Die Overberg is die spil waarom die nuwe seisoen van die Safta-benoemde dokumentêre reeks Bewoners gaan draai. Die reeks se premis is daarop gemik om Suid-Afrikaanse stories te vier. Overbergbewoners, die vyfde seisoen van die reeks, begin vroeg in die nuwe jaar op kykNET.
Waaroor gaan dit?
Die Overberg is ’n kontrei wat tussen die Hottentots-Hollandberge, die Klein-Karoo en die Tuinroete lê. Dié gebied is bekend vir sy ryk biodiversiteit, golwende landerye en diepgewortelde kulturele erfenis, maar is daarmee saam ook die tuiste van buitengewone mense wie se verhale danin Overbergbewoners blootgelê word.
Luidens ’n mediaverklaring is elke episode gefokus op ’n ander hoek van die streek en die mense wie se lewens die ware gees van die Overberg vasvang – van bewaringswerkers en kunstenaars tot opvoeders, boere en entrepreneurs. Hul stories vier tradisie, vernuwende denke en die onbreekbare band tussen mens en grond.
“Oor die verloop van 13 episodes vang Overbergbewoners die sjarmante kern van kleindorpse lewe vas – van die kunstenaarssiel van Napier tot die wilde skoonheid van Arniston, die historiese sendingstasie van Genadendal tot Hermanus, wat ’n sentrum vir ekotoerisme geword het,” lui die verklaring.
Kykers sal mense ontmoet soos:
- Gavin Petersen – ’n pikkewynbewaarder by Stony Point Natuurreservaat in Bettysbaai wat bedreigde seevoëls beskerm.
- Monique Cananie – ’n toegewyde jeugleier van Villiersdorp wat jongmense bemagtig deur onderwys en geleenthede.
- Neil Sandilands – bekroonde akteur en inwoner van Onrus wat nie net in Suid-Afrika naam gemaak het nie, maar ook in Hollywood.
- Lizaene Cornwall – medestigter van Panthera Africa Big Cat Sanctuary in Papiesvlei, wat op etiese wildbewaring toegespits is.
- Berene Sauls – baanbrekerwynmaker van Tesselaarsdal wat haar droom in ’n bekroonde wyn-etiket omskep het.
- André Cloete – innoverende vrugteboer naby Greyton wat tradisie met moderne landboupraktyke kombineer.
- Oom T Newman en familie – ’n vissersgesin van Struisbaai wat steeds die veranderende see trotseer.
Overbergbewoners saai vanaf Dinsdag 6 Januarie om 21:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit.










