Menu terloops
In Onderhoude [9 Okt 2024]

‘Nêrens, Noord-Kaap’ se jong akteurs tel beslis nie tande nie


Daar is ’n gesegde in die vermaakbedryf dat jy nooit met kinders, water of diere moet werk nie. Dit het die skrywer en regisseur van ‘Nêrens, Noord-Kaap’, Nico Scheepers, egter nie afgeskrik nie. Inteendeel. 

Stroom nou

‘Nêrens, Noord-Kaap’ se jong akteurs tel beslis nie tande nie

Reeds in Nêrens, Noord-Kaap se eerste uittog, het Nico Scheepers vier jong spelers sentraal tot die vertelling gemaak. In Deel II wys dié vier weer hulle staal, met twee jong aktrises wat dan by dié viertal aansluit. Boonop is twee van die Adendorff-boeties – Thommi en Lehan Swanepoel – en die twee jong aktrises – Nina en Inge Dippenaar – in die werklike lewe broers en susters. 

Nico vertel meer oor sy ervaring op die stel van Nêrens, Noord-Kaap met dié jong toneelspelers. 

Nico, jy het jou nie juis aan die reël oor kinders, water of diere gesteur nie… 

“Ek kan verstaan dat dit gesê word as jy in TV, film en teater werk, maar dis juis dié elemente waarvan ek nie kan wegbly nie. Dit is so deel van die lewe. Ek is so moeg vir stories waar ’n mens kinders vir ’n minuut sien en dan word hulle weggestuur sodat die grootmense kan praat. Asof hulle muurblommetjies of meubels is. Kinders is mense en hulle moet gerespekteer word.”

Het jy uit die staanspoor geweet dat jy die agtergrond van die drie broers as kinders wil wys in die TV-uittog van Nêrens, Noord-Kaap

“Omdat die broers in die toneelstuk-weergawe van Nêrens, Noord-Kaap gepraat het van toe hulle klein seuntjies was, het ek van die begin geweet hulle moet deel van die reeks wees. Ek hou nie daarvan om dit terugflitse te noem nie, omdat dit vir my eerder ’n paralelle storielyn is. Dis so belangrik om te weet wat hulle laat tiek en hoekom hulle is wie hulle vandag is.”

Hoe het jy by dié jong akteurs uitgekom? En hoe het jy hulle vir die rolle gekies?

“Ons het wyd gesoek. Deur agentskappe, Facebook, ons het skole landswyd gekontak. Daar is vir ons videos gestuur en dít is hoe ons die kinders gekies het. 

“Thommi Swanepoel (klein Frans) was ons eerste keuse vir Frans, en Lehan Swanepoel (klein Ronnie) was ons eerste keuse vir Ronnie. Maar eers toe Chanél Muller, die vervaardiger, die ouers kontak om te sê hulle het die rolle gekry, het ons uitgevind dat hulle boeties is. Die feit dat hulle boeties is, het dus niks te doen gehad met die feit dat hulle die rolle gekry het nie. Dit was net die kersie op die koek. 

Nêrens, Noord-Kaap, Thommi Swanepoel
Thommi Swanepoel as klein Frans. Foto: Verskaf
Nêrens, Noord-Kaap, Lehan Swanepoel
Lehan Swanepoel as klein Ronnie. Foto: Verskaf

“Ek het vir Johannes (klein Andries) in die fliek Die verhaal van Racheltjie de Beer gesien en daar is net iets magneties aan hom. Hy het natuurlik ook blonde hare en blou oë en lyk presies soos De Klerk Oelofse. Johannes het ’n oudisie gedoen en dit was ’n baie maklike besluit om vir hom die rol te gee. 

Nêrens, Noord-Kaap, Johannes Jordaan
Johannes Jordaan as klein Andries. Foto: Verskaf

“Arnold Swart, wat Lourens speel, was die moeilikste om te cast omdat hy ewe veel dialoog en tonele as die volwasse akteurs het. Ons het verskriklik baie oudisies gekyk, maar daar was net iets aan Arnold. Dis moeilik om vas te vang hoekom hy ’n mens so vasgryp, maar daar is ’n rou eerlikheid aan hom. Toe ek na sy video gekyk het, het my gut wawiele en bokspringe gemaak. ’n Mens luister nie na mense om jou nie, vertrou net jou gut

Nêrens, Noord-Kaap, Arnold Swart
Arnold Swart as Lourens. Foto: Verskaf

“Die eerste dag op stel het ons geweet ons het die regte keuse gemaak. Nou, met Deel II, het hy nog moeilker werk om te doen. Dis nie vir my nodig om sy lof te sing nie. Alles is op die skerm. Ek dink mense vergeet dat hy 13, 14 jaar oud is. Hy werk geweldig hard en ken altyd sy woorde. In al die tyd wat ek saam met hom gewerk het, het ek hom dalk nog net een keer met papiere in sy hand sien staan. En hy luister en dis hoekom hy goeie akteur is.”

In Deel II is daar twee jong spelers wat by die rolverdeling kom: Nina Dippenaar wat die jong Lorrie speel, en Inge Dippenaar wat Lourens se vriendin speel. Waar het jy hierdie talentvolle sussies opgespoor? Is die rolle geskryf met hulle in gedagte? 

“Ek het in 2019 die verhoogproduksie Katvoet geregisseer en daar was nege mense op die verhoog en drie van hulle was die Dippenaar-sussies – Nina, Inge en hul ouer sussie, Mia. Ek ken hulle dus al ’n paar jaar want hulle het saam met hul ma van fees na fees gereis. As jy saam aan só ’n teaterstuk werk, word jy soos familie.

“Toe ek Deel II geskryf het, en die karakters geskep het, het ek van die begin geweet Nina moet klein Lorrie speel. Ek weet nie of mense dit agterkom nie, maar dis ’n bo-natuurlike toeval dat sy en Shana Mans wat Lorrie speel letterlik soos dieselfde mens lyk. Hul maniertjies, hul spraakpatrone, hul monde is dieselfde. Dis iets wat in ons skoot geval het dat hulle so dieselfde is. 

“Ek het oorweeg om oudisies te doen vir die rol van Marli, maar het toe besluit om vir Inge te gebruik omdat sy ’n uitstekende aktrise is. Dit help ook as jy weet jy kan met mense werk. 

“Ek kan nie wag dat mense sien wat hierdie kinders op die skerm gaan doen nie. Hulle doen ongelooflike werk. Ek vergeet hulle is kinders.”

Het jou betrokkenheid by die Tienertoneelkompetisie gehelp om met jong spelers te werk? Wat moet ’n regisseur doen om sulke natuurlike vertolkings uit kinders te kry soos wat hulle in Nêrens, Noord-Kaap lewer? 

“Dit het beslis daar begin, maar dis anders om met kleintjies te werk. My reël is dat niemand op stel met die kinders oor hul vertolkings mag praat nie. Die oomblik wanneer jy dit doen, kan jy die een ding wat jy nodig het, verwoes en dít is die onskuld. Hulle moet onskuldig bly en hulle moenie bewus van hulself wees nie. Ek is die enigste een wat op stel met hulle oor hul werk praat en ek praat met hulle asof hulle grootmense is. 

“Elkeen van die kinders op Nêrens, Noord-Kaap se plek is net so belangrik as wat byvoorbeeld Frank Opperman s’n is. Ek dink hulle voel dit aan en staan dan hul eie skoene vol. Hulle is nie bang om vrae te vra nie en hulle luister. Net soos jy nie na ’n volwasse akteur toe sal stap en op jou bene klap en soos vir ’n hondjie sal sê hoe oulik hulle is nie, doen jy dit nie met ’n kinderakteur nie. Dis disrespekvol en doen die teenoorgestelde wat jy wil hê. Die kinders is nie op stel om te speel nie. Hulle is daar om te werk en ons hanteer hulle met die respek wat hulle verdien.”


Nêrens, Noord-Kaap Deel II saai op Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Die volledige eerste reeks van dertien episodes van Nêrens, Noord-Kaap is tans beskikbaar op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies