Menu terloops
In Sepies [27 Jun 2022]

Sepies: Storielyn-hoogtepunte om dop te hou


‘Suidooster’, ‘Arendsvlei’ en nog: Hierdie is die sepies met die lekkerste, skokkendste (en soms belaglikste) storielyne hierdie week. Moenie dié hoogdrama misloop nie.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepies: Storielyn-hoogtepunte om dop te hou

Hulle sê keep your friends close and your enemies closer. Tog, ’n hele paar vriendskappe en verhoudings moet eerder heroorweeg word ná al verlede week se drama!

Sepies op ons radar vandeesweek sluit in Arendsvlei, Getroud met Rugby en Suidooster.

Suidooster

As dit nie Elana (Esther von Waltsleben) se nuwe meisie Retha (Milan Murray) is wat onbeskof is omdat Elana uit die goedheid van haar hart vir twee sukkelende tieners wil help nie, is dit Angie (Char Carrie) wat heeltyd met Wade (Dean Smith) se kop smokkel om verkeerde besluite te neem. Maar Tim (Marco Spaumer) vat steeds die koek… En ek het mos gesê elke hond kry sy dag. Wel, verlede week het Tim se dag gekom.

Ná maande se gekonkel en met moord wegkom, het Tim uiteindelik vir sy sondes betaal. Eina, dit was nou ’n duur les om te leer. Hy het nie net sy vrou verloor nie, hy moes ook sy werk en sy stuk van die Jacobs-pie (sy aandele in JPD) opgee. As jy nie wil hoor nie, moet jy maar voel. En dít het hy beslis. Ek is al so moeg van skelms wat met moord wegkom. Ek was dus voor in die koor om hierdie skurk se ondergaan te vier. Om eerlik te wees, weet ek nie wie lekkerder gekry het nie: ek of Nazeem (Irvine van der Merwe)?

Toe Zoë uitvind dat hy hul swangerskap vervals het, was daar nie uitkomkans nie. Toe sy hom finaal soos ’n ou skoen by die deur uitgooi, was dit briljante toneelspel. As kyker kon jy die haat en absolute gatvolheid voel. Sy het hom só uitgetrap, dat die see hom nie kon afwas nie!

Nee kyk, die was ’n dramatiese week in Ruiterbosch, maar die drama is nog lank nie verby nie. Ná Susan (Natasha van der Merwe) vir Elana soos ’n warm patat gelos het, het ek gehoop Elana sal weer liefde vind. Maar dié Retha-karakter dink te veel van haarself. Mos glad nie ’n match vir die sensitiewe en goedgeaarde Elana nie! Dit is net ’n regte snob wat eerder sushi wil eet in plaas van ’n tienermeisie se tuisgebakte pastei. Sy dink sy kan Elana beheer en manipuleer, maar hier kom ’n ding. En so gepraat van mense wat uitgevang gaan word. Fiekie (Irshaad Ally) beter vinnig vir Kaashifa (Jawaahier Petersen) van sy aand met Carmien (Desiré Gardner) vertel. As sy verlede week vir twee dae stilstuipe oor samoosas gekry het, gaan hul verhouding nie sommer daardie leuen oorleef nie.

Kyk Suidooster op DStv Online.

Arendsvlei

My hart het in stukke gebreek en ek was lanklaas SO teleurgesteld in ’n storielyn (en ek kyk ál die sepies…), soos die dag toe Angel (Chelsea Faith Thomas) met Priester (Whaden Johannes) in die huwelik tree. Dit was nou regtig ’n liefdelose ramp!

As jy op jou troudag nie een bekende gesig in die gehoor sien nie, is dit dalk ’n teken dat dit nie die regte verhouding vir jou is nie. En as jy eers ’n oproep aan ’n afwesige ouer maak om te sê dat jou troudag dalk die grootste fout van jou lewe gaan wees, dan moet jy regtig na daardie stemmetjie binne jou luister.

Maar ongelukkig het Angel die tekens geïgnoreer en het dié sepie se skrywers sowaar ’n goeie geleentheid gemis. Dit is net ’n sepie, maar vir baie kinders en mense is sepies hul leerskool en die enigste manier om opvoedkundige inligting te kry. In ’n tyd wanneer aborsies in ander lande onwettig gemaak word, dink ek dit was ’n goue geleentheid – en belangrik – om te wys dat vroue ’n keuse het. Jy hoef nie in ’n toxic of liefdelose situasie te bly bloot omdat jy swanger geword het nie. 

Ek het so gebid dat Parra (Jonty Isaacs) en Ma Leticia (Quanita Adams) se plan sou werk. Dalk as Daniel (Cantona James) ’n lift met iemand gevra het, in plaas van hardloop (I mean really…), sou hy betyds gewees het om Angel te stop. Hy kon mos iemand se motor geleen het en seremonie toe gejaag het! Maar die liefde was nie vir hulle bedoel nie en nou sal Angel maar soos Raponsie in Priester se mansion in Worcester opgesluit bly. En nou dat die Galant- en Le Fleur-families een geword het, gaan die poppe dans! Ons kyk maar wat suster Ingrid (Rehane Abrahams) dié week, ná die “troue van die jaar”, met haar nuwe familie gaan aanvang.

Kyk Arendsvlei op DStv Online.

Getroud met Rugby

Selfs ’n held is net so goed soos hul laaste goeie daad. Nadat almal aan die begin van verlede week Amanda (Natasja Jacobs ) se lof gesing het toe Kristien (Marlee van der Merwe) opgespoor is, het dinge darem vinnig verander.

Sy het van hero to zero gegaan, nadat die Stryder-gemeenskap se manne die nuus van Amanda se verhouding met haar bestie se eksman uitgelap het.

Bibi (Stephanie Baartman) verdedig nog heeltyd vir Amanda na dié soen wat haar huwelik met Jordan (Theodore Jantjies) beëindig het. Maar nou wonder sy of Jordan wél die enigste skuldige een was, nadat sy uitgevind het dat Amanda saam met Jordan in die bed gespring het. En boonop tans in ’n geheime verhouding met hom is. Sal Amanda die hitte kan vat? En is daar ’n kans dat sy haar vriendskap met Bibi sal kan red? Ons sal maar moet inskakel!  

Kyk Getroud met Rugby op DStv Online en Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies