Wat om te kyk op TV en aanlyn te stroom hierdie week – hier is ons top-keuses vir 27 November tot 3 Desember 2023.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Skerpioen

Weeksaande vanaf Woensdag, 29 November 2023, om 20:00 op kykNET & kie en DStv Stream (kanaal 145).
Dié oorgeklankte Turkse telenovela kom in die plek van Verbode liefde, met die storie wat draai om die intrige en drama in die lewens van ’n hele paar karakters wat lewensveranderende geheime wegsteek.
Een só geheim behoort aan Perihan Emgen, wat saam met haar dogter en skoonseun, Berna en Fikret, asook hul kinders woon. Perihan is eintlik ook die ma van Ferda wat sy op eenjarige ouderdom agtergelaat het. As volwasse vrou met haar eie dogter, Merve, blameer Ferda vir Perihan vir al haar probleme en begin dan ’n buite-egtelike verhouding met Fikret. Perihan probeer alles in haar vermoë om die verhouding te stop terwyl Ferda vasbeslote is om te veg vir die lewe wat sy glo sy moes gekry het. ’n Tragiese voorval verander egter alles en as Perihan se groot geheim op die lappe kom, is die gort gaar… Kort voor lank word almal in die buurt by Perihan en Ferda se vete ingesleep.
Plaaslike akteurs soos André Scholtz en Stephanie Baartman tree as stemkunstenaars op.
Bad Surgeon: Love Under the Knife

Vanaf Woensdag, 29 November 2023, op Netflix.
Dr. Paolo Macchiarini is wêreldbekend vir sy revolusionêre stamsel-lugpypoorplantings, maar daar is net een probleem: Sy pasiënte bly sterf…
Dié skokkende dokkiereeks volg ná die derde seisoen van die ewe skokkende Dr. Death-podcast wat die haas ongelooflike – en dodelike – verhaal van dr. Paolo Macchiarini vertel.
Soos die storie ontvou, sien ’n mens hoe Macchiarini as ’n tipe superchirurg en baanbrekende dokter beskou is. Maar net so skreiend duidelik is die web van leuens wat hy gespin het. Hoe dan dat dit so lank geneem het voordat hy voor stok gekry is?
In ’n mate, veral soos ’n mens luister na sy slagoffers se dapper families, sy voormalige verloofde, en kollegas wat fluitjieblasers geword het, voel dié driedelige reeks meer soos ’n angswekkende riller, eerder as ’n dokkie wat die moordende gemors wat die sogenaamde skepper van die wêreld se eerste plastiekorgane agtergelaat het, blootlê. Bad Surgeon is egter nie net ’n filmiese opvolg tot die podcast nie – daar is ook nuwe inligting wat onder die loep gebring word soos die stryd Macchiarini vir sy dade te laat boet, ontvou.
Slow Horses S3
Vanaf Woensdag, 29 November 2023, op Apple TV+ beskikbaar.
Dié donker en droë komedie, as jy dit nog nie ken nie, is een wat blerrie maklik is om in verlore te raak en op een slag te kyk. So eintlik beny ek jou as jy nou by die eerste seisoen kan begin…
Gary Oldman is manjifiek in Slow Horses as die grommige leier van ’n span Britse spioene. As Jackson Lamb is dié Oscarwenner nommerpas om aan die hoof te staan van ’n groep MI5-agente wat sulke groot foute in hul loopbaan begaan het dat hulle – saam-saam – tot in die uithoeke van die departement gedwing is. In die derde seisoen dreig ’n romance gone wrong om ’n MI5-geheim te ontbloot. Natuurlik beland Jackson en sy wanfunksionele span dan in die middel van ’n komplot wat die toekoms van MI5 bedreig.
Die reeks het ’n punt van 97% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes met The Wall Street Journal wat die reeks se filmiese gehalte en skitterende skryfwerk loof.
Angel City
Vanaf Maandag, 27 November 2023, op Showmax.
Angel City is ’n HBO-dokkiereeks wat ’n agter-die-skerms-blik werp op die baanbrekers van ’n vrouesokkerklub in Los Angeles, Angel City FC. Dié franchise behoort aan ’n hoogs indrukwekkende groep vroue met die eienaars wat die akteurs Natalie Portman, America Ferrera en Eva Longoria, asook sportsterre Abby Wambach, Mia Hamm, en Serena Williams insluit. Die driedelige reeks kyk onder meer na hoe die span ontstaan het, asook wat presies vereis word om ’n franchise soos dié van niks af te begin. Ons kry só ’n besonderse perspektief op hoe dié groep vroue dinge anders gedoen het – deels omdat hulle bloot moes – soos hulle vir gelykheid en respek beding het.
Ook nuut hierdie week:
Vanaf 27 November 2023:
The Good House, Showmax
Ompad, Showmax
Go Dog Go S4, Netflix
Dating with My Mates, om 18:00 op BBC Lifestyle en DStv Stream (DStv-kanaal 174)
Vanaf 28 November 2023:
Shipwrecks: When History Resurfaces S2, om 19:25 op die History Channel en DStv Stream (DStv-kanaal 171)
Comedy Royale, Netflix
Love Like a K-Drama, Netflix
Onmyoji, Netflix
Verified Stand-Up, Netflix
Vanaf 29 November 2023:
American Symphony, Netflix
Vanaf 30 November 2023:
Renfield, Showmax
Family Switch, Netflix
Connie and the Cat, Showmax
Olympians at Heart, Showmax
Tjommies, Showmax
Hard Days, Netflix
The Bad Guys: A Very Bad Holiday, Netflix
Obliterated, Netflix
Virgin River: S5 Deel 2, Netflix
Vanaf 1 Desember 2023:
Candy Cane Lane, Prime Video
My Family Christmas Specials, BritBox
Lees ook
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →