Menu terloops
In Recaps [17 Sep 2026]

‘Lottoland help ’n dorp’: Karoo-dorpie waar rustigheid en die soeke na ’n legende tot jou spreek 


In hierdie episode het Leah en die Lottoland-span se bussie by ’n dorp ingedraai wat landwyd bekend is vir daardie ontwykende vroulike ryloper waaroor daar al ’n fliek gemaak is en ook ’n liedjie deur Anton Goosen geskryf is – Uniondale.

Deur Annelene Oberholzer
‘Lottoland help ’n dorp’: Karoo-dorpie waar rustigheid en die soeke na ’n legende tot jou spreek 

Groot drome op ’n klein dorpie kan waar word – veral wanneer daardie blou koevertjie met Lottoland help ’n dorp se finansiële hupstoot iewers in ’n gewillige hand en ruim hart beland. 

Tydens die vyfde seisoen kykNET se gewilde werklikheidsreeks word elke dorp word agt weke gegun om hul droomprojekte af te handel. 

Maryke Haywood, bemarkingshoof: Lottoland SA, het vertel dat Leah van Niekerk in hierdie seisoen ses dorpe besoek, en soos met elke dorpie, word daar met groot afwagting na die transformasie van elke dorp uitgesien.

Dis Uniondale se beurt 

In hierdie episode het Leah en die Lottoland-span se bussie by ’n dorp ingedraai wat landwyd bekend is vir daardie ontwykende vroulike ryloper waaroor daar al ’n fliek gemaak is en ook ’n liedjie deur Anton Goosen geskryf is. Soveel verskillende vertellinge wat met elke oorvertel ’n nuwe kinkel bykry . . . 

Ja, dis Uniondale, ’n Wes-Kaapse dorpie sowat 110 km van George en 60 km van Willowmore. Anthea du Toit, projekspanleier, vertel dat mense veral Paasnaweek na Uniondale stroom in die hoop om die spookmeisie raak te loop. Maar sy het ook gepleit dat daar respek moet wees vir die familie wat hierdie groot verlies gely het.

Lottoland
“Warmte en vriendelikheid,” was Leah se gevoel met haar eerste besoek aan dié dorpie. 

Vir Anthea is hierdie dorpie in die Karoo ’n pragtige tuiste, selfs al woon sy nog net die afgelope 10 jaar daar. Sy wou hier kom aftree – maar watwou! Vandag het sy ’n gastehuis en ’n koffiewinkel en haar hande staan vir niks in die gemeenskap terug nie.

En dan is daar Anneke du Preez, projekspanlid, ’n gebore Uniondaler – daar gebore, skoolgegaan, gaan studeer en net een pad geken: terug huis toe!

Ikey Lee, projekspanlid en oud-skoolhoof, het op sy beurt vertel dat die rustigheid van Uniondale mense onmiddellik met hul aankoms aanspreek – ongeag of jy per motor, motorfiets of selfs te perd hierdie Karoo-juweeltjie binnery.

“Warmte en vriendelikheid,” was Leah se gevoel met haar eerste besoek aan dié dorpie. 

Dan is daar natuurlik Dirkie Coetzee, gemeenskapslid, immer gereed om besoekers aan die dorp met Toekie, sy tuk-tuk, deur die dorp te neem en natuurlik het hy heelwat stories om te deel. Soos dié en van die dominee wat in die tjoekie beland het en die Stryd-kerk omdat die gemeentelede sonder ophou gestry het voor hulle nog die kerk kon bou . . .

Passie-projek

Anthea het vertel dat daar baie kinders in Uniondale is wat oor hope potensiaal beskik. En die kinders lê baie na aan die inwoners se harte. Altus Strydom, projekspanlid wat die inskrywing gedoen het, is 68 jaar gelede hier in Voortrekkerstraat gebore, hier skoolgegaan en hy glo dat sy ma vir hom die voorbeeld was van hoe om na jou dorp te kyk.

Hul projek het nie verniet Projek Handevat geheet nie. “Dade, nie woorde nie,”  het Anthea verduidelik. Dieselfde woorde is ook deel van die skool se lied. Boonop het Dalene Matthee, formidabele skrywer, ook destyds in Uniondale gewoon. Sy het geglo as ’n kind ’n onreg aangedoen word, word dit nooit vergewe nie.

Die rugbyveld, ’n boorgat, gras was maar net ’n paar van hul behoeftes. Uniondale wil ook in 2027 die Suidoos-Kaapse skole atletiek hier laat plaasvind. En natuurlik sokker vestig asook die netbalbane ’n bietjie regruk.

Lottoland
By die kleuterskole het daar groot opwinding geheers en talle klein handjies was meer as bereid om te help verf.

Die groot droom? Vir Uniondale se kinders om die wêreld buite die twee berge wat die dorp omring, ook te kan ervaar. Op ’n positiewe manier, was Roland Billet, skoolhoof en projekspanlid, se versugting.

Natuurlik kon die geskiedenis nie agterweë bly nie en een van die forte, wat deur vandale beskadig is, het ook op hul passielysie verskyn. Die Voortrekkersaal, bushaltes, kleuterskole en ingange het ook op die immergroeiende wenslysie verskyn.

Leah het laggend opgemerk dat dit in alle waarskynlikheid die langste lysie is wat tot nou toe nog op Lottoland help ’n dorp opgeduik het.

Die blou koevertjie

Toe Leah by Anthea wou hoor wat die veranderinge wat hulle beoog, eintlik vir die dorp gaan beteken, het sy kortliks gesê: “Dit gaan Uniondale op die map sit.” Maar sy moes ook erken dat dit hartseer sou wees indien hulle nie befondsing sou ontvang nie. 

Gelukkig was Anthea se reaksie so positief oor hul pad vorentoe, dat Leah haar enige verdere kommer wou spaar en het sy daardie blou koevertjie in haar bewende hande geplaas.

En dit was met ’n ewe bewende stem dat Anthea voorgelees het: R800 000 vir Projek Handevat. Soos die nuus versprei het, het die trane ook wyd geloop.

In die pylvak

’n Baie welkome en tydige reënbui het ook uitgesak terwyl die rugbyveld kruis en dwars geploeg was. ’n Privaat-skenker het gehelp om onder andere met die besproeiing en opgaardam uit te help.

Die Voortrekkersaal se krake is toegestop en dit het sommer weer spiekeries gelyk nadat die saal geverf is. Daar is ook ’n watertenk en geute aangebring, met roosbome wat ook geplant sou word.

Kobus van Rensburg, ’n vrywilliger wat betrokke was by die fort se restourasie, het vertel dat daar geen skietgat meer oor was nie. Hulle moes gaan soek het na die regte oorspronklike stene gaan soek om die restourasie outentiek te hou. Deesdae spog die fort weer met 17 skietgate.

By die kleuterskole het daar groot opwinding geheers en talle klein handjies was meer as bereid om te help verf.

Die laaste inloer – en ’n ramp tref die dorp

Lottoland
Nie net een nie, maar twee ingrypende vloede het Uniondale getref kort voordat Leah vir die finale kuier wou gaan inloer het.

Nie net een nie, maar twee ingrypende vloede het Uniondale getref kort voordat Leah vir die finale kuier wou gaan inloer het. Maar Moeder Natuur het ander planne gehad. 

Die blou bussie kon nie die dorp inkom nie en die spertyd was nie haalbaar nie. Soveel water (480 mm reën in twee weke), soveel skade, paaie wat weggespoel het – daar moes net grasie verleen word, al het dit lang ompaaie na Uniondale beteken.

Tussen alles deur was daar ook stukkies genade. Die nuutgeplante grassaadjies op die rugbyveld het nie weggespoel nie. Maar dis nie al nie. 

Ten spyte van die enorme terugslae kon Anthea en haar span daarin slaag om al hul projekte klaar te maak. Nog net die pomp moet in die boorgat gesak word, maar met Leah se besoek het die water nog uitgeborrel vanweë die oormaat reën.

En die spookvrou het weliswaar haar kop verloor… Die groot vraag was natuurlik of dit vanweë die storm was en of dit deur iemand vasgelê is? Ongeag die antwoord, daar was wel ’n beloning uitgeloof vir die herwinning van haar kop.

Die begroting

Die R800 000 is so aangewend:

  • Netbalbaan: R210 620
  • Rugbyveld: R231 320
  • Landboutuin en boorgat: R108 277
  • Fort: R15 790
  • Bushaltes: R12 322
  • Voortrekkersaal: R80 890
  • Speelparke: R63 660
  • Skaakvierkant: R27 630
  • Ingange: R35 070

Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom op DStv Stream. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies