Ons het Wilhelm van der Walt se Skemergrond-karakter, Dirk, destyds ontmoet toe hy sy ma, Tillie (Deirdre Wolhuter), uit sy pa, Willem (Deon Lotz), se kloue kom red het, maar dinge het lelik skeefgeloop en Willem is in ’n struweling dood. Dirk en Tillie het daarna Willem se lyk op Everlasting gaan begrawe en nooit weer ’n woord daaroor gerep nie.

Wilhelm beskryf sy karakter as ’n “tipiese go-getter en sakeman” wat die lewe in die groot stad geniet nadat hy op Gemoedsdrif grootgeword het. Dirk het op die plaas Langverloren gewoon en het gemengde gevoelens oor sy kinderjare. Hy was mal oor die plaas, maar daardie liefde is deur sy aanmatigende pa oorskadu. In so ’n mate dat hy van sy eie herkoms en geskiedenis op die plaas vergeet het en net dollartekens in sy oë het.
Wilhelm sê hy geniet Dirk se dryfkrag en ambisie die meeste. “Hy het ’n no-nonsense-houding en voel die wêreld skuld hom iets… En hy verwag om te kry wat hy wil hê.”

Aan die ander kant is daar die meer komplekse sy van Dirk. “Die dele waar hy worstel met morele besluite oor goed en kwaad is uitdagend. Hy dink hy doen goed, maar terselfdertyd vernietig hy ook mense se lewens.”
Hy sien wel ’n bietjie van homself in Dirk, gee Wilhelm toe. “Ek is baie ambisieus en gedrewe soos hy. Ek is ook baie lief vir my ma en sal haar altyd eerste stel. Ek is wel nie so manipulerend en intimiderend soos hy nie.”
‘Een groot familie’
Wilhelm is mal daaroor om op die stel van Skemergrond te werk. “Ek geniet die mense vreeslik baie. Ek ken meeste van die groep van my Arendsvlei-dae af (waar hy Arnold Bekker vertolk het). Almal is een groot familie met baie respek vir mekaar en vir wat elkeen se verantwoordelikheid is.”
En om teenoor Deirdre en Dirk Stoltz te speel, bring hom groot vreugde. “Hulle is twee sulke powerhouse-akteurs. So, ek geniet dit vreeslik. Deirdre doen so baie voorbereiding, en ’n mens kan dit in haar werk sien. Sy is gefokus en gee my die vertroue en fokus om my werk goed te kan doen.”
Buiten Skemergrond, is Wilhelm vanjaar besig met drie toneelstukke wat na die kunstefeeste gaan. “Ek gaan ook my eerste eenmanvertoning aanbied, waarna ek baie uitsien,” sê hy.
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.