Ná ’n geurige eerste seisoen is Op pad met my potjie terug vir nog heerlike avonture vanaf Vrydag, 28 November 18:30 op kykNET. Dié keer verken Joalette de Villiers ander dele van Namibië.
Sy reis verder en dieper die land in om nog meer unieke gemeenskappe, plekke en potjies te ontdek. Van wildreservate tot kusdorpe, van plaaslewe tot dorpsmarkte – met dié ekspedisie het Joalette opnuut op Namibië se mense, kos en kultuur verlief geraak. “My nommereen-rede om terug te keer, bly altyd die mense en my land,” vertel Joalette.

13 dorpe
In die tweede seisoen besoek Joalette 13 uiteenlopende dorpe en gemeenskappe wat die volgende insluit:
- by N/a’an ku sê ontmoet sy Marlice en Rudie van Vuuren van die kykNET-progam Groen: Namibië en laat prut ’n beesvleispotjie;
- in Rehoboth leer sy meer oor die Basters se geskiedenis en maak ’n lamskenkelpotjie;
- in Otjiwarongo berei sy en Christian ’n eksotiese krokodilvleispotjie voor;
- in Hentiesbaai probeer sy visvang en maak daarna ’n steenbraspotjie,
- en by Noordoewer sluit sy haar avontuur af met ’n pampoenpotjie.
‘Besonderse’ seisoen
Vir Joalette was dié seisoen nie net ’n kulinêre reis nie, maar ook ’n persoonlike ontdekkingsreis. “Ek het leer mozzarella-kaas maak, boerseep kook, leerwerk doen, visvang en selfs ’n krokodil gevoer! Hierdie seisoen was propvol nuwe, unieke kennis. Absoluut besonders,” vertel sy.
Elke episode bring nuwe gesigte, nuwe lesse en nuwe geure. Vir Joalette staan drie woorde sentraal: kennis, avontuur en passie. “Ek hoop kykers sien die passie van die mense wat ek ontmoet het – hulle wys dat jy met min baie kan doen en dat ware geluk lê in wat jy liefhet,” sê sy.
Op pad met my potjie S2 begin Vrydag 28 November om 18:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Die eerste seisoen is op Showmax beskikbaar om te stroom.










