Menu terloops
In Recaps & Resensies [15 Nov 2023]

‘Hougaard’: ’n Reis van rugby, seerkry en skandale


Die vierde episode van ‘Hougaard: Liefling van Loftus’ op kykNET is ’n allegaartjie van openhartigheid en ontkenning, met Rian van Heerden wat nie skroom om die voormalige rugbyspeler Derick Hougaard onder harde vrae te laat deurloop nie.

Deur Annelene Oberholzer

Stroom nou aanlyn

‘Hougaard’: ’n Reis van rugby, seerkry en skandale

Derick Hougaard was eens die Liefling van Loftus maar hy is plettergevat deur sy eie demone na ’n ingrypende besering op die rugbyveld. Wat gevolg het was skandale, slaappille, hofsake en – die blaam op die media.

Rian van Heerden se aangrypende reeks, Hougaard: Liefling van Loftus op kykNET, oor die wonderkind van Piketberg wat die rugbywêreld aan sy voete gehad het met sy skopvoet, gaan jou soos ’n emmer yskoue water tref. Dalk harder as daardie berugte tackle van Brian “The Chiropractor” Lima op Derick tydens die Wêreldbeker in 2013.

Die reeks wat uit ses episodes bestaan, vertel die verhaal van die puntemasjien wat ’n gebreekte man geword het, een wat meer oor die verkeerde redes in die media verskyn as wat hy in sy gloriedae op die rugbyveld was.

En dié episode, die vierde van die reeks, is ’n allegaartjie van openhartigheid, ontkenning, ’n soeke na homself – ’n reis gevul met rugby, “seksbomme” en seerkry. En Rian hou nie terug wanneer hy ’n verwese Derick met in-diepte vrae konfronteer nie.

Hougaard
In episode vier van Hougaard moes Rian van Heerden en sy filmspan ’n driekwartier wag voordat ’n deur-die-blare Derick Hougaard eindelik die deur vir hulle oopgemaak het. Foto: Verskaf

Volksbesit

Dis die einste Derick wat ’n held vir oud en jonk  was, wat as die Liefling van Loftus male sonder tal op gesinstydskrifte se voorblaaie gepryk het, die man wat meisies se bene lam gelaat het met sy skamerige skewe glimlaggie . . .

Meer as 21 jaar nadat hy as 19-jarige vir die Bulle uitgedraf het word hy steeds as volksbesit beskou. Derick erken Pretoria was goed vir hom en dat hy die plek selfs koester, maar die prys wat hy moes betaal het, het hom heeltemal van stryk gedryf. En daaroor is hy bitter, vertel hy vir Rian.

Oud-Son en Sondag-joernalis Yolanda Barnard-Lemmer onthou Derick as ’n jong rugbyspeler – die naïewe outjie van die platteland wat nie van drank en dwelms geweet het nie – maar een wat baie gou byna elke ander dag met ’n nuwe model aan die arm gepryk het.

Dié prentjie het gou verander toe hy vir Saracens teen Leinster in ’n Heineken-bekerwedstryd in Wembley-stadion uitgedraf het. Sal hy ooit daardie knakgeluid van sy Achilles kan vergeet wat die einde van sy dae as rugbyspeler beteken het?

Derick en Karlien

Toe hy sy speelpatroon van die rugby na die “gewone lewe” moes aanpas, was dit weer sy persoonlike lewe wat die media se aandag getrek het. 

Die romanse tussen hom en die sangeres Karlien van Jaarsveld is oomblik-vir-oomblik deur die media verkondig en deur hul aanhangers verslind. Die twee duifies kon kwalik ’n oog knip sonder dat ’n kamera gekliek of ’n joernalis kontak gemaak het.

Eers het die twee se liefdesbootjie die land aangegryp en romantiese versugtings het hoogty gevier: sy was die pragtige blonde prinses en hy haar aantreklike donkerkopridder met daardie skewe laggie. 

Ná ’n paar hartbreek-oomblikke toe hul paadjies vir ’n kort tydjie uiteen gespat het, kon jy landwyd die sug van verligting en blydskap hoor toe hulle in Maart 2013 langs mekaar voor die kansel gestaan het. 

Om die idee van ’n perfekte paartjie nog verder af te rond, word hul tweeling (Eliah en Daniel) op 19 Desember 2013 gebore. Twee rugbyspelertjies in wording. Hoe dan anders? Maar ’n miskraam van hul dogtertjie op 19 weke laat die land saam met die gesin treur.

Die einde van ’n sprokie

Dit was nie al wat gebeur het nie. Die huwelik tussen Derick en Karlien het aan skerwe gespat en die twee het nie gehuiwer om mekaar liederlik in die sosiale media te takel nie. Dit was naar en die vuil wasgoed was the gift that kept on giving in die media.

Yolanda sê dis natuurlik dat daar altyd seks, skandaal en konflik sal wees wanneer twee A-lys celebs se paaie kruis. Ook hier was dit die geval. En sy is ook van mening dat beide Derick en Karlien aandagsoekers is wat sosiale media inspan wanneer hulle nie die nodige aandag geniet nie.

Van die eens Liefling van Loftus was daar min liefde te bespeur. En Karlien se prinseskroon se glans het verdof. Hofsake en dreigemente is heen en weer gegooi soos rugbyballe tydens ’n opwarmingsoefening. 

Kort ná hul egskeiding het die sangeres Nádine saam met Derick op die toneel verskyn, iemand vir wie hy baie respek het. Volgens hom dink hy nie “sy het [in 5 jaar] al ’n foto van my gepost nie, wat my laat voel soos ’n p**pol, maar dit is net [hoe] privaat sy haar verhoudings sien”.

Die media

Derick blameer die media vir baie van die harde lesse wat hy geleer het. Hy is spyt hy het nie 15 jaar gelede na oud-Springbok en SuperSport-omroeper Naas Botha geluister nie. Dié het gesê hy moet net altyd “no comment” sê as hy deur die media om kommentaar genader word.

Derick ontken ook wat in die media verskyn het, want hy voer aan dat alles waaroor hy met die joernaliste “soos grootmense” gesels het, nooit geskryf is nie.

Hougaard
Derick blameer die media vir baie van die harde lesse wat hy geleer het. Foto: Verskaf

Die “seksbom”

Dié petalje met twee gesellinsusters in ’n hotel in Pretoria het Derick se aanhangers onwillekeurig laat terugdink aan ’n situasie met nóg ’n legendariese Springbok en Bloubul ’n paar jaar vantevore. Ontkennings en toe later erkennings het in daardie geval gebeur. 

Maar Derick ontken alles. Dit was glo ’n jaloerse sakeman wat sy belange by Nádine wou kelder, wat die twee sussies betaal het om Derick in die situasie te plaas – “f*kken hel” – soos hy dit beskryf.

Oud-rugbyspelers

Rian het by verskeie oud-spanmaats en oud-Springbokke gaan inloer om uit te vind hoe hulle die einde van hul rugbyloopbane ervaar het. “Ek staan op en ek gaan werk”, het voormalige Blou Bul-speler Frikkie Welsh gesê en dit was die oorwegende terugvoer. O ja, en die rugbybaadjies bly in die kas as jy vir oulaas van die veld af is.

Dooiemansdeur

Toe Rian en sy filmspan by Derick opdaag vir nog ’n onderhoud, moes hulle ’n driekwartier wag voordat ’n deur-die-blare Derick eindelik die deur oopgemaak het. 

Sy spraak was onsamehangend en later vertel hy van ’n onstellende oproep van ’n “vriendin” wat hom slaap- en pynpille laat drink het. Hy kon glo nie aan die slaap raak nie. Sy het hom na bewering gedreig met ’n jaar-lange opname in ’n gestig.

Rian was nie onsimpatiek nie, maar hy was beslis wel baie ferm met Derick tydens die onderhoud.

“Vergeet van Liefling. Wie is Derick? Want Liefling is nie meer met ons nie,” het hy aan hom gesê.

Maar hy wou ook weet hoekom Derick medikasie inspan. Volgens Derick is dit die alleenheid wat hom daartoe gedryf het om tot 10 slaappille per dag te gebruik: Rugby, die miskraam en hy het sy kinders se grootword gemis: “Dis stolen, dis gone, dis weg…”


Kyk Hougaard: Liefling van Loftus Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) of kyk dit op DStv Stream.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies