Menu terloops
In Redakteurskeuse [1 Okt 2024]

Redakteurskeuse vir Oktober 2024


Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, ‘Hacks’, kopdokters wat dinge sê nes dit is in ‘Shrinking’ S2, en agter die kospotte in ‘Julia’ S2 en die nuwe realiteitsreeks, ‘The Pasta Queen’, tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Deur Rozanne Els
Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir Oktober 2024.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

Shrinking S2

Vanaf Woensdag, 16 Oktober 2024 op Apple+ beskikbaar om te stroom

Baie soos die skepper van Brooklyn Nine-Nine, The Good Place en Parks & Recreation, Michael Schur, is daar min wat die vervaardiger Bill Lawrence nie van TV – en van wat werk op TV – verstaan nie. Bill is die skepper van reekse soos Scrubs, Spin City, Ted Lasso, en Shrinking, met laasgenoemde se tweede seisoen wat vandeesmaand begin. Shrinking se premis – ’n sielkundige verloor sy filter ná die verlies van sy vrou en praat eina-reguit met sy pasiënte – is ’n empatiese uitnodiging aan enigiemand wat al op hul tande moes kners en hul mond mos hou en sodoende hul waarheid en menswees moes inboet. Jason Segel in die hoofrol en akteurs soos Harrison Ford en Jessica Williams as byspelers, tesame met ’n draaiboek wat ’n genuanseerde, tog humoristiese blik op rou (en alles wat daarmee saamgaan) gee, maak van Shrinking ’n kragtoer van radikale eerlikheid en kwesbaarheid. 

Hacks S3 

Binge op Showmax vanaf Vrydag, 11 Oktober 2024 

Dis ’n welverdiende driekuns vir Jean Smart! Dié aktrise het vanjaar ’n Emmy-driekuns behaal nadat sy vir die derde keer in ’n ry as beste aktrise vir haar geniale vertolking as Deborah Vance in Hacks gewen het. Dié HBO-reeks, wat jy op Showmax kan kyk, het ook met die Emmy-louere weggestap as vanjaar se beste komedie. 

Die derde seisoen begin met Deborah wat steeds die golf van sukses van haar standup special ry, terwyl Ava (Hannah Einbinder) nuwe geleenthede in Los Angeles as ’n TV-skrywer najaag. 

S3 is tans onder die top-tien op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes se Best TV Shows of 2024 (So Far)-ranglys (myne ook…), en spog ook met ’n punt van 98% – geen wonder dit is reeds vir ’n vierde seisoen hernu nie (’n haas onmoontlikheid in die TV-landskap van vandag, waar byna niks verby ’n tweede seisoen kan kom nie). 

The Lincoln Lawyer S3

Stroom vanaf Donderdag, 17 Oktober 2024 op Netflix

Die geliefde en idealistiese prokureur Mickey Haller (Manuel Garcia-Rulfo) is terug vir ’n derde seisoen van die Netflix-regsdrama, The Lincoln Lawyer. Dié reeks is gegrond op die topverkoperboeke van Michael Connelly, met die derde seisoen wat die vyfde boek van Connelly se Lincoln Lawyer-reeks, The Gods of Guilt, as grondslag het. 

In die doodsnikke van S2 se laaste episode het Mickey uitgevind dat Glory Days (Fiona Rene), wat hom in S1 se Jesus Menendez-saak gehelp het, dood is. Die nuus het hom hard getref en die gevolge daarvan speel in die nuwe seisoen uit. 

Die derde seisoen sien ook nuwe akteurs wat hul by Garcia-Rulfo, Becki Newton, Jazz Raycole, Angus Sampson en Yaya DaCosta aansluit. Onder hulle tel Merrin Dungey (The Resident, Big Little Lies) as ’n nuwe regter, Allyn Moriyon in sy TV-debuut as Eddie Rojas, en John Pirruccello (Barry) as William Forsythe, ’n staatsaanklaer. 

The Pasta Queen 

Vanaf Donderdag, 24 Oktober 2024 op Prime Video beskikbaar 

As jy mal is oor pasta en kosvideos, ken jy dalk reeds vir Nadia Cetarina Munno, die erfgenaam van ’n ware Italiaanse pasta-heerskappy wat op TikTok en Instagram naam gemaak het. Nou het sy haar eie TV-reeks waarin sy in elke episode kykers deur Italië neem, en bekendstel aan die bestanddele wat eie aan elke streek is. Natuurlik berei sy ook egte Italiaanse disse voor. Lipafleklekker. 

Julia S2 

Donderdae, vanaf 17 Oktober 2024 om 21:30 op Showmax

Dié reeks, wat gegrond is op die ware verhaal van die baanbrekende TV-sjef, Julia Child, se tweede seisoen is ook sy laaste. Julia keer terug uit Frankryk en besef dat haar sukses áls verander het. 

Sarah Lancashire (Happy Valley) keer terug tot haar BAFTA-benoemde titelrol; so ook Emmy-wenner David Hyde Pierce (Frasier se dr. Niles Crane) as haar man. Die Emmy-wenner Rachel Bloom (Crazy Ex-Girlfriend) sluit by die rolverdeling aan met Hacks se Hannah Einbinder wat ’n gasverskyning maak. 

Die tweede seisoen het volpunte op Rotten Tomatoes met die kritici-konsensus wat dit as ’n “verruklike reeks waaraan kykers sal smul” bestempel. 

Die eerste seisoen is ook op Showmax beskikbaar.

Nog voorstelle

  • Before, vanaf 25 Oktober 2024 op Apple+. Dié karaktergedrewe sielkundige rillerreeks van tien episodes draai om Eli, ’n kindersielkundige wat onlangs sy vrou verloor het en wie se paaie kruis met dié van ’n jong seun wat blyk om ’n verbintenis met sy verlede te hê. Die rolverdeling word deur die veelbekroonde Billy Crystal gelei.
  • Brasse Vannie Kaap, vanaf 7 Oktober 2024 op Showmax. Brasse Vannie Kaap is ’n nostalgiese dokumentêre film oor die gelyknamige ikoniese en baanbrekende 90’s-groep wat gehelp het om hip-hop Suid-Afrikaans te maak. Dié musiekdokumentêr bring hulde aan Brasse Vannie Kaap se onmiskenbare impak terwyl Brasse Vannie Kaap se rappers, scratchers en breakdancers besin oor die groep se merkwaardige reis vanaf die Kaapse Vlakte na Pukkelpop in België – ’n reis wat kortgeknip is deur die ontydige dood van hul voorsanger, Mr Fat, oftewel Ashley Titus.
  • Klein paradys, vanaf 24 Oktober 2024 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), DStv Stream en Catch Up. In kykNET se nuwe leefstyl-realiteitsreeks is daar vir ses spanne ’n koel R1 miljoen op die spel, maar om dit wen moet hulle wys dat hulle ’n leë mikro-eenheid binne net vier weke in spoggerige vyfsterverblyf kan omtower. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies