Ek kan nie meer byhou met al die aangrypende storielyne in ons sepies nie. Dit voel asof daar net nie genoeg tyd in die week is vir al die drama nie. Dít is natuurlik die beste probleem om te hê en ek haal my hoed af vir al die skrywers agter die huidige naelbytende aksie op ons skerms. En hoewel meeste van die storielyne vir my op die punt van my stoel hou, is daar elke nou en dan ’n toneel wat so belaglik is, ek kan net lag.
Die tropiese storm in Binnelanders verlede week is ’n goeie voorbeeld van ’n toneel wat net nie geloofwaardig is nie. Gaan kyk maar op DStv CatchUp as julle my nie glo nie. Iets wat ek nie wíl glo nie, is die verhouding wat tussen Bianca (Simone Biscombe) en Dirk (Evan Hengst) ontwikkel. Ongelukkig is dit nie net in sepies waar mense op misdadigers verlief raak nie, kyk maar net vir Devilsdorp op Showmax…
Sepies op ons radar dié week is Binnelanders, Diepe Waters en Arendsvlei.
Binnelanders
Ek kan nie onthou dat ek al ooit so ’n intense storm op ons plaaslike sepies gesien het nie. Die tropiese storm wat op Binnelanders verlede week kop uitgesteek het was só erg, dat elke blitsstraal so helder soos ’n strobe light op ’n musiekfees was. Die donderweer was ewe indrukwekkend, maar waar hulle my heeltemal verloor het was die reën… of eerder die gebrek daaraan. Jy sal my nie in my motor of op die strate vind as daar so ’n intense storm buite is nie. Maar as ek wel my huis moet verlaat, sal ek beslis ’n miljoen lae klere aantrek.
In Binnelanders was dit egter nie die geval nie, want al het dit so woes daar buite gegaan, het meeste mense met kortmou-hemde (en elke haar in plek) by die hospitaal ingestap. Toe ’n prokureur by Conrad (Hykie Berg) opdaag was sy glo laat opdat die paaie toe was en die weer so erg was. Maar sy het dan nie ’n druppel reën op haar kortmou-bloes gehad nie en haar hare was ook nie nat nie. Arme Karen (Luandri Reynders) het darem gelyk asof sy ’n sikloon oorleef het. Dié se hare en klere het genoegsaam woes gelyk.
Kyk Binnelanders op DStv Online.
Diepe Waters
Hierdie week is dit sink of swem vir Rossouw (Altus Theart) en Anja (Reandi Grey). Met Karla (Daniélle Swanepoel) wat hul geheim uitgelap het, is daar nie meer plek om weg te kruip nie. My popcorn staan al reg, want ek mis vandeesweek se aksie vir niks. Sanet (Nadia Valvekens) gaan hulle vermoor. Mense beter uit haar pad uit bly. Ek dink selfs John Wick sou bang wees vir die nuwe weergawe van Sanet wat nou gaan uitkom. Hoor wat ek sê, die hel is los in Diepe Waters! En Zelda (Sandi Schultz) het nie ’n vinger gelig nie. Ek kan nie wag om haar gesig te sien nie.
Kyk Diepe Waters op Catch Up en DStv Online.
Arendsvlei
Kan iemand asseblief vir Saartjie (Hunter Plaatjies) stop voordat sy haar ma en Thys (Sherman Pharo) se verhouding vernietig? Ek dink haar ma gaan verstom wees as sy uitvind dat Saartjie die dief in die huis is en nie Thys wat vir ’n sjokolade gekruisig is nie.
Ongelukkig is daar groter probleme in die Vlei as sjokolade. Rachel Saaiman (Kim Syster) en Desmond Galant (Alistair Izobell) is wéér besig met hul skelmstreke en die Cupido-familie is wéér hul slagoffers.
Maar selfs dít is niks in vergelyking met die nagmerrie waarin Simone (Dawn Fisher) haarself bevind nie. Niemand wil haar glo nie en nou bully haar klasmaats ook vir haar oor die verhouding tussen haar en Derrick (Travis Snyder). Ek weet sy vrou weet Simone vertel die waarheid, maar hy is so glad met sy mond, dat almal sy stories glo. Ek hoop ons vind dié week uit wat regtig in PE gebeur het. As ek saam met hom ’n huis moes deel, het ek met een oog oop geslaap.
Kyk Arendsvlei op DStv Online.