“Zanie, jy’t jou alles gegee.” Met daardie woorde moes die programaanbieder, Ewan Strydom vir Zanie van Rensburg die slegte nuus meedeel dat haar tyd op die plaas verby is. Daar is duidelik meer as net ’n paar vals beloftes gemaak deur die viertal wat nou oorbly want net Zanie het by haar stem gehou…
Tydens die laaste uitdaging van die reeks, kondig Ewan aan dat die persoon wat die meeste sout in die silo oor het, ’n voordeel tydens die uitdaging sal geniet. Die enigste verskil tussen die twee sout-voorlopers, Michelle en Anelda, is dat iemand een enkele koppie sout meer het as die ander een danksy die Mag van die Mes wat deur Pieter gespeel is. En dit was vir Michelle!
Sy het reeds ’n bottel melk, ’n eier en ’n aartappel by haar stasie wat op haar wag. Sy kry ook ’n 20 sekonde-voorsprong bo die res. Die res moet ses bottels melk, ses eiers en 16 aartappels by hul onderskeie stasies kry.
Elke plaasjapie moet drie sleutels in die hand hê waarmee ’n trommel oopgesluit word. Die koppie sout daarin moet oor hul linkerskouer uitgegooi word. Die een wat dit eerste regkry, is die wenner van die uitdaging.
Michelle spring eerste weg en swaai soos ’n wafferse Jane van Tarzan-faam met ’n tou bo-oor die hooibale na die eiers se kant. Liovian pak ook die tou aan, terwyl Anelda liederlik verstrengel raak in die toubrug op pad na die aartappels toe. Blue koers met sy emmer melk oor houtpale met blokke daaraan vas om op te trap.
Blue is vlytig besig om die melkbottels vol te maak. Anelda grawe vervaard vir aartappels en Michelle swaai weer terug met die tou, eiers in ’n sak om haar nek… En kort voor lank is Anelda en Michelle kop-aan-kop, maar dis Anelda wat eerste haar derde sleutel in die hand het en ook eerste haar trommel oopsluit en die sout oor haar linkerskouer gooi!
Sy is veilig by die Koöperasie-kuier waar die res almal in die visier is om uitgestem te word.
Nou gaan daar gekuier word!
Ewan gee hulle die geleentheid om by mekaar se plase te gaan inloer en ’n bietjie te kuier. Maar sy voorstel dat hulle onderling handjie bysit met van die takies op die plaas, word glad nie geesdriftig ondersteun nie.
“Ja, ek moet seker my g*t skop oor die uitdaging want ek het ’n helse voordeel gehad. Maar ek gun dit vir Anelda want gister het ek my geleentheid gehad,” sê Michelle.
“Ek is ongelooflik trots op myself dat ek nie vanaand hoef angstig te voel of voor te berei vir Koöperasie-kuier nie, want ek is deel van die top-3,” kom dit van ’n verligte Anelda.
Terug by Groenkloof
“Oranjezicht gaan vanmiddag bietjie bymekaarkom en ons gaan bietjie gesels en op-catch en ek is seker tussen Blue en Anelda gaan daar baie geselsies wees, en kyke wees. En dis die mees uitputtendste gedeelte van my dag,” verklap Liovian.
“Ek voel ’n bietjie ongemaklik en anxious. Ek is net nie seker oor Anelda en waar sy staan in terme van haar stem nie. Ek weet hulle het ’n bondgenootskap as die ou Groenkloof en ek dink sy en Blue was maar van dag een af in mekaar se corners. So, dit maak my bang,” erken sy.
Terug by Oranjezicht
“Kyk, ek weet jy is nou vry en jy het darem vanaand . . . jy’s ge-guarantee in die final.
Dit gaan nie vir my hieroor of daaroor nie, dit gaan net vir my of gaan jy by jou bondgenootskap bly . . . of gaan jy iets doen wat ons vroue kan bevoordeel,” wil Michelle by Anelda weet.
Michelle besef vir haar beteken die pad vorentoe dat sy vir Anelda en Liovian aan haar kant moet kry. Anelda verseker vir Michelle sy kan haar woord vat en toe Michelle haar kommer uitspreek dat Blue haar dalk van plan kan laat verander, volstaan Anelda by haar belofte.
“Maar moenie te veel ge-worried wees oor vanaand nie,” stel Anelda haar gerus.
Kuiertyd
Blue en Liovian word hartlik op Oranjezicht se werf verwelkom.
“Ek het nou die laaste week en ’n half geleer ’n mens is nêrens veilig nie. Wat ek die moeilikste gevind het, was toe ek Groenkloof toe gaan en ek sien hoe maklik dit was vir iemand soos Blue om net sy rug te draai en die mes te steek in iemand anders se rug. Maar dit was net tot sy eie voordeel, en dit het my diep geraak. Dit is nie die tipe persoon wat ek is nie,” sê Liovian.
Soos wat Liovian verwag het, kies Blue en Anelda koers na die hoenderhok. Michelle glo dit is Blue wat die kans geskep het om Anelda te oorreed om vir haar te stem. En op Oranjezicht se stoep is Liovian en Michelle dit eens: Daai twee kan glad nie vertrou word nie.
Natuurlik is Michelle se voorgevoel in die kol. Sy is inderdaad die onderwerp van die bespreking. Anelda sê vir Blue dat Michelle vir hom gaan stem en ook dat sy self nie dink Liovian is sterker kompetisie as Michelle nie.
“Sy wou Blue uitstem gisteraand. She was ready. She was ready. Sy’t vir ons gesê ons moet haar net kans gee om haar hartjie sag te maak, toe besluit sy,” vertel Michelle vir Liovian.
Op Liovian se vraag oor Anelda se rede om vir Blue te stem, sê Michelle: “Want sy’t gesien hy’s kompetisie vir haar, want sy sê as dit kom by mind games en puzzles bou, is hy ’n expert”.
“Sê vir my wat gaan ons maak, want dan gaan ons met dit. Ek vertrou jou oordeel,” smeer Blue die stroop. En dadelik reageer Anelda en sê sy wil eers by Liovian uitvind waar haar kop in die spel is. Al wat Blue by haar wil hê, is ’n naam . . .
“Dit kan tussen twee dinge gaan. Vat ek vir Michelle môre saam na die top-3 toe, dan wen sy . . . dan sal ek myself nooit vergewe nie. Vat ek vir Blue môre saam en dan wen Blue, dan sal ek myself nooit vergewe nie.”
Anelda wroeg. Gaan sy die vroue na die top-3 neem? Maar gaan dit dalk beteken sy skiet haarself in die voet?
“Ek is baie deurmekaar. Ek weet presies wie ek wil hê moet huis toe gaan, wie ek weet nie verdien om hier te wees nie. Maar, aan die ander kant, is ons kompetisie sterk. And I’m all for empowering one another and cheering each other on. Maar . . . wil ek dit doen ten koste van myself? En wat dalk my toekoms kan wees en ’n beter toekoms vir myself en my kinders?” kom dit later van ’n emosionele Liovian.
“Vanaand is die geleentheid om mense daar buitekant te wys hoe mooi my hart regtig is. Want, Liovian het dit nou-die-dag genoem dat sy voel my hart is swart. En ek dink dat vanaand is die ideale tyd om mense te wys ek het nie ’n swart hart nie. Ek gee om vir my medemens, maar dat ek die game gespeel het om te verseker dat ek sit hier vanaand,” kom dit van Blue terwyl hy trane afvee.
Die allerlaaste Koöperasie-kuier
“Vanaand gaan ek definitief vergeet van Blue en ek gaan stem omdat iemand my gevra het om so te stem, net om te wys dat ek het nie so ’n swart hart nie,” kom dit van Blue.
Liovian sê sy gaan haar stem op haar instink en eerlike spel baseer. Michelle sê op haar beurt dat, sou sy deurdring na die top-3, dit saam met mense sal wees wat verdien om daar te wees en eerbaar die spel gespeel het en nie ander gemanipuleer het nie.
Anelda sê haar stem gaan daaroor dat sy net ’n geruste hart wil hê.
“Ek gaan vanaand vir iemand stem wat ek persoonlik voel is ’n bedreiging vir myself. Ek gaan my gut volg, ek gaan my hart weggooi, ek gaan my mind weggooi en my gut volg.”
Blue is eerste om te stem, gevolg deur Liovian en dan Michelle. Anelda stem laaste.
Ewan plaas twee soutemmertjies op die toonbank. Blue en Liovian het altwee twee stemme gekry, maar iemand moet groet. Die volgende stap is die vlakke van Blue en Liovian se soutsilo’s. En daar is slegs een koppie sout verskil!
Dit is Liovian wat een koppie sout te min het . . .
Liovian groet, maar nie voordat sy versoek om ’n woordjie vir Michelle te gee nie.
“F*k hulle op,” fluister sy.
Totsiens, Liovian
“Een koppie sout het my ondergang beteken, maar dit maak nie van my minder waardig wie ek is nie en ek glo nog steeds dat ek my beste gelewer het en dat ek soveel sterker as persoon hier uit kan stap.
“En ek gaan dit mis. Ek gaan rêrig die lewe op die plaas verskriklik baie mis. Na hierdie seisoen op Plaasjapie is daar groter dinge wat wag vir my en ek gaan dit met hande, voete en alles aangryp. Ek is baie opgewonde en ek kan sê ek is eerlikwaar baie, baie trots op myself dat ek so ver gekom het.
“Michelle, f*k hulle op, behoorlik op!”
Nalatenskap
Ewan daag by Oranjezicht op met ’n lieflike suurlemoenboom en sê hy wil hulle groei hiermee uitbeeld.
“Dis julle nalatenskap. Een van die drie van julle gaan as wenner van Plaasjapie aangewys word, maar dan gaan julle weer verder en jul lewens gaan vorentoe boer. En vir my simboliseer hierdie suurlemoenboom net dit. Julle groei in die toekoms in,” sê hy.
Hy begin die gat vir die boompie grawe en gee dan oor aan die twee. Maar, belowe hy, hulle gaan later nog bederf word met ’n ete op die Klein Werf.
“Ek is ongelooflik trots om te sê dat ek en Michelle het daai boom saam geplant en ons los ons wortels agter op Oranjezicht,” sê Anelda.
Op Groenkloof ontvang ook Blue ’n suurlemoenboom en hy moet dit man-alleen plant.
“My legacy is op Groenkloof. My harde werk, my slim werk en slinkse werk, my bloed, my sweet, my lag, my trane. Daai boom simboliseer alles wat ek in gegee het en gedoen het op die plaas om dit so ver te bring.”
’n Feesmaal op die Klein Werf
Die tafel is feestelik gedek met allerlei wat die drietal se monde laat water. Anelda besluit sy gaan eerder vir haar ’n bordjie bêre wat sy na afloop van die uitdaging gaan geniet, want sy is bang sy sukkel om te hardloop met ’n vol maag.
Michelle sê sy dink nie sy’s ’n swakker deelnemer as die ander twee nie, maar enigiets kan verkeerd loop…
Blue sê hy sien uit daarna om weer te lewe wanneer Plaasjapie klaar is. Hy noem dat hy avontuurlustig was, maar die afgelope paar maande het dit sommer net verdwyn.
Michelle sien uit na die opvang met haar kinders en haar man, ook haar susters. En natuurlik ook opvang met al die nuus wat die afgelope 18 dae gebeur het.
“Ek is baie, baie trots. Ek is rêrig trots. Ek kan nie dink dat ek so ’n emosionele mens is op hierdie stadium nie want ek is nie ’n emosionele mens nie. Maar ek dink dis net ’n kwessie van: hier is jy en ek bly die heeltyd my sussies se gesigte sien, my man se gesig . . . hoor ek die heeltyd hul stemme, terwyl ek gaan stilsit.
“En dan hoor ek elkeen van hulle individueel vir my sê ‘jy gaan nie opgee nie. Jis, Michelle, jy is so naby’. Dit is wat my aan die gang hou op die stadium,” kom dit van Michelle terwyl die trane loop.
Blue sê hy gaan die rustigheid van die plaas mis. Ook om die koeie soggens te melk.
“Ek besef dit nou eers. Hierdie journey was so moeilik gewees. Ek weet daar was dae wat ek glad nie trots was op myself nie. Maar ek moet sê, vandag is ’n dag wat ek net vir myself gaan sê ‘as jy jou als gee, sal jy nie spyt wees oor die uitkoms nie,” sê Anelda.
Die laaste uitdaging en ’n lieflike verrassing!
Die top-3 word uitbundig verwelkom toe hulle die Klein Werf binnestap. Elke Plaasjapie-deelnemer van hierdie seisoen is daar om hulle te ondersteun.
“Julle lyk skoon,” kom dit van Blue tot groot vermaak van almal.
Drie bale moet oor ’n balanseerbalk gedra word waarna daar trappe mee gebou moet word langs ’n stellasie. Bo-op die stellasie is daar ’n graaf wat losgemaak moet word. Graaf in die hand moet daar dan oor ’n wipplank geloop word. Daar wag koeimis op ’n ruwe weegskaal-kontrêpsie om afgeskep te word om halfpype vry te stel.
Met die halfpype moet daar water vanaf die watertenk na ’n trog gelei word. Hier moet water met ’n piepklein emmertjie uitgeskep word en in ’n melk-emmer gegooi word. Soos wat die watervlak in die emmer optel, is daar ’n sleutel wat na bo begin dryf. As die watervlak hoog genoeg is, gaan die sleutel vrygestel word.
Met daardie sleutel moet die soutsilo oopgesluit word. Die eerste persoon wat die soutsilo oopsluit en die sout uittap, wen Plaasjapie.
Blue neem die voortou met die bale, gevolg deur Michelle. Anelda het afgeval en moet weer begin.
Blue se baal-trappe is eerste klaar, gevolg deur Michelle. Weer eens is Blue eerste om sy graaf los te woel en hy bemeester die wipplank heel gemaklik. Michelle is volgende by die koeimis, maar dis Blue wat ook hier die voortou neem.
Anelda het goed tyd opgemaak en sy’s kort op Michelle se hakke by die watertenk. Met sy tweede probeerslag kry Blue dit reg om water in die trog te laat loop en hy begin om sy emmer vol te maak.
Michelle sukkel om haar watertoevoer na die trog te bou, maar eindelik is sy ook besig om haar emmer vol te maak. Anelda vaar goed, tot waar haar halfpype uitmekaar tuimel. Die kompetisie is nou tussen Michelle en Blue. Blue se sleutel val eerste uit!
Hy maak korte mette van die slot aan die silo – en net daar word hy vanjaar se Plaasjapie!
Blue kan nie die trane keer nie.
“Behalwe vir die geld, vat ek huis toe ek is ’n wenner. En ek kan definitief enige iets doen as ek vir myself sê, ‘Jy kan dit doen’. En ek vat ook ’n boodskap van ek is genoeg. Maak nie saak hoe ek lyk nie, maak nie saak waarvandaan ek kom nie, maak nie saak hoeveel kere ek in ’n boks gedruk word nie.
“Ek, Blue, is genoeg.”
‘Om nie weg te stap met die prysgeld nie, is hartseer, maar dit is so . . . Ek dink my familie gaan baie, baie trots op my wees net om hier te kon gekom het. Dit was ’n kans wat ek gewaag het, en ek het só ver gekom met daai kans,” sê Michelle.
“Ek kan die lewe vierkantig in die oë kyk as ek nou huis toe moet gaan. Ek het dalk nie gewen nie, die geld nie. Maar ek het definitief gegroei as mens en dit is vir my ’n baie groot beloning. En ek gun dit vir Blue, rêrig. Ek lyk nou maar net hartseer, maar ek gun dit rêrig vir Blue,” sê Anelda.
Die tweede seisoen se episodes is op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.