Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir Augustus.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
House of the Dragon S1
House of the Dragon, gegrond op die skrywer George R.R. Martin se Fire & Blood, speel sowat 200 jaar voor die gebeure van Game of Thrones af. Dit draai om geskiedenis en bewind van House Targaryen en die magsbeheptheid wat dié ryk uiteindelik tot ’n val gebring het. Die rolverdeling sluit onder andere vir Olivia Cooke, Emma D’Arcy, Paddy Considine, Matt Smith en Rhys Ifans in.
Hoewel dit nie regtig nodig is om reeds met die wêrelde van Westeros en drake bekend te wees om House of the Dragon te volg nie, sal jou kykervaring wél ryker wees as jy jou eers in al agt seisoene van Game of Thrones (alles op Showmax) verdiep.
Weeklikse episodes om vanaf Maandag, 22 Augustus om 03:00 (Express from the US-uitsending) met ’n herhaling om 21:30. Ook op DStv Online en Catch Up.
Landscapers S1
Olivia Colman (The Crown) en David Thewlis (van Harry Potter-faam) is albei absoluut briljant in HBO se Landscapers, nou op Showmax. Dit is ’n fantastiese vertelling, in vier dele, gegrond op die ware verhaal van ’n paartjie wat die hoofverdagtes in ’n moordondersoek word nadat twee lyke in ’n tuin in Nottingham, Engeland gevind word. Colman vertolk die sagte Susan, terwyl Thewlis as haar man, Christopher, speel. Saam-saam skep hulle ’n uitmuntende vertelling van hoe hulle Susan se ouers in 1998 vermoor en in die tuin begrawe het – eers in 2012 sou dié misdaad op lappe kom.
Die reeks het drie BAFTA-toekennings gewen en het ’n punt van 98% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes. The Guardian het Landscapers ’n seldsame vyf sterre (uit vyf) toegeken en geskryf: “Verbeel jou dat twee van die beste akteurs van hul generasie selfs beter saam as afsonderlik is. Dís Landscapers… Hartverskeurend en heeltemal oortuigend.”
Soveel as wat die storie om die moordraaisel draai, is dit ook ’n eiesoortige, enigmatiese liefdesverhaal.
Die reeks is nou op Showmax beskikbaar om te stroom.
The Sandman S1
The Sandman is gegrond op die gelyknamige strokiesprent deur Neil Gaiman wat die onheilspellende wêreld van die bonatuurlike, alternatiewe realiteite en drome verken.
Gaiman se The Sandman, en so ook dié Netflix-reeks, is ’n kombinasie van donker fantasie, mites en historiese drama waarin Morpheus, oftewel die Heer van The Dreaming (wat ons droomland sou noem), die vertelling stuur. Die storie volg Morpheus en sy pogings om orde in The Dreaming te herstel ná hy uiteindelik van 70 jaar se gevangenesskap in die “waking world” ontsnap. In sy afwesigheid het absolute wanorde in The Dreaming ontstaan. Só begin sy pogings om sy mag en droom-koninkryk in ere te herstel. Dis natuurlik makliker gesê as gedaan…
Daar is al telkens probeer om The Sandman in iets vir die skerm te verwerk, maar dis geensins ’n maklike storie om na ’n ander formaat as’t ware te vertaal nie. Boonop het Gaiman elke keer ’n stok in die wiel van probeerslae gesteek.
Dié verwerking is egter deur Gaiman self gelei. Aanhangers van die strokiesprent kan dus gerus voel dat die Netflix-reeks getrou aan die oorspronklike gees van die verhaal bly.
Vanaf 5 Augustus op Netflix.
Lady Boss: The Jackie Collins Story
“Girls can do anything!”
Dít was die slagspreuk van die legendariese skrywer Jackie Collins, wat in haar heyday vroue se plesier en seksualiteit voorop in haar revolusionêre romans gestel en só bo-aan topverkoper-lyste geboer het.
Dié dokumentêre prent is ’n meevoerende reis deur dié skrywer se grensverskuiwende professionele en persoonlike lewe. Die dokkie verweef verskeie onderhoude met Collins se naastes, asook argiefmateriaal om die storie van haar impak op die boekewêreld – en verder – te vertel. Só word die nimmereindige uitdagings wat sy moes trotseer ook blootgelê.
Dit is uiteindelik ’n veelvlakkige beraadslaging oor feminisme, familie, en die behoefte om onsself en die impak wat ons kinderjare en ervarings op ons menswees het, te verstaan.
Ja, girls can do anything, maar dit beteken nie dis aldag maklik nie. Inteendeel. En nee, om te sukkel is nie iets om oor skaam te wees nie. Jackie se verhaal wys dat dinge nie altyd is soos wat dit voorkom nie. Dié feminisme ikoon van die 1980s het, soos ons almal maar, ook ’n masker gedra om haar eie kwesbaarheid weg te steek. Sy het só eintlik soos een van die heldinne in haar boeke geword.
Onder die vervaardigers tel die Emmy-wenner John Battsek (Searching or Sugarman). Die dokkie het ook volpunte op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes met die konsensus wat lui: Geanker met dieselfde skuimende glans as sy onderwerp se romans, is Lady Boss ’n vreugdevolle terugblik op Jackie Collins (se lewe) en ’n oortuigende herwaardering van haar literêre bydraes.”
Stroom dit nou op Showmax.
Scream
“I’m Sidney Prescott. Of course I have a gun.”
Toe die oorspronklike Scream in 1996 uitgereik is, kon ’n mens kwalik die sukses van dié swart komedie-riller voorspel. Maar gou het die trieng-trieng van ’n landlyn, ’n mooi meisie wat die koordlose telefoon antwoord, die growwe stem van ’n mensejagter, en ’n haglike wit spookmasker iets ikonies in die zeitgeist geword. Soveel so dat dit die fondasie van die satiriese Scary Movie-franchise geword het. Só gewild dat ’n vyfde fliek ’n kwarteeu later ’n hele nuwe generasie fliekgangers nog kan skrikmaak.
Met die 2022-uittog van Scream, keer ons oorspronklike heldin, Sidney Prescott (Neve Campbell), terug nadat ’n nuwe gemaskerde moordenaar ’n bloederige spoor laat. Dit blyk die keer se teikens is familielede van die vorige masker-moordenaars. Ook Courtney Cox en David Arquette se karakters keer terug as Sidney besluit om ’n einde aan die moordenaar se moord-frenzy te maak.
The Atlantic skryf dat “Scream slaag absoluut as ’n verruklike stuk vermaak”. Time Out beskou dit as “vindingryk, indringend en vol liefde vir die oorspronklike flieks… Dit is maklik die lekkerste wat die reeks sedert Scream 2 was.”
Vanaf 11 Augustus op Showmax.
Ook op my moet-kyk-lys:
The Gilded Age S1
The Gilded Age is ’n periode-dramareeks met ’n skitterende rolverdeling en ’n boeiende spanningslyn, skryf André-Pierre du Plessis in sy resensie vir terloops. As jy ’n aanhanger van Downton Abbey is, sal dié reeks, met sy stryd tussen stinkrykes met kristalglase in die hand, beslis ook jou koppie tee wees, meen hy. Lees die volledige resensie hier.
Kyk die reeks nou op Showmax.
Hacks S2
Die tweede seisoen van die heerlike komediereeks Hacks, het, soos die eerste, ’n punt van 100% op die Rotten Tomatoes. Die konsensus onder resensente lui: “Hacks vat die pad, maar Jean Smart en Hannah Einbinder is steeds baie tuis bymekaar in ’n uitstekende tweede seisoen wat nuwe maniere vind om die sentrale paar se lieflike vriendskap te verdiep.”
Weeklikse episodes op vanaf Vrydag, 12 Augustus, om 22:30 op M-Net (DStv-kanaal 101), DStv Online en Catch Up. Die eerste seisoen is op Showmax beskikbaar.
Wat om nog in Augustus te kyk
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →