Ons sepievoorskou bring vir jou die inside scoop oor die grootste storielyne wat hierdie week in sepieland uitspeel. Hier is waarna jy hierdie week (14 Oktober tot 18 Oktober) op Diepe Waters, Suidooster, Skemergrond en Binnelanders kan uitsien.
Diepe Waters
Theresa (Mandi Baard) se paranoia was toe allesbehalwe in haar kop, maar die Boskruin-polisie slaap mos op hul pos. Haar eksman neem dinge te ver hierdie week en dit kom teen ’n prys. Sanet (Nadia Valvekens) voel dood binne en ek blameer haar nie. Maar ek blameer ook nie vir Karla (Daniélle Swanepoel) wat haar ma smeek om haarself weer te vind nie.
’n Ou gesig daag hierdie week net betyds op om almal se gemoed beter te maak. Maar tot sy verassing is daar min wat nog dieselfde is. Ek was ook ewe bly om hierdie gesig te sien, maar nie almal deel in hierdie gevoelens nie.
Intussen kry Gys (Justin Strydom) sy nuutste projek en ons almal weet daar is niks lekkerder vir Gys as ’n kampioen nie… Tog, hoekom voel ek dat dit met sy verhouding met Zelda (Sandi Schultz) gaan inmeng?
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.
Binnelanders
Om alles insluitend ’n gesig met ’n tweeling te moet deel, is een ding, maar om steeds jou lewe met jou oorlede tweeling te moet deel, is iets anders. Ella (Marlee van der Merwe) kan net nie van Marissa ontsnap nie en nou dreig dit om haar verhouding met LJ (Julian Robinson) te belemmer. Ek sou maar ’n gesigoorplanting soos John Travolta in die 1997-fliek Face/Off oorweeg, want so kan die spook van my evil tweeling nie vir my moeg maak nie. Gelukkig is Joe (Roberto Kyle) altyd reg om te help.
Uys (Gerald Steyn) en Nicolette (Kate Roothman) is al ’n tydjie krapperig met mekaar, maar kan dit dalk die begin van ’n nuwe romanse wees? Ek sal nogal nie teen hierdie match-up wees nie… Ek glo sterk daarin dat opposites attract. Nicolette is baie ernstig en Uys is soos ’n tiener, hulle kan mekaar baie help.
Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Suidooster
Ek was toe verkeerd en neem my woorde terug. Kaashifa (Jawaahier Petersen) het toe nie te veel gestres nie en het nie haar smaak weens haar stresvlakke verloor nie. Sy sukkel met haar sintuie weens ’n ander tipe gebak en ek is so bly vir haar. Maar hoe gaan Rhafiek (Irshaad Ally) hieroor voel?
Imelda (Ilse Klink) kry haar dag, maar al kan mense nou rustiger slaap, is daar ’n tweede verdwyning hierdie week wat die hele Ruiterbosch op hol het. Ek glo dit is ’n revenge verdwyning, maar wat weet ek mos… Die soektog is so intens, glo my, kykers gaan nie tot die volgende aand se episode kan wag nie! Selfs ek moes myself keer, want ek wou die hele week op een aand binge. Ek weet nie of dit karma is nie, maar vir een of ander rede vind tragedie altyd vir Bridgette (Denise Newman) en haar gesin.
Siya (Gantane Kusch) speel weer dokter hierdie week wanneer iemand hulself in die moeilikheid bevind en hulle nie hospitaal toe kan gaan nie. Siya kan homself ook net nie keer nie!
Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.
Skemergrond
Lily (Hildegardt Whites) kan nie besluit wat sy wil hê nie. Nou het sy moeilikheid vir verliefdes gaan maak.
Gelukkig is dinge nie net sleg in sepieland nie. Erica (Shimmy Isaacs) en Amber (Talia Davis) het my diep geraak met hul hartroerende toneel. Ongelukkig kan Christine (Devonecia Swart) nie dieselfde sê nie, maar sy was reg, daar is ’n baie groot geheim wat die Louws uitmekaar gaan ruk. Kykers se monde gaan oophang!
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.