore S6
- Street Gang: How We Got to Sesame Street
2 Junie 2022
- Altyd Pa
- American Sicario
- Amooye S3
- Dolla
- Elsa & Magriet
- Grootste Treffers
- Kamer 6
- Ken jy my nou
- Mal
- Ongepoets
- Party kry ’n Naweek
- Peppermint
- Sak & Pak
- Snuf in die Neus
- Yakuza Princess
6 Junie 2022
- Behind The Story S5
- Have Faith S2-3
- Vanguard
9 Junie 2022
- Busiswa
- Her Majesty
- DJ Zinhle – The Unexpected
- Mbau Reloaded: Always Rise
- Me You Madness
13 Junie 2022
- John and the Hole
- Ovasie
- The Wrong Girl
15 Junie 2022
- Mayans MC S4
16 Junie 2022
- Meet Melusi
- Breaking News in Yuba County
- The Devil To Pay
17 Junie 2022
- Kyallo Kulture
20 Junie 2022
- The Protégé
- Nagval op Donkerdraai
23 Junie 2022
- Young Dylan S2
- The Card Counter
- Selfie Dad
27 Junie 2022
- Westworld S4 (Ed’s Choice)
- Godzilla v Kong