Menu terloops
In Redakteurskeuse [4 Sep 2022]

Redakteurskeuse vir September 2022


Wat om te kyk: Die redakteurskeuse vir September sluit in die lang verwagte TV-verwerking van die ikoniese ‘Lord of the Rings’-saga, die Afrika-fantasiereeks ‘Blood Psalms’ en die nuwe Afrikaanse dramareeks, ‘Fraksie’.

Deur Rozanne Els
Redakteurskeuse vir September 2022

Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir September.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

I Love That For You S1

Die geniaal-snaaks Vanessa Bayer moes al lankal ’n reeks van haar eie geskep het. Sy het ’n eiesoortige styl met impeccable comedic timing. Met I Love That For You, kry Bayer uiteindelik ’n gefokusde vertoonkas. Die komediereeks het sy wortels in Bayer se kinderjare-ervaring met leukemie. So, ja, daar is ’n hele paar heilige koeie wat hier met lekker lag geslag word, maar eerder as wat dit op haar ervaring gegrond is, gebruik sy dit meer as inspirasie. 

Bayer se karakter, Joanna Gold, het ’n grootse droom op ’n aanbieder op een van Amerika se gewilde home shopping-kanale te wees. Dit gaan egter broekskeur met dié droom – soveel so dat sy besluit om te jok en te sê haar kinderkanker het teruggekeer. Die leuen is lelik, maar dit werk. En siedaar! Sy’s op die kassie. Natuurlik is daar ’n duur prys te betaal… 

Klink ernstig, nè? Dalk die inhoud, nie die vertelling nie. Dís dan juis hoe Bayer haar kreatiewe genialiteit wys.  

Die reeks het ’n punt van 81% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes. Die res van die rolverdeling sluit onder andere vir Molly Shannon en Paul James in. 

Vanaf Maandag, 5 September, om 21:30 op 1Magic (DStv-kanaal 103), asook DStv Online en Catch Up.

Blood Psalms S1

In Showmax se nuutste oorspronklike reeks, Blood Psalms, blyk die einde van dae op hande te wees. In dié aksiebelaaide fantasiereeks – ’n ko-produksie met CANAL+ – word bloed mildelik verspil in die strewe na mag. Die storie speel af in Kemet, in Antieke Afrika, sowat ’n duisend jaar ná die val van Atlantis. Die geboorte van prinses Zazi (vertolk deur Bokang Phelane, Isidingo) bring egter ook ’n profesie: die einde van dae sal op haar 18de verjaardag begin ontvou.

Die skeppers is Layla Swart en Jahmil X.T. Qubeka van Yellowbone Entertainment. Hulle was ook verantwoordelik vir Suid-Afrika se inskrywing vir die 2020-Oscars, Knuckle City.  

Onder die fantasiereeks se spelers tel die SAFTA-wenners Bongile Mantsai (Knuckle City), Hamilton Dlamini (Five Fingers For Marseilles), Hlubi Mboya (Isidingo), Siv Ngesi (DAM), Richard Lukunku (Happiness Is A Four-Letter Word), Thando Thabethe (Reyka), Zikhona Sodlaka (The Wife), Faniswa Yisa (DAM), Faith Baloyi (Flatland) en Thabo Rametsi (KalushiSilverton Siege).

Die Afrika-fantasiereeks Blood Psalms sal vanaf 28 September met weeklikse episodes op Showmax uitgesaai word.

Steinheist

Leuens, boeke wat nie klop nie en beleggers wat miljarde kwyt is – Showmax se nuwe dokumentêre reeks oor die Steinhoff-skandaal gee vir ons ’n blik op hoe dié grootse korporatiewe bedrogspul ontvou het.

Steinheist sal vanaf 22 September 2022 op Showmax wys, met nuwe episodes elke Donderdag tot en met 6 Oktober 2022. Lees meer oor die reeks hier.

Lord of the Rings: The Rings of Power S1

Daar is groot verwagtinge van die eerste TV-verwerking van J.R.R. Tolkien se skouspelagtige verhale van Middel-Aarde.

As jy so lief vir Tolkien se boeke soos ek is, is jy dalk ook effe senuweeagtig oor Amazon Prime Video se vertelling,The Lord of the Rings: The Rings of Power.

Die storie begin in ’n tyd van relatiewe vrede en volg ’n groot groep karakters midde die opkoms van donker magte in Middel-Aarde. 

Hoewel dit duisende jare voor die gebeure van Tolkien se The Hobbit en The Lord of the Rings-boeke afspeel, is daar ’n amperse besitlikheid oor die verbeeldingsreise waarop Tolkien my geneem het. Reise na koninkryke wat tot glorie verrys het, net om weer in puin gelê te word; ontmoetings met onwaarskynlike helde; hoop wat nie vergaan nie, en duisternis wat dreig om alles te oorheers. 

Hopelik is my kommer vir niks – die eerste episode is immers binne die eerste 24 uur ná vrystelling op 2 September deur meer as 25 miljoen mense gekyk. 

Kyk dit nou op Amazon Prime Video. 

Ook op my moet-kyk-lys:

Fraksie

Fraksie is geskep deur die skrywer-vervaardigers Louis Pretorius en Albert Snyman. Hulle is ook vir treffer-reekse soos Die Boekklub, Troukoors en Fynskrif (al drie is op Showmax) verantwoordelik.

Die reeks spog met ’n skitter-rolverdeling wat onder andere Edwin van der Walt, Marlo Minnaar, Trix Viviers, Crystal Donna Roberts, Melt Sieberhagen, Roeline Daneel en Lee-Ann van Rooi insluit.

Fraksie draai om ’n beleggingsbestuurder wat drome koester om eendag ’n dollar-miljoenêr te word.

Kyk Fraksie vanaf Dinsdag, 13 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), DStv Online en Catch Up.

Pulp Fiction

Die ikoniese Quentin Tarantino-fliek, Pulp Fiction, is uiteindelik op Showmax beskikbaar om (oor en oor en oor) te stroom. Dié fliek het Tarantino as ’n gerekende popkultuur-storieverteller gevestig – só ook die beeld van Uma Thurman se swart Cleopatra-styl haarkapsel en die sigaret wat tussen haar vingers hang. Die Oscar-bekroonde kultusfliek is steeds onder die top-tien flieks van alle tye op IMDb. Buiten Thurman sluit die rolverdeling ook vir Samuel L Jackson, Bruce Willis, Tim Roth en Ving Rhames in. 

Stroom vanaf 15 September op Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies