Carel Nel moet sekerlik een van Suid-Afrika se veelsydigste akteurs wees met ’n lys indrukwekkende en uiteenlopende rolle wat oor elke denkbare genre strek.
Van biografiese dokumentêre reekse waarin hy groot geeste soos president Abraham Lincoln (Grant) of hartsjirurg Christiaan Barnard (Hartstog) vertolk, tot ’n ekologiese riller wat sy debuut by die internasionale SXSW-filmfees in Texas gemaak het (Gaia).
En dan is daar nog ’n hele rits plaaslike produksies. Kyk gerus na die ellelange lys onder die artikel as jy enigsins twyfel aan dié akteur se fynsinnige talent.
Carel gesels met terloops oor sy verskillende rolle in Ridley Scott se bekroonde reeks, Raised by Wolves (albei seisoene is nou op Showmax vir ’n dubbeldoor-binge), en hoe dit voel om ’n action figure van sy Karl-karakter te hê.
Is ek reg as ek sê dit lyk asof jy meer skermtyd in seisoen 2 van Raised By Wolves gekry het? In watter opsig was jy meer, of selfs minder, voorbereid gewees?
Skermtyd is ’n sterk woord, aangesien een van my karakters nie ’n kop het nie, en vir ’n ander is ek ene prostese. Hoe sou ’n mens dan skermtyd definieër?
Met Raised by Wolves is dit moeilik om voor te berei, omdat hulle in blokke skiet. Episode een en twee is ’n blok, episode drie en vier is ’n blok, vyf en ses, ensovoorts. ’n Mens weet nie noodwendig wat in episodes drie en vier gaan gebeur terwyl jy episodes een en twee skiet nie, omdat jy die teks met die verloop van verfilming ontvang.
Ek het byvoorbeeld nie geweet dat die Android Teacher-karakter bestaan tot die aand voordat ons dit moes skiet nie. Hulle het my inderhaas gebel en gesê: “Daar is hierdie nuwe karakter wat hulle ingeskryf het. Kan jy môre kom en dit skiet?”
Ek het maar geleer om vir enigiets gereed te wees! Ek sou skat dis die meeste wat ek nog ten opsigte van voorbereiding geleer het.
Hou jy die rekord vir die akteur met die meeste rolle op Raised by Wolves? Jy vertolk die rolle van Bic, Able, Android Surgeon, Android Teacher én Karl. Jy is sekerlik nou al moeg vir ’n putty-mes en daai grys fietsryklere?
Ek dink nie enigiemand hou rekord as sulks nie, maar ja, ek is die enigste persoon wat verskeie karakters speel.
Wat dit nogal lekker maak, is dat dit eintlik verskillende weergawes van dieselfde karakter is. Dis eintlik dieselfde android, dieselfde masjien wat dan bloot gedupliseer word om verskillende jobs te doen. So jy sal ’n medic hê, jy sal ’n teacher hê, jy sal ’n surgeon hê. Hulle sal al hierdie verskillende goeters wees, maar hulle is eintlik almal dieselfde android. So die persoonlikheid is dieselfde, asook hoe hulle optree. Ek probeer wel om elkeen so klein bietjie uniek te maak om ook die idee te skep dat die androids evolve en hul eie persoonlikhede ontwikkel. Karl was byvoorbeeld vreeslik melancholies gewees, waar ek Able verskriklik chirpy maak. Hy is moerse happy oor wat om hom aangaan.
In die tweede seisoen het hulle die grimering bietjie makliker gemaak. Hulle het vir my ’n tipe helmet gemaak wat ek kon oorskuif en wat dan net vasgeplak kon word. Dit het baie tyd gespaar.
Wat dit egter moeilik maak, is dat ek nie kan sien nie en vreeslik sukkel om te hoor, so iemand moet my heeltyd rondlei. As iemand aan my vat dan weet ek nie wie dit is nie. Ek skrik die heeltyd en weet nie wat om my aangaan nie!
Dis nogal oorweldigend in terme van jou sintuie.
Watter deure het vir jou oopgegaan as gevolg van jou werk op Raised By Wolves?
Sjoe, dis ’n baie moeilike vraag om te antwoord. Niemand sal my in ’n rol plaas en sê: “Hoor hier, dis as gevolg van hierdie rol waarin jy was” nie. Ek het geen idee of dit my enigsins gehelp het of nie gehelp het nie. Dis great vir my CV, natuurlik. Dit help as jy op my IMdb-profiel gaan om te sien ek is in Raised by Wolves. Dit gee vir jou credibility. Hoeveel werk ek as gevolg daarvan kry, sal ek seker nooit weet nie.
HBO het ’n freaking action figure gemaak van jou karakter, Karl. Dis is ’n sonderlinge eer, nie waar nie?
Ja, ek was nogal verbaas gewees toe ek gesien het dat hulle ’n action figure gemaak het! Dis baie cool vir my. Dis ’n groot eer. Ek kan dit actually nie glo nie. Dis ’n bucket list item wat ek kan aftiek. Ek voel baie gevlei dat hulle een gemaak het, maar dit is immers die karakter wat Aaron (Guzikowski, vervaardiger) geskep het, so ek vat dit ook maar met ’n knippie sout.
Ek weet net nie hoe ek een in die hande gaan kry nie. Ek sal hulle maar moet e-pos en vir enetjie vra.
Dit is duidelik dat Suid-Afrika beslis die talent het in terme van akteurs en tegniese spanne as dit kom by kragte saamspan met internasionale produksies. Kom ons veronderstel jy is die groot besluitnemer en in beheer van ’n produksie van hierdie grootte, begroting en gehalte – watter tipe reeks (of film) sal jy graag wil maak?
Jis, dis ’n moeilike vraag. Ek dink daar is soveel scope in Suid-Afrika om stories te vertel. Ons is so ’n ryk en diverse land met soveel verskillende sosio-ekonomiese uittreepunte. Die omvang van wat ons kan skryf en kan skep, is enorm.
Ek sou die beste skrywers in ’n kamer bymekaar sit en aan ’n idee werk wat ’n mens aan die buiteland kan verkoop. Persoonlik love ek ’n goeie speurreeks. Ek dink ons kan ongelooflike speurreekse maak, bloot uit wat ’n mens in die nuus lees en wat werklik in hierdie land gebeur.
Ons het die tegnici, ons het die crews, ons het die regisseurs, die skrywers, die akteurs.
Ek dink dis ’n geval van “taking that step up” in terme van begroting. Hoe meer geld jy het, hoe meer tyd het jy om te skiet, hoe meer toys kan jy gebruik. Jy kan ontploffings doen, jy kan ’n kar rol, jy kan produksiekwalitiet op die skerm sit, jy kan jou span beter betaal.
Ek kan byvoorbeeld vir drie maande lank vir ’n rol voorberei, ek kan my hele voorkoms vir ’n rol verander.
Al daai goeters kos geld en met die begrotings waarmee ons tans werk, is dit net nie moontlik nie. As ons daardie uitdagings kan takel, sal ons met enige filmindustrie in die wêreld kan meeding.
Kry Carel Nel te siene in hierdie titels op Showmax: