Ek spandeer gemiddeld ten minste 600 minute of 10 uur per week om sepies te kyk. Arendsvlei, Binnelanders, Suidooster… You name it, I watch it. Sommige sal dalk sê ek het ’n obsessie, maar as die talent en die storielyne jou vasgenael hou, is dit eintlik net ’n kompliment aan ons plaaslike produksiespanne en sepiesterre.
Maar, dit beteken nie dat alle storielyne en tonele verdien ’n toekenning nie. Soms is daar storielyne wat só sleg is, dat jy bloot nie kan wegkyk nie. Vanjaar het ons sepies egter – gelukkig – eerder meer gevoel soos a gift that won’t stop giving. Daar was hartseer goodbyes, emmers vol drama en opwindende nuwe karakters. Ons het selfs ’n nuwe gemeenskap verwelkom.
terloops het ’n lysie met tien van 2022 se lekkerste, skokkendste en soms belaglikste sepie-storielyne opgestel. Kom ons herleef dié hoogdrama saam.
Dis fluit-fluit-tyd vir Wengrid
As jy ons sepierubrieke volg, is my eerste keuse glad nie verrassend nie. Ek het nie geweet ’n mens kan terselfdertyd só verheug en só hartseer wees nie. Dit was asof die Here my gebede gehoor het toe Wendy/Ingrid uiteindelik met lewenslange tronkstraf gevonnis is. Die vrou het met te veel moorde en onderduimshede in Arendsvlei weggekom. Ek het lank gewag vir haar dag, en toe dit kom, was dit Emmy-worthy!
Ons kon nie vir ’n beter aktrise as Rehane Abrahams gevra het nie. Dié vrou se hare tydens die hofverrigtinge was so wild, haar stem so creepy en haar oë so siek, dit het die hare op my arms kiertsregop laat staan. Sommige karakters word oor die jare slinks of verander ten goede, maar #Wengrid het, soos in die einste Miley Cyrus-liedjie, soos ’n wrecking ball in ons lewens ingeboender. Dit is hoe sy ingekom het en dit is hoe sy uit is. Ons het nog nie weer ’n goeie match vir Wendy gehad nie.
Kyk Arendsvlei op DStv Online.
Alle geheime kom uit
Toe Carmen (Desiré Gardner) laas in Suidooster was, was ek so bly toe Rhafiek (Irshaad Ally) geweier het om haar te sien. Hy en Kaashifa (Jawaahier Petersen) is mos couple goals in my oë, maar toe gee hy in. Natuurlik het hulle die aand saam spandeer en toe verdwyn sy weer. Ek het geweet daar is geen manier hoe daardie geheim in sepieland net sal sterf nie. Kaashifa en Rhafiek is toe getroud, maar toe kom Carmen terug met ’n groot boep! Die uitdrukking op Rhafiek se gesig was nog een vir die 2022-jaarboek.
Kyk Suidooster op DStv Online.
Die eindfluitjie het vir die Stryders geblaas
Die laaste twee maande van Getroud met Rugby het my emosies soos ’n yo-yo hanteer. Die skrywers het vir ons een skok ná die ander gegee. Sommige was asemrowend en ander het letterlik ons gunsteling-karakters se asems weggeslaan. Dit was bitter hartseer om die Stryders-gemeenskap ná 14 jaar te groet, maar hulle het beslis die beste vir laaste gehou.
Lienkie (Mandi du Plooy-Baard) se sterfte was maar net die begin van die sepie se bittersoet einde. Ek was beslis nie voorbereid op al die trane en hartverskeurende goodbyes daai laaste week nie. Lienkie se sterfte sal altyd een van my gunsteling TV-oomblikke wees. Vir ’n mooier einde kon ek nie gevra het nie. As ek eendag sterf, wil ek ook so op my gunsteling TV-bank saam met die belangrikste mense in my lewe saggies aan die slaap raak en die wêreld op so ’n rustige manier groet.
Maar in tipes Getroud met Rugby-styl, was daar nie net trane nie en het ons met een laaste vet jol in Potties van die Stryders-rugbygemeenskap afskeid geneem. Toe Bibi (Stephanie Baartman), Kristien (Marlee van der Merwe), Schalk (Johan Scholtz) en Fafa (Altus Theart) vir ons een laaste skitterende optrede gee, het ek saam in my sitkamer gedans.
Die hel was in Binnelanders los
Die hel is dié jaar in Binnelanders los met Tracy (Melinda Brink) en Lukas (André Lötter) wat agter Conrad (Hykie Berg) se rug die kat in die donker geknyp het. Maar dit eers nadat arme Amalia ontvoer is en haar oupa Andries (André Odendaal) vyf alteregos weggesteek het. Sjoe, dit het darem rof gegaan in die Bester/ Koster-huishouding. Maar wat is ’n sepie sonder lekker drama soos ’n ontvoering, ’n cheating scandal en ’n paar alteregos?
Kyk Binnelanders op DStv Online.
Sonskyn ná die storm met ’n nuwe TV-gemeenskap
Met elke einde is daar ook ’n nuwe begin – só ook vir drie Getroud met Rugby-akteurs, Stephanie Baartman, Werner Coetser en Altus Theart, wat hul stewels vir swembroeke in die nuwe kykNET-telenovela, Diepe Waters, verruil het.
Ons wou nie die Stryders-gemeenskap groet nie, so dit was lekker om ou gesigte in Diepe Waters te sien. Maar wow, hierdie program is nog net drie maande op ons kassies en daar het al reeds soveel gebeur. Temas van drankmisbruik, eetversteurings, mishandeling, toksiese verhoudings en familiebande is nie maklik om te kyk of te vertolk nie, but they go there en dit word briljant gedoen. Daar is soveel lae aan elke karakter. Frustrerende en onbeskofte karakters, soos Sanet (Nadia Valvekens) en Gys (Justin Strydom), is sterk op pad na dieselfde Whatsapp-groep as Wengrid. Hulle is nog nie op daai vlak nie, maar in my boeke is hulle sterk op pad. Dan is daar die nuwe talent soos Daniëlle Swanepoel (wat die rol van Karla vertolk) wat haar karakter só oortuigend en met soveel gemak vertolk, dat dit voel asof ons vir beide haar en haar karakter al vir jare ken.
Ek mis nie ’n episode nie en ek verwag groot dinge van hierdie gemeenskap in 2023.
Kyk Diepe Waters op Catch Up en DStv Online.
Tronkvoëls het orals ontsnap
So gepraat van mense wat uit die tronk uit ontsnap… Lyk my die tronkbewaarders het vanjaar op hul poste geslaap, want Henk (Quentin Krog) het ook dié jaar ontsnap. Ek dink meeste Getroud met Rugby-kykers het hul asems opgehou toe ons die video van Kristien (Marlee van der Merwe) sien. Henk is darem siek. Dit was hittete of Kristien was dood. Gelukkig is sy gered en sy en Pine (Gerald Steyn) is toe aan die einde saam die wêreld gaan ontdek.
Ons eie Stefano DiMera á la Days of Our Lives-oomblik
Ons weet nou dat Jeremy nie Beatrice (Jolene Martin) se oorlede man, David Abrahams (Oscar Peterson) is nie, maar die skok was tog te lekker toe ons hom die eerste keer sien. Ek sal nooit die uitdrukking op Beatrice se gesig kan vergeet nie. Dit was priceless en myne het seker presies dieselfde gelyk. Hy was maar net iemand wat soos David gelyk het en iemand wat Beatrice se hart weer kom sag maak het. Tog het ek hulle band geniet. Dit was mooi en spesiaal en die man wat ek dink Beatrice gehoop het David sou wees. Hoe sê hulle, some people enter your life for a reason, season or lifetime. Ek dink Jeremy was maar net ’n seisoen in Beatrice se lewe en dit was opwindend om vir ’n sekonde te dink dat David weer terug is.
Kyk Arendsvlei op DStv Online.
Nog staan uit die dood op
Jeremy was een skok, maar in die Days of our Lives–battle het Vanessa (Ingrid Paulus) in 7de Laan ’n hele ander tipe skok gekry toe sy uitvind haar oorlede man lewe wél nog. Ek het letterlik op my rug gelê en kraai van die lekkerte toe Vanessa sê: “Wat gaan aan in Hillside? Eers was dit Neville, toe Marvin en Werner wat uit die dood uit terugkom. Nou Xander! Wie is volgende… Madel Terreblanche?” Beter kon ek dit nie stel nie. Ek sê steeds niks is onmoontlik in sepiewêreld nie…
Kyk 7de Laan op DStv Online.
Eers ’n troue vol gif en toe ’n Prison Break-oomblik in die Laan
Ná maande se hartseer en baklei, lyk dit asof die Basson- en Welman-gesinne vir nou die strydbyl gaan begrawe. Maar watter sports was dit nie om al die drama te aanskou nie. Elke week was nog belagliker as die vorige een, maar hulle het my ongelukkig gevang. Ek was vasgenael aan my TV-skerm!
Eers het die hele Welman-gesin ’n gif-dis by Bonita (Hildegardt Whites) se troue geëet. En later is gif weer gebruik om Erika (Corine du Toit) uit die tronk uit te probeer smokkel. Maar in ware Erika-styl, kry sy sommer toe haarself uit die tronk. Sy kry toe vir Bonita en DeWet (Dirk Stoltz) langs die pad. Spring toe in hul motor en daar jaag hulle weg. Ja, ek weet (still rolling eyes in disbelief). Uit die bloute begin korrektiewe dienste hul motor jaag en op hulle skiet. DeWet skree vir Bonita om die stuurwiel te gryp terwyl hy uit die venster lê en terugskiet.
Hierdie tipe goed gebeur regtig net in sepieland en mag dalk vir kykers swak voorkom, maar vir my was dit sommer vet pret om te sien hoe DeWet sy beste aksieheld-moves uithaal. Dit was nou nie só angsaanjaend nie en hy sal nou nie ’n toekenning daarvoor wen nie, maar dit het my lekker laat lag.
Kyk 7de Laan op DStv Online.
’n Laaste totsiens
Die trane het behoorlik gerol toe ons onverwags vir Anton (Dean Richard Oliver) op sy troudag in ’n motorongeluk op Arendsvlei verloor het. Ek het hierdie een nie sien kom nie en die verlies was so erg, dat dit vir my gevoel het asof my emosies self deur ‘n motor getref is. Almal in die Vlei – maar veral Nicolene (Gretchen Ramsden) – was verpletterd.
Kyk Arendsvlei op DStv Online.