Menu terloops
In Gons [14 Mei 2025]

Operasangeres Brittany Smith binnekort met ’n lied in haar hart op ‘Suidooster’ 


Die Suid-Afrikaanse operasanger Brittany Smith maak binnekort haar sepiedebuut wanneer sy ’n gasverskyning in kykNET se ‘Suidooster’ maak.

Kyk 'Suidooster' op DStv Stream

Operasangeres Brittany Smith binnekort met ’n lied in haar hart op ‘Suidooster’ 

In Suidooster gaan Brittany Smith die rol van Yolandi, ’n sopraan wat ’n kortstondige verhouding met Riaan (Daniel Coetzee) gehad het, vertolk. Met haar rol in Suidooster wys Brittany nou ook haar vernuf as aktrise en kykers kan uitsien na ’n storielyn vol nostalgie, musiek en onverwagte emosie. 

Brittany, veral bekend as ’n operasangeres, het al die harte van talle gehore gesteel met haar optredes as My Fair Lady se blommeverkoper, Eliza Doolittle en ook as Maria in The Sound of Music. Sy het ook al ’n Fleur de Cap-toekenning ingepalm vir haar vertolking van Susanna in Le nozze di Figaro (2023).

Sy was ook in 2022 SARIE se Voorbladgesigwenner. 

Sy het met Terloops gesels oor haar sepie-ervaring, hoe dít verskil van die verhoog, en wat eintlik agter Yolandi se besoek aan Ruiterbosch skuil…

Suidooster, Brittany Smith, Yolandi
“Sy’s beslis ’n diva, maar met ’n sagte hart en goeie bedoelings,” is hoe Brittany Smith haar Suidooster-karakter beskryf. Foto: Verskaf

Wat kom maak Yolandi in Ruiterbosch en hoe sal jy haar beskryf?

“Yolandi is terug om ’n ou liefdesvlam te probeer aansteek, én om te help met fondsinsameling vir die kerk. Sy’s beslis ’n diva, maar met ’n sagte hart en goeie bedoelings.”

Met die verhoog as jou eintlike tuiste, hoe het dit gevoel om in sepieskoene te klim?

“Ek het dit só geniet! Ek moes myself net gereeld herinner om nie té groot te speel soos op die verhoog nie. Maar eintlik het dit steeds soos teater gevoel – net met baie meer kameras en ligte!”

Wat was vir jou die grootste uitdaging voor die TV-kameras?

“Om eerlik te wees, dinge het redelik seepglad verloop, want Suidooster is ’n goed-geoliede masjien en almal is baie behulpsaam. Ek is ’n vinnige leerder en het sommer gou my voete op stel gevind.”

Suidooster, Brittany Smith, Yolandi
Brittany vertel dat dinge seepglad op die stel van Suidooster tydens haar sepiedebuut geloop het. Foto: Verskaf

Wat het jy die meeste geniet van jou tyd op die Suidooster-stel?

“Dit was nogal vir my lekker om die dialoog so vinnig te bemeester – dit was ’n goeie uitdaging en het my omtrent op my tone gehou.”

Is daar iets nuut wat jy geleer het of nie geweet het nie?

“Beslis! Ek het geleer dis heeltemal oukei om foute te maak. Anders as op die verhoog, kon ons tonele oordoen as iets skeefloop – wat nogal ’n verligting was!”

Enige snaakse oomblikke agter die skerms?

“Elke keer as ek ’n blaps met my woorde gemaak het, het ek die snaaksste gesigsuitdrukkings gemaak – tot groot vermaak van my mede-akteurs en die span.” 


Brittany se eerste verskyning in Suidooster is Donderdag, 15 Mei 2025. 

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies