Menu terloops
In Sepies [20 Jun 2022]

Sepies: Dís die drama waarvoor ons dié week wag


Hierdie is die sepies met die lekkerste, skokkendste (en soms belaglikste) storielyne hierdie week. Moenie dié hoogdrama misloop nie.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepies: Dís die drama waarvoor ons dié week wag

Sepies op ons radar vandeesweek sluit in Arendsvlei, Getroud met Rugby en Suidooster.

Arendsvlei

Benoude katte maak benoude spronge dié week in Arendsvlei. Maar kom ons hoop dat Angel (Chelsea Faith Thomas) nie een van hulle is nie. As sy dié week in die huwelik tree met Priester (Whaden Johannes), mis dié sepie se skrywers ’n goeie geleentheid.

Tot dusver is ek teleurgesteld in Angel se swangerskapstorielyn. Daar is só baie meisies wat hulself in hierdie situasie bevind en ek dink dit sou ’n dapper en opvoedkundige wending gewees het as sy op ’n aborsie besluit het. Sepies moet meisies se keuses oor hul liggaam begin normaliseer én storielyne vertel wat dit uitbeeld. Selfs as sy die kind laat aanneem, of met haar ware liefde, Daniël, die kind grootmaak, is dit ’n beter vertelling as een van net nog ’n meisie wat in ’n liefdelose en toxic verhouding bly bloot omdat sy swanger geword het.

Kom ons hoop Parra (Jonty Isaacs) en Ma Leticia (Quanita Adams) se plan om Angel en Daniël bymekaar te bring, werk. Ons soek nie trouklokke vir Angel en Priester vandeesweek nie.

Kyk Arendsvlei op DStv Online.

Getroud met Rugby

As ek ooit myself in ’n gyselaarsituasie bevind, wil ek ook die selfverdedigingsopleiding hê wat Kristien (Marlee van der Merwe) ontvang het. Sy het tot die einde geveg om uit Henk (Quentin Krog) se absolute siek kloue te kom. En dit het alles so vinnig met gechoreografeerde perfeksie gebeur. Dit kon natuurlik ook net adrenalien en domkrag gewees het, maar in ’n situasie waar ek seker uit vrees sou blank, het Kristien sonder ophou terugbaklei. Selfs toe sy so desperaat vir kos, water of slaap was, het sy sterk gebly en met haar woorde terugbaklei. Sy was ’n ware she-ro verlede week en die feminis in my was mal daaroor.

Ek is moeg daarvan dat vroue in sulke situasies as die mak en hulpelose slagoffer in sepies uitgebeeld word. Ja, dit gebeur in die werklike lewe, maar op my skerm soek ek ’n ander narratief, want vroue se daaglikse realiteit is hartseer genoeg in die werklike lewe. Ek wil kyk en voel asof elke vrou ’n Marvel-karakter kán wees. Ek wil hoop hê en ek wil voel asof ek ook in so ’n situasie kan oorleef. 

Ek het lanklaas so baie op my TV-skerm geskree soos verlede week. Elke keer as Henk in die vertrek gestap, en met sy vernederende praatjies begin het, of soos ’n vark geknor het, het ek myself vererg. Ek wou sommer terug knor en hom tussen die bene geskop het. Dit is absoluut te danke aan briljante redigeerwerk dat dit só ’n impak op my gehad het.

Die intensiteit van Vrydagaand se spanningsvolle dans van die dood-episode was tasbaar. Elke skerp beweging van die tango en sy musiek het Kristien se desperaatheid laat weergalm. En met die crescendo blaas Henk ook toe laaste asem uit. Bravo! My kop het gevoel asof dit self ’n tango-draai of twee ingekry het toe die beeldmateriaal so heen en weer tussen die dans-finalé en Henk se lewe-finalé geflits het. Nou moet ons maar wag om te sien of hulle betyds by Kristien kan uitkom. Sy is moeg, honger en weet glad nie waar sy is nie. Is Henk regtig dood of is hy net bewusteloos? Hoe gaan sy daar uitkom en wie gaan vir haar kom red?

Kyk Getroud met Rugby op DStv Online en Showmax.

Suidooster

Terwyl almal in Getroud met Rugby vir arme Anastasia (Jenine Grobler) wil preek oor haar lyf, hoe sy moet voel en hoe sy haar hartseer moet verwerk ná haar miskraam, wens ek Zoë (Lauren Joseph) wil net wakker skrik! Ek was nog nooit swanger nie, maar ek dink nie ek sal sommer so ’n dokter se woord glo sonder om my eie swangerskaptoets by die huis te doen nie. Waar is die sonar en die morning sickness? Almal se ervaring van swangerskap is anders, maar daar moet tog iets wees wat dit bevestig. En as jy geen verskil in jou liggaam voel nie, sal jy sekerlik jou eie toets wil doen net om seker te maak… Veral as jy op skei staan.

Waar is Danny (Vashti Prins) met ’n back-up toets vir Zoë? Maar gelukkig vir die Octobers kan een skelm ’n ander maklik uitruik. Nazeem (Irvine van der Merwe) val glad nie vir hierdie perfekte tydsberekening nie. Sal Bridgette ( Denise Newman) hierdie week haar trots sluk en saam met Nazeem werk om Zoë te beskerm? Of sal die familie dink dat dit net weer een van Nazeem se stories is? Ek kan nie wag om te sien wie almal mekaar dié week in die rug gaan steek nie. Tog, hopelik kry Zoë uiteindelik die regte antwoord.

Kyk Suidooster op DStv Online.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies