Menu terloops
In Lysie-lysie [28 Apr 2022]

5 akteurs van die komediereeks ‘Hotel’ in 5 onverwagse rolle


‘Hotel’ se akteurs het hul karakters gegroet, maar jy het beslis nog nie die laaste van dié talentvolle lot spelers gesien nie.

Deur Watkykjy

Kyk nou

5 akteurs van die komediereeks ‘Hotel’ in 5 onverwagse rolle
Kyk lokprent

Hotel se lawwe karakters laat kykers van dié eiesoortige mokumentêre komediereeks sedert 2016 skater. Ongelukkig, soos die spreekwoord lui, kom alle goeie dinge tot ’n einde. En so het die werknemers van die denkbeeldige, sukkelende Fransen Hotel hul finale koebaais vroeër vanjaar gesê. (Al vyf seisoene is nou op Showmax, just by the way.)

Ai man, ons gaan mos nou vir Danny, Melanie, Boer Jaap, Jony en Dodgy Mike mis. Gelukkig is akteurs se beroepe wel van só ’n aard dat hulle soos verkleurmannetjies in verkillende ongewings kan aanpas. Soos, byvoorbeeld, vir dié vyf rolle waarmee Hotel se spelers ons onkant gevang het. 

1

Simoné Pretorius (Jony in Hotel)

Stroomop vertel die verhaal van ’n vroue-ondersteuningsgroep wat ’n epiese wild river rafting-avontuur aanpak. Die groep sluit in ’n dokter, twee ma’s, ’n dogter en ’n vrou met selfmoordneigings wat elk heling probeer vind. Dis dan die laasgenoemde vrou wat deur Simoné Pretorius vertolk word.

Die rol is redelik ver verwyderd van haar rol as Jony, die pretbederwer pliggie van Hotel. Sy is immers die een wat wat die sukkelende Fransen Hotel feitlik op haar eie aan die hang probeer hou.

Stroomop is belaai met intriges, ’n stadige onthulling van karakters se verledes en motiewe. By tye het dit vuishou-in-die maag-oomblikke.      

2

Mila Guy (Melanie in Hotel)

Jy moes teen hierdie tyd van jou lewe seker nou al só paar troues bygewoon het, of dit nou jou eie was, dié van familie of vriende, of as die naamlose metgesel van ’n vreemdeling se beste dag ooit.

Wonderlus spreek ’n hele paar temas en emosies aan, maar speel veral op die angstigheid wat deur ’n troue meegebring kan word. Kortom; ’n troue loop skeef en die oggend daarna moet vriende en vyande die legkaartstukkies van die vorige aand se gebeure probeer uitpluis.

Dis ’n klein, maar kragtige, kernrolverdeling met ’n kelnerin wat die hede probeer ontsnap, ’n bruidegom wat soek na die eintlike “one that got away“, en die bruid wat haarself uit die verlede ontknoop. Die bruid word deur Mila Guy vertolk.

Interessant genoeg het haar karakter en Danny in Hotel nogal ’n warrelwind, aanmekaargeplakte, en deurmekaar troue gehad.

3

Bennie Fourie (Dodgy Mike in Hotel)

Kyk, geen regdenkende persoon sal Dodgy Mike met ’n gekookte eier of selfs ’n klip vertrou nie. Jy sal wel saam met Bennie Fourie (as homself) ’n avontuur op ’n motorfiets wil aanpak nadat jy die eerste episode van Die Broer Toer gekyk het.

Drie broers, drie motorfietse en 2500km. Volgens Bennie is hy en sy twee sibbe, Wilbrie, ’n besigheidsontwikkelaar, en Reynold, ’n predikant, nie eintlik motorfietsryers nie… Die grootste vermaaklikheidsaspek van die reeks lê egter dan daarin dat die kyker wonder of die broers heel aan die ander kant gaan uitkom.

Die reeks vat jou op ’n asemrowende reis deur ons mooi land. Dit voel nogal soos ’n Afrikaanse weergawe van Top Gear, maar met ysterperde.     

4

Schalk Bezuidenhout (Danny in Hotel)

Deesdae is daar sosiale platforms soos Facebook, asook allerhande dating apps, om mense se romantiese sake te…vergemaklik. Die Kliek, aanbebied deur Schalk Bezuidenhout, het dit egter reggekry om die tradisionele wêreld van TV-dating met dié van sosiale media te versoen.

Basies krap ’n groep vroue in ’n voornemende blinkoog-metgesel se sosiale media, met behulp van die studio se rekenaar, Sarie, rond.

Hierdie was Schalk se eerste groot TV-werk direk na dramaskool en hy het seisoen 1 tot 5 aangebied. Later is hy deur die Afrikaanse superster rapper, Jack Parow, vir seisoene 6 tot 9 afgelos. Parow het homself knap van sy taak gekwyt, maar dit was lekker om Schalk terug op sy pos as matchmaker in seisoen 10 en 11 te sien.

Ja, dis steeds lighartige komedie, maar beslis nie die hofnar-tipe rol wat Schalk in Hotel vertolk nie. Daar is lekker tong-in-die-kies oomblikke, soms ook vanuit die hoek van die spitsvondige deelnemers. En dan is daar ook heerlike interaksie tussen Schalk en die vroue terwyl hulle die “ram” se stoel warmer maak.  

5

De Klerk Oelofse (Boer Jaap in Hotel)

Alhoewel Jaap een van die mees onbeholpe karakters ooit in Afrikaanse TV is, het hy ’n groot hart. Ek dink dis nogal iets wat die akteur wat die rol van Jaap vertolk, De Klerk Oelofse, met hom in gemeen het. Nie die onbeholpendheid nie! Eerder die gawe, deernisvolle en beleefde persoon wat hy is. Alles goeie eienskappe wat ’n mens sou verwag van die speletjieprogram-aanbieder wat kinders toelaat om die kollig steel.

Kyk Wie Praat is gegrond op die Britse game show, Small Talk, en sorg vir gesinsvermaak uit die boonste rakke. Daar is ’n groepie bekkige kindertjies tussen die ouderdomme van ses en nege jaar oud aan wie daar allerhande vrae gevra word. Vier volwasse deelnemers moet dan raai wat hulle dink die kleingoed se antwoorde op die vrae sou wees.

Soos jy dalk reeds weet: kinders is minder voorspelbaar as Eskom. Maak jouself dus gereed vir  klein mensies wat net so diep oor die groot vrae in die lewe dink, as die groot vrae waaroor grootmense hul kwel.

Kyk ook:

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies