Hier is waarna jy hierdie week (18 tot 22 November) op Diepe Waters, Binnelanders en Skemergrond kan uitsien.
Diepe Waters
Sanet (Nadia Valvekens) se realiteit word weer geruk wanneer sy uitvind dat die geliefde Dominee Ben (Eric Bouwer) sy geloof verloor het toe sy hom verraai en soos ’n ou skoon weggegooi het. Dit is juis sy diep hartseer wat Mari (Diandra Slabbert) tot haar dade gedryf het. Die hof maak ’n finale uitspraak in ’n hartverskeurende toneel, waarin Diandra se talent skitter. Treffend op alle vlakke en nog meer in daardie finale toneel van die episode. Jy sal onmiddellik weet waarna ek verwys wanneer jy Diandra in daardie treffende toneel sien.
Tshepo (Johnny Potsanyane) se loopbaan kom tot ’n stilstand in ’n Wade van Niekerk-oomblik. Kom ons hoop sy loopbaan recover beter, want dit is beslis ’n hartseer week in Boskruin.
René (Marijke Coetser) dink regtig sy is katjie van die baan en dryf die tieners al hoe harder. Terwyl dit ongelooflike uitslae vir sommige swemmers het, is nie almal gelukkig daarmee nie.
Jacques (Werner Coetser) sukkel om vir Theresa (Mandi du Plooy-Baard) te help en hoewel hy haar jammer kry, is dit baie om te hanteer, veral as iemand nie na raad wil luister nie. Theresa wil haar eie kop volg en ek moet erken, Jacques het baie meer geduld as ek, want ek sou al lankal woorde met haar gehad het. PTSD is hectic, maar daar is darem ook goed wat mens kan doen om beter te voel. Theresa is regtig net onnodig en raak vreeslik onbeskof met Jacques. Sy kan bly wees hy laat haar nog daar bly.
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.
Skemergrond
Die Louws staan op die punt om alles te verloor ná hierdie week se groot bom wat bars. Ek wonder wie nog so naïef is om te dink dat alles net toeval is. Lyk my Hazel (Carmen Maarman) het uiteindelik iemand aan haar kant, maar kan hulle die res van die familie oortuig om Christine (Devonecia Swartz) se ware kleure te sien? Dit is amper tyd vir stap twee van haar plan en as ek so na dinge kyk, gaan sy presies kry wat sy wil hê.
Die dood is so naby dat Patty (Gretchen Ramsden) dit kan ruik. En danksy Ruan (Dann-Jaques Mouton) is Patty nie net die enigste eks van hom wat in gevaar is nie. Ruan beter vinnig antwoorde kry, want dit het die hare op my arms laat opstaan toe ek daardie slang in die kombuis sien sit en glimlag. So nooi mens onverwags die duiwel in jou huis in, nes JP!
Louis (William Adams) rafel nou heeltemal uit en doen iets heeltemal buite sy karakter. Dit is mos nie die Louis wat ons ken nie. Maar só raak goeie kinders die pad duister: wanneer volwassenes dom besluite maak waarmee die kind moet lewe.
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.
Binnelanders
Henry (Francois Lensley) kry nog slegte nuus oor Riekie (Zandelle Meyer) en dit bring hom en Ella ( Marlee van der Merwe) nader aan mekaar. En dalk is hierdie slegte situasie dalk tog die antwoord waarna Riekie gesoek het. Kan een tragedie jou van ander tragedie vryspreek?
Terwyl Nicolette (Kate Roothman) die swartskaap in haar familie is, weet almal dat Joe (Roberto Kyle) die golden boy in syne is. Tog dink ek hulle sou eintlik baie goed oor die weg kom as egos nie ’n probleem was nie. Ongelukkig hanteer Nicolette nie die situasie baie goed nie.
Ten minste is daar een nuwe paartjie wat dinge hierdie week amptelik Facebook/ Instagram-official maak en almal is hieroor opgewonde. Binneland-stereo gons behoorlik.
Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.