Menu terloops
In Silwerskermfees [14 Jun 2024]

Silwerskermfees 2024: Dís wat wag by 12de fliekfees


Filmmakers én die TV-bedryf gaan skitter by die 12de kykNET Silwerskermfees wat vanjaar vanaf 28 tot 31 Augustus plaasvind. Hier is wat jy kan verwag.

Silwerskermfees 2024: Dís wat wag by 12de fliekfees

“Die kykNET Silwerskermfees wil alles moontlik doen om nuwe storievertellers te vind, talent kans te gee om te skitter, en die bedryf ’n praat-, wys- en bymekaarkomplek te gee waar Afrikaans die gom is wat ons bind.”

Só sê Waldimar Pelser, direkteur van M-Net se Premium-kanale, oor die 12de kykNET Silwerskermfees wat vanjaar vanaf 28 tot 31 Augustus by die Bay Hotel en Theatre on the Bay in Kampsbaai plaasvind.

“Ons glo in die toekoms van Afrikaanse film en televisie, in die belangrikheid van ’n wye verskeidenheid stemme, en in die krag van stories om lewens te verander.”

Vir meer as ’n dekade al is die Silwerskermfees een van die mees gerespekteerde ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf. Een van die fees se sleutelbestanddele is die suksesvolle kortfilm-mentorskapprojek waardeur kykNET ’n nuwe generasie rolprentmakers se loopbane ’n wegspringplek gee.

In 2023 het dit na dokumentêre projekte uitgekring en vanjaar is die opwindende shotgun-kortfilms prominent in die kollig. Die fees het verlede jaar die idee vir die shotgun-kortfilms geloods, met gevestigde filmmakers wat gevra is om voorstelle vir professionele kortfilms voor te lê. In Augustus word dié films by die fees bekend gestel.

Buiten die ses shotgun-kortfilms tel ses speelfilms, agt kortfilms (deur opkomende rolprentmakers) en vyf kort dokumentêre rolprente onder vanjaar se debuutwerke.

’n Hoogtepunt op verlede jaar se program was die insluiting van loodsepisodes van splinternuwe televisie- en stroomdiensreekse en vanjaar gaan daar weer eksklusiewe voorskoue vir feesgangers wees.

Soos tevore word daar ook talle kenners na die fees gebring om insiggewende werkswinkels, paneelbesprekings en meesterklasse aan te bied. Van die onderwerpe wat bespreek gaan word, handel oor die hantering van intimiteit op stelle, die proses waardeur boeke vir die skerm verwerk word, en hoe ko-produksies werk.

Die fees word afgesluit met die Silwerskermtoekennings vir Film en TV waar die beste films van die fees saam met top-televisie vereer word. Dié glansryke geleentheid word op Saterdag 31 Augustus by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) aangebied. Dit sal die volgende aand, Sondag 1 September, op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai word.

Kaartjies vir die fees al vanaf 26 Junie op Quicket te koop wees.

Wat om te kyk

Speelfilms

SILWERSKERMFEES SSF24 Speelfilms

Die dekonstruksie van Retta Blom is gegrond op die chick-lit debuutroman van Zelda Bezuidenhout. Henriëtta Gryffenberg het dit vir die skerm verwerk. Dié drama bied ’n blik op die lewe van Retta (Antoinette Louw), ’n huisvrou wat vir jare lank baie tevrede was met haar rol as ’n ma van twee seuns en as ’n huweliksmaat vir Tobias. Die film vertel van haar dekonstruksie soos sy die sogenaamde sekerhede in haar lewe begin bevraagteken.

Annelize Frost maak haar debuut as regisseur met die oorspronklike Showmax romantiese komedie Gebokste liefde. In dié film speel Devil’s Peak se Tarryn Wyngaard ’n geskeide enkelma, Suma-Lee, wat swaar begin trek as sy haar werk as modeontwerper verloor. Oorweldig deur woede, begin sy bokslesse neem.

Stiaan Smith keer vanjaar terug as draaiboekskrywer en regisseur van die oorspronklike Showmax-moordraaisel, Die bloedhonde. Elani Dekker, wat teenoor Stiaan in Toorbos gespeel het, vertolk die rol van Katrien, wie se vakansie met haar gesin kortgeknip word deur ’n onverklaarbare dood in die oord. Katrien het snuf in die neus dat die geliefde plaaslike dominee, wat deur die legendariese Tobie Cronjé vertolk word, agter dié daad sit … Waldemar Schultz en Anrich Herbst is ook deel van dié komedie-drama se rolverdeling.

In nog ’n komedie, Som van twee, skuif die Hotel-aktrise Simoné Pretorius agter die kameras in as draaiboekskrywer en regisseur. Louw Venter speel Henk, ’n sielkundige, wat wil moed opgee ná die dood van sy vrou en sukkel om tot sy seun, Renier (Adriaan Havenga), deur te dring. By sy vrou se begrafnis bieg Henk dat hy destyds die matriek-wiskundevraestel aan die ganse Barberton uitgelek het, maar sy skuldbekentenis het ’n dramatiese, komiese domino-effek tot gevolg … Dié speelfilm se rolverdeling sluit ook James Borthwick, Greteli de Swardt, Righard van Jaarsveld en Pierre Breytenbach in.

Die vierde komedie wat vir beste speelfilm meeding, is Die Kwiksilwers. Dit bring ’n handvol doyennes van die Afrikaanse film- en TV-bedryf byeen. Lida Botha speel Elsabé Marais, ’n weduwee in haar tagtigs, wat drie vriendinne (June van Merch, Susanne Beyers en Theresa Sedras) oorreed om op ’n skreeusnaakse road trip deur die Karoo te gaan om ’n meteorietstorting in Sutherland te beleef.

Quanita Adams is nie net die draaiboekskrywer en regisseur van Hier.Na nie, maar ook deel van dié drama se rolverdeling. Die film spreek onder meer temas van gemeenskap- en geloofskwessies aan, en vertel die storie van die Burgess-familie, ’n oopkop gesin wat in die Kaapse noordelike voorstede bly. Quanita se karakter is Juleigha, wat verkies om eerder Julie genoem te word en haarself as ’n “nie-praktiserende Moslem” beskryf. As sy skielik aan ’n hartaanval sterf, gee haar sekulêre man, Eric (David Isaacs), toe aan hul dogter Leila (Shiefaa Hendricks), se versoek om saam met Julie se ma, Sumaya (June van Merch), ’n Moslem-begrafnis te reël. Eric, Leila, Sumaya en Julie se seun, Deen (Lyle October), moet nou jare se konflik en onderstrominge binne een onstuimige dag navigeer sodat sy, soos die Moslem-tradisie vereis, voor sonsondergang begrawe kan word.

Die veelbekroonde teater-, film- en TV-regisseur Jaco Bouwer se gruwelfilm Breathing In, wat tydens die Anglo-Boereoorlog afspeel, debuteer ook by vanjaar se fees – buite die raamwerk van die feeskompetisie. In Breathing In kom ’n swaar gewonde Boere-generaal, wat deur ’n geheimsinnige kruiedokter en haar anderwêreldse dogter verpleeg word, voor ’n veel groter bedreiging as die Kakies te staan …

Kortfilms

SILWERSKERMFEEES SSF24 Kortfilms

“Pop, skiet en donder.” So verkondig die plakkaat wat van Johann Vermaak se kortfilm Die groot twis verwag kan word. Dit het ’n heerlike retro-inslag met marionette, wat Marelize Viljoen se handewerk is. Dit gee ’n satiriese blik op die Groot Trek, met ’n aweregse perspektief op historiese figure en gebeure wat die poppe behoorlik laat dans.

Die skynwerper, ’n sielkundige drama geskryf deur Dewet van Rooyen en Linsen Loots, handel oor Nelis (Ben Albertyn) wat gekluister is aan sy donker verlede. Hy voer ’n afgesonderde bestaan saam met sy verlamde, verbitterde pa (Dawid Minnaar). Nadat ’n voorval by sy werk hom summier werkloos laat, vat hy ’n kans om deel te neem aan die werklikheidsreeks, Die skynwerper. Maar alles is nie pluis nie. Ná ’n mislukte oudisie raak Nelis agterdogtig oor Martin Minnaar (Gérard Rudolf), die aanbieder van die program wat ook ’n sielkundige manipuleerder is.

Liewe Dudu, ’n komedie uit Lydia Anne Stander se pen, handel oor Dudu (Gugu Madlanbane), ’n sprankelende skoonheidsterapeut by ’n stereotipiese (goedkoop) dag-spa in Pretoria. Tydens die jaarlikse inspeksie ontaard Dudu se dag in totale chaos. Eers kom sy laat aan by die werk, toe ontdek sy ’n dooie vrou op die terapiebed en, uit vrees vir blaam, skuif sy die liggaam met die hulp van haar beste vriendin, Lerato (Millie Dintoe). Die verdwene lyk lei tot paniek, want eintlik het die spa-bestuurder Nina (Zetske van Pletzen), haar begrafnisondernemer-kêrel, Lappies (Jaco Muller), toegelaat om die lyk tydelik daar te stoor …

Marie se laaste dag is ook ’n komedie wat die lagspiere gaan prikkel. Lourensa Eckard (joernalis en TV-aanbieder) en teatermaker Mercy Kannemeyer het kragte saamgesnoer om die storie, wat ná die afloop van die eerste demokratiese verkiesing in 1994 afspeel, te vertel. Marie (Mandri Sunderland), die jare lange sekretaresse van die minister van minerale hulpbronne, Hendrik van der Merwe (Deon Lotz), moet reëlings tref vir sy vergadering met die nuwe minister van verdediging, Mayihlome Khumalo (Dumisani Mbebe). Marie is gretig om die ideale van ’n nuwe Suid-Afrika te omhels en sy is selfs bereid om haar toekoms op die spel te plaas om by te dra tot ’n beter land. Of só dink sy…

Noise & Neighbours, ’n drama deur Fraser du Toit, vertel die storie van ’n verveelde dogtertjie en ’n man wat moed opgegee het. Bolelo (Maliaka Adonis), die dogter van ’n werkende enkelma, spandeer haar dae alleen. Die knorrige Helmut (Tobie Cronjé) woon in die woonstel onder hulle. Maar toe Bolelo ’n klavier vir haar verjaardag kry, verander alles …

O, Griet! Sy’s droog deur Zandélle Meyer word beskryf as ’n drama- en kunsfilm. Die kunstenaar Johan van der Merwe (Ugan Daniels) het drie vroue in hul eie geraamde skilderye vasgeverf. Hulle kan nie weer na die lewe daarbuite terugkeer nie en hulle hang ewe netjies langs mekaar teen die muur. Al wat hulle kan red, is ’n nuwe skildery van ’n meisie met pêrels wat oor towerkragte beskik.

Ons, ’n dramatiese riller deur Izel Bezuidenhout, handel oor die getroude paartjie Liezl (Izel Bezuidenhout) en Dirk (Jacques Adriaanse) wie se verhouding tot in die fondasies deur ’n reeks onthullings en ’n noodlottige gebeurtenis geskud word. Verraad, misverstande, liefde, dood en die sin van die lewe voer die botoon.

Steek vir steek, ’n komedie deur Jacqueline Viljoen en Jaco van Bosch, handel oor Rita (Susan Coetzer), ’n bejaarde vrou, en die tannies van haar breiklub wat ontdek dat hul aftree-oord verkoop gaan word. Hulle span saam om die jong eienaar, Gertjie (Andrew Jordaan), te konfronteer. Rita, met die hulp van die ontvangsdame, Koekie (Jacqueline Viljoen), skep ’n aanlynafspraak-toep om ouer mans te ontmoet en daardeur fondse vir ’n huurhuis in te samel. Sy beplan ook om wraak op Gertjie se oupa te neem, maar ontwikkel opregte gevoelens vir Oupa Gert (Jurgen Helberg), wat al haar plannetjies omverwerp.

Dokumentêre

SILWERSKERMFEES DOKKIES

By die soutwater, ’n dokumentêr deur Marguerite Venter en die Two Oceans Aquarium Foundation, belig die ander kant van die V&A Waterfront in Kaapstad se hart waar ’n span marinespesialiste, wetenskaplikes en vrywilligers seediere te midde van toeriste en ’n werkende hawe probeer beskerm. Tog, ten spyte van hul toewyding, trotseer hulle ook hartseer met hul getuienis van die lyding van diere, ’n seer wat hulle volhardend bly aanpak in hul strewe na ’n beter verhouding tussen mens en dier.

Gerrie Janse van Vuuren se dokumentêr, Jan Bloed, handel oor die lewe van Alister Fortuin, ook bekend as Jan Bloed, ’n voormalige lid van die Fast Gun-bende in Westbury, Johannesburg. Hy is ook ’n gewese generaal van die berugte 26-bende. Ons sien die plek waar hy sy eerste moord gepleeg het, sy “blomplekke”, en ons ontmoet mense uit sy verlede. Sy seun, Vercaino, is ook in die tronk. Gaan die pa en seun saamstap, of gaan hulle paaie skei?

Marisa van Tonder se liefde vir diere en haar besoek aan De Doorns het tot Maak stil die geblaf gelei. Dit gaan oor ’n groepie elfjarige kinders van ’n plaasgemeenskap en hul honde. Soos die kinders hul pad deur die lewe vind, op ’n plek waar geleenthede skaars is en geweld nader aan die huis kruip, leer hulle vir Tiger, Fluffy, Sussa en Lady om oor hekkies te spring en deur tonnels te kruip. Deur dié proses leer hulle deernis vir diere en vind hulle ook hul eie stem.

In Tussen die draad en die dropper reis die kyker saam met fotojoernalis Willem van der Berg om na ’n verlore meesterdraadspanner van die Karoo te gaan soek. Willem het ’n jare lange en noue verbintenis met Hans Jors en het in 2015 ’n artikel oor hom geskryf. Maar nou is daar geen teken van Hans nie en die boer vir wie hy ’n Karoo-koninkryk toegespan het, wil niks sê nie. Dit is ’n storie oor mense wat aan die verkeerde kant van die draad gebore is. Die kant waar jy net kan stilraak. Wegraak. En jy niks daaraan kan doen nie.

Vergeet van my is ’n musikale dokumentêr deur Dirkie van der Merwe en die akteur Beer Adriaanse. Toe Beer se ouers in 2021 hul stoorkamer skoonmaak, ontdek hulle ’n verlore swart krat vol foto’s, joernale en ook plastieksakke vol bandopnames wat tydens verskeie toere opgeneem is. Dié skat onthul dan ’n reeks gebeure wat ’n byna vergete tydperk in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf onder die loep bring. Argiefmateriaal wat oor tien jaar strek vertel ’n storie van ontdekking, coming of age en die droom om deel van iets groter te wees teen die agtergrond van ’n oplewing vir alternatiewe Suid-Afrikaanse musiek.

Shotgun-kortfilms

Silwerskermfees

Bennie Fourie se Baas se honne, waarvan hy ook die regie hanteer, is ’n donker komedie wat ’n dag in die lewe van Gys (Albert Pretorius) uitbeeld. Sy lewe is ’n gemors en hy bevind hom in ’n donker hoekie. Sy baas, Roelf (Carel Nel), saal hom op met ’n hondjie wat hy wil hê Gys van kant moet maak. Maar hoe kry enigiemand dit oor sy hart om ’n onskuldige brakkie wat niks makeer nie, uit die lewe te help? Gys moet ’n plan maak, want dis óf sy werk óf die woef. Die Safta-bekroonde musikant Peach van Pletzen het die klankbaan gedoen.

Adri Britz se Deuntjie is die eerste musikale komedie wat vanjaar by die Silwerskermfees bekend gestel word. Dit handel oor daai klein stemmetjie wat almal maar in hul kop het. In die geval van Deuntjie (Anja Taljaard), ’n skaam, pligsgetroue meisie, verskyn haar stemmetjie as Vera (Daneel van der Walt), ’n groot diva met twee flambojante backing vocals, Moses en Jacob, aan haar sy. Hulle sing en smokkel met arme Deuntjie se kop. Alles begin handuit ruk as Deuntjie nie meer kan onderskei tussen realiteit en die stemme in haar kop nie. Sal sy haar eie stem kan vind?

Die boodskapper is ’n fantasieverhaal met Rebecca Scher as vervaardiger en Paul Crafford as regisseur. ’n Mannetjie van klei word tot lewe gewek deur die trane van jong Jake (Liam Kruger), ’n seuntjie wat in sy ouers se bittere konflik vasgevang is. Jake het die mannetjie self uit klei geskep, maar nou het hierdie mannetjie ’n missie. Hy móét ’n weggegooide brief wat hy gevind het van Jake se pa, Frank (Emile Hager), aan sy ma, Susan (Izaan du Toit), aflewer.

In die verloop van, geskryf deur Philip Rademeyer en Emma Kotze, is ’n intieme film wat fokus op die alledaagse, te midde van ’n tragiese persoonlike verlies. Dit handel oor Jana (Emma Kotze) en Chris (Wilhelm van der Walt) wat ná ’n moeilike aand wakker word. Elkeen is vasgevang in hul eie gedagtes, maar daar is iets swaar en onuitgesproke tussen hulle. Soos hulle deur hul oggendroetine gaan, word die vorige aand se gebeure geleidelik onthul. Jana is beseer, ’n feestelike maal is onderbreek, daar is bloed op verskeie plekke in hul huis. Ten spyte van tragedie, vreugde, lief én leed, gaan die lewe onverpoos voort.

Liminale is ’n wetenskapsfiksiedrama uit Hanneke Schutte se pen. Dit delf in die verpletterde psige van die depressiewe Mia (Inge Beckmann). Mia is in ’n futuristiese inrigting en word geteister deur herinneringe van haar man se mishandeling. ’n Psigiater, dr. Venter (Michele Burgers), stel haar bekend aan baanbrekende VR-terapie. Hierdie unieke behandeling neem haar deur ’n surrealistiese liminale ruimte, ’n dimensie waar ’n doolhof van verlate plekke en haar interne demone bots.

Selah, deur die Safta-bekroonde regisseur Brett Michael Innes, is ’n ontstellende verkenning van postnatale depressie. Só ook word daar na die onuitgesproke uitdagings van ouers wat sukkel met hul nuwe verantwoordelikheid as ouers in die lewe gekyk. Dit handel oor ’n ma (Erica Wessels) wat met ’n koliekbaba sukkel. Sy vind haarself nie in staat om die harde werklikheid van moederskap te hanteer nie. Vasbeslote om haarself emosioneel te bevry, besluit sy om op te hou om weg te hardloop van haar skuldgevoelens, haar vrese en haar man se skaduwee.

Die veelbekroonde regisseur en kinematograaf Jozua Malherbe skep ’n ryk, meesleurende visuele droom met Stilte. Dit bied teenstrydige emosies rondom ’n gedig van Hunter Kennedy oor vaderskap en hoe ons met die loop van tyd verander… En tog ook dieselfde bly. Hunter, die liriekskrywer van Fokofpolisiekar en Die Heuwels Fantasties, lees self sy gedig voor. Dié kortfilm speel ook vanjaar buite-kompetisie by die fees. 

Wanneer kan jy vanjaar se flieks op TV sien?

Ná afloop van die fees sal al die Silwerskermfees-rolprente op kykNET uitsaai. Dit sal ook later op Showmax beskikbaar wees.


Vir die volledige Silwerskermfeesprogram, besoek die fees se webwerf: www.silwerskermfees.co.za

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies