Ek dink niemand het slegter luck as Tracy (Melinda Viljoen) in Binnelanders nie. Eers staan sy op trou, toe vind sy uit sy is swanger. Maar voordat sy haar sprokie kan geniet, word haar troue gekanselleer en vind sy uit haar baby daddy is nie haar verloofde nie, maar haar eks. Praat van ’n nagmerrie! Dit sal meer as een Xanax vat om my te kalmeer as ek in daardie stresvolle situasie was. Geen wonder die vrou het verdwyn om ’n bietjie vrede te gaan soek nie. Ongelukkig vir Tracy manifesteer ’n mens soms jou eie bad fortune. Nou is sy nie meer uit haar eie keuse weg nie. Dit lyk dan nou asof sy en arme Leah ontvoer is van die plek waar hulle weggekruip het. Ai!
Ten minste is Louis (Germandt Geldenhuys) en Naomi (Je-ani Swiegelaar) weer saam en het haar nuwe hart uiteindelik die pad terug na Louis gevind. Ook maar net betyds, want die spanning tussen hierdie twee en Naomi se hardkoppigheid het al te veel vir my begin raak. My arme hart kon dit nie meer uithou nie. Op hul manier is hulle dan Binneland se eie Meredith en Derek.
En daar groet Lennie (Dann Jacques Mouton) en Eva (Devonecia Swartz) vir Arendsvlei met ’n lang tafel en gebed wat my aan die laaste ete in die Bybel laat dink het. Eva se farewell speech was so hartroerend, selfs ek het na ’n sneesdoekie gegryp. As iemand vir my aan die begin gesê het dat Lennie Lightweight, die tronkvoël met ’n temper, ’n predikant gaan word, sou ek gelag het. Maar hoor wat ek sê: Audrey (Taryn Hess), die nuutste skurk in die Vlei is op Bompie (Jarrid Geduld) en Rachel (Kim Syster) se spoor… Slegs gebed gaan hulle nou kan help. Hier kom die einde, ’n mens kan dit sommer aanvoel.
Binnelanders
Delia (Odelle de Wet) word gedwing om die waarheid oor sy pa met Liam (David Viviers) te deel. Dit stuur hom na ’n donker plek met ernstige gevolge.
Tertius (Reynard Hugo) is desperaat om Tracy (Melinda Viljoen) en Leah te red en doen iets wat heeltemal buite sy karakter as mens is.
Wanneer Conrad (Hykie Berg) uitvind wat regtig met Tracy en Leah gebeur, span hy en Tertius hul kragte saam en dit eindig in ’n bittersoet ontmoeting. Maar hulle werk teen tyd en sal vinnig ’n plan moet maak as Tertius sy gelukkige einde met sy gesin wil hê.
Louis (Germandt Geldenhuys) en Naomi (Je-ani Swiegelaar) is soos tieners en kan hul hande nie van mekaar af hou nie. Nou wil Naomi ander help. Dinge kan egter nogal interessant en ongemaklik word, veral met Annetjie (Lorraine Burger) se nuwe stokperdjie. Maar shame, met alles waardeur sy is, gun ’n mens haar dit.
Binnelanders saai op weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook op DStv Stream) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.
Suidooster
Noudat Bridgette (Denise Newman) haar huis en maatskappy verloor het, neem haar lewe ’n interessante draai. Haar familie bekommer hulle oor haar keuses.
’n Mens sou dink dat Tim (Marco Spaumer) nou gelukkig sou wees met sy vrou aan die stuur. Nope! Dít is nie genoeg vir hom nie. Iets gebeur wat die gemeenskap ruk en ja, Tim sit agter die hele ding. Maar ’n mens sou nooit kon raai agter sy kamstige bekommerdheid en angs nie. Hy was nog altyd ’n wolf in skaapsklere!
Susan (Natasha van der Merwe) maak té dikwels swak besluite, maar met dié dat sy haar stalker in die tronk gaan ontmoet, kan dít haar swakste besluit nog wees.
Danni (Vashti Prins) sit voor ’n kruispad. Met Gary (Craig Adriaanse) wat terug in Ruiterbosch is, raak sy net al meer verward.
Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.