Menu terloops
In Sepies [13 Jun 2022]

Sepies: Dís die storielyne wat ons vandeesweek dophou


Hierdie is die sepies met die lekkerste, skokkendste (en soms belaglikste) storielyne hierdie week. Moenie dié hoogdrama misloop nie.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepies: Dís die storielyne wat ons vandeesweek dophou

Die leuens, skelmstreke en wraak ken geen einde in ons sepies nie en verlede week was beslis nie ’n uitsondering nie. Dinge gaan weer woes met die tronkvoëls wat ontsnap en die ooievaar wat al weer sy rondes doen onder ons sepiekarakters.

7de Laan

Ná maande se hartseer en baklei, lyk dit asof die Basson- en Welman-gesinne uiteindelik die strydbyl gaan begrawe. Dis nou nadat Hillside se grootste skelms verlede week kragte saamgespan het om Erika (Corine du Toit) landuit te smokkel. Nou dat almal se geheime uit is, het DeWet Basson (Dirk Stoltz) gevoel dit sal nie reg wees as almal behalwe Erika met “moord” wegkom nie. Erika het nou wel nie vir Rickus (André Lotter) vermoor nie, maar dit was darem amper. Boonop – op enige ander plek, buite sepiewêreld, sou sy wél daarin geslaag het om hom te vermoor. Daai skoot was net te naby!

Maar in ’n poging om die nuwe vrede tussen die families te bewaar, het Chris Welman (David Rees) en Mariaan Welman (Deirdre Wolhuter) ingestem om vir DeWet te help. Vir sy plan om te werk, moes DeWet egter die agterbakse prokureur, Lesedi (KB Motsilanyane), betrek. Dit het wél ’n bietjie omkoop geverg om Lesedi te laat instem. (Sy en Nazeem van Suidooster sou darem ’n goeie span maak). Eers nadat die Welmans vir haar ’n groter aandeel in die Heights-gebou aangebied het, het sy ingestem om Erika in die tronk te besoek om die gif vir haar te gee. Ná verlede week se massamoord poging met gif, lyk dit asof mense makliker toegang tot gif as sigarette in Hillside het. Of dalk is dit nog leftovers van die troue se gif-dis?

Almal was gereed vir die plan, maar in ware Erika-styl, kry sy sommer toe haarself uit die tronk. Ek weet nie wat sy gedink het gaan gebeur nie. Dalk was haar plan om langs die pad met ’n R20 te gaan hitch-hike? Gelukkig vir haar het DeWet en Bonita (Hildegardt Whites) haar langs die pad gekry.

Ja, ek weet (rolls eyes in disbelief). Dit is ook net in die sepiewêreld waar ’n mens uit die tronk uit kan ontsnap en dan amper deur jou eie mense omgery word. Nadat sy in die motor spring, het die regte sports begin! Uit die bloute begin korrektiewe dienste hul motor jaag en op hulle skiet. DeWet skree vir Bonita om die stuurwiel te gryp terwyl hy uit die venster lê en terugskiet. Vir sommige kykers mag dit belaglik wees, maar vir my was dit sommer die vetste pret om ons eie Michael Bay-oomblik in ’n sepie te beleef. Dit was nou nie so angsaanjaend nie, maar DeWet het beslis sy beste aksieheld-moves uitgehaal. Natuurlik het hulle weggekom. Nadat Erika vir Mariaan een laaste klap deur die gesig gegee het, is sy nou veilig in België. 

Kyk 7de Laan op DStv Online.

Getroud met Rugby

So gepraat van mense wat uit die tronk uit ontsnap… Lyk my die tronkbewaarders slaap op diens in sepiewêreld, want Henk (Quentin Krog) het ook verlede week ontsnap. Hier kom groot moeilikheid! Hy is in Desember gearresteer vir Ivy se verkragting. Wie sal nou daardie toneel vergeet waarin hy amper vir Kristien (Marlee van der  Merwe) vermoor het omdat sy nie so soet soos sy ander slagoffers was nie? Henk wou Kristien ’n les leer omdat hy gevoel het sy net moeilikheid wou maak. Gelukkig het Pine destyds net betyds met die polisie ingestorm. Maar nou is die skurk terug. Die hare op my arms het letterlik opgestaan toe ek Henk in Kristien se woonstel sien instap.

Dit het gelyk asof sy ’n spook gesien het en ek neem haar nie kwalik nie. Ek sou seker net daar ’n floute gekry het. Die Stryder-gemeenskap is op hol nadat Kristien verdwyn het. Is Henk terug vir wraak? Wat is sy vendetta teen vrouens? Sal die Stryders-gemeenskap weer koppe bymekaar kan sit om uit te vind waar Henk vir Kristien aanhou? Ons sal maar dié week moet inskakel om te sien hoe dinge gaan uitspeel! 

Sepies Kristien in Getroud met Rugby
Kristien (Marlee van der Merwe) in Getroud met Rugby het ’n moerse verrassing gekry toe Henk (Quentin Krog) by haar huis opdaag. Foto: Skermgreep

Kyk Getroud met Rugby op DStv Online en Showmax.

Suidooster

Die konkelaars is orals hard aan die werk. Dit lyk asof Tim (Marco Spaumer) al weer met sy skelmstreke besig is. Tim en Zoë (Lauren Joseph) het verlede week uitgevind dat hulle ouers gaan word, maar ek weet darem nie of dit waar is nie. Dit lyk meer soos ’n laaste desperate poging deur Tim om Zoë se besluit rondom die egskeiding te verander. Sy het amper uit sy bedrieglike arms ontsnap, maar toe kry hulle dié “goeie” nuus.

Ai, lyk my Tim wil regtig nie van sy lekker Oktober-erfporsie af skei nie. Het Tim die dokter omgekoop en watter groot besluit maak Zoë rondom die swangerskap dié week?

Tussen Anastasia (Jenine Grobler) en Ryno (Adrian Steyn) wat in Getroud met Rugby vir ’n vaderskaptoets se uitslae wag en Angel (Chelsea Thomas) in Arendsvlei wat swanger is en op trou staan met ’n man op wie sy nie verlief is nie, kan ek net nie met al hierdie swangerskap-drama byhou nie.

Kyk Suidooster op DStv Online.  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies