Menu terloops
In Onderhoude [23 Okt 2025]

Diaan Lawrenson oor vrouwees, vriendskap en ‘Appels en tee’


Nes haar karakter Lisa in die dramareeks ‘Appels en tee’, het die aktrise Diaan Lawrenson lankal reeds besef vroue kán alles hê, maar dalk net nie op dieselfde tyd nie.

Deur Riëtte van der Wat
Diaan Lawrenson oor vrouwees, vriendskap en ‘Appels en tee’

Diaan Lawrenson is in die kar op pad na die mediabekendstelling van die dramareeks Appels en tee in die Kaap.

Die aktrise was netnou nog op kantoor by die filmskool AFDA, waar sy die uitvoerende hoof is, en ons het net ’n halfuur om te gesels voor sy moet aanmeld vir nog ’n rondte onderhoude by die venue waar die bekendstelling plaasvind.

Maar al het sy ’n dol dag, en ten spyte van die feit dat sy die verkeer moet navigeer, weeg sy haar woorde op en is sy ten volle dáár in ons gesprek oor haar rol as Lisa in Appels en tee; vrouwees; vriendskap en die feit dat ons as vroue meestal tienduisend balle (sommige van glas, ander van plastiek) in die lug moet hou.

“Ek het geleer ek kán alles hê, maar net nie op dieselfde tyd nie,” sê Diaan, sonder om doekies om te draai. “Dit gaan daaroor dat jy moet kies: waar en wanneer en hoe. As ek byvoorbeeld ’n rol, soos in Appels en tee, aanvaar, moet ek seker maak dis reg vir my. Ek moet weet dit gaan my ses weke lank wegvat van die huis, en van my kinders af, want húlle is my prioriteit.

“So as ek daarna terugkom, gaan daar weer ’n tydperk wees waar ek geen projekte aanvaar nie, sodat ek net op my kinders kan fokus. So, you can have it all. Just not at the same time. Dit kom neer op jou prioriteite en waar dit jou plaas op ’n spesifieke dag, of tyd, of maand. Dis maar die uitdaging daarvan om ’n vrou te wees.”

Prioriteite lei keuses

“Ek praat van die onsigbare gewig van vrouwees. Daai klein goedjies waarvan net vroue bewus is. As ek byvoorbeeld weg is van die huis af, wonder ek wat my kinders eet, of doen. Hul hele naskoolse kalender is in my kop.

“Dis nie om mans se rol minder belangrik te maak nie, maar ek dink nie daai selfde gewig rus so swaar op hul skouers nie. Dis maar net hoe vroue aanmekaargesit is.

In hierdie stadium van haar lewe en loopbaan is Diaan kieskeurig oor die werk wat sy doen, juis omdat sy weet waar haar prioriteite lê. “My rol by AFDA is natuurlik vir my baie geweldig belangrik, en ek neem dit baie ernstig op, maar dit gaan altyd in die eerste plek vir my oor of ’n projek die moeite werd is om my weg te vat van my gesin af. 

“My kinders, Olivia (15) en Tom (12) is op skool en dis vir my belangrik om daar te wees vir hulle, en al hul skoolaktiwiteite. Olivia en Tom is tieners, en hulle is lieflik en heerlik! Ek geniet my tyd saam met hulle baie. Vir hoe moeilik tieners kan wees, is myne nogal fabulous. Ek kan nie vir jou sê hoe lief ek hulle het en hoe spesiaal hulle in my lewe is nie.

“Ek gaan nie meer van die huis af weg as my kinders nie sê dis okei nie. En nou het ek hierdie amazing kinders wat sê, ‘Go, ons support jou’. Hulle gun my geleenthede om dinge te doen.”

Haar hoop vir haar kinders is dat hulle gelukkig sal wees. “En dat ek altyd vir hulle ’n veilige hawe sal wees.”

Vroue met diepte

Een van die redes waarom sy die rol as Lisa aanvaar het, is juis oor dit soveel aspekte van die kompleksiteit van vrouwees belig. “Dis min dat sulke komplekse, menslike rolle vir vroue geskryf word in Afrikaans. Ek hoop Appels en tee is die eerste van baie,” sê sy. 

Appels en tee, Diaan lawrenson
“Dis min dat sulke komplekse, menslike rolle vir vroue geskryf word in Afrikaans. Ek hoop Appels en tee is die eerste van baie,” sê Diaan oor Appels en tee se karakters. Foto’s: Skermgrepe

Geheimhouding, en die manier waarop dit mense uitmekaar kan dryf, is een van die kern-temas van Appels en Tee, waarin ’n vroue-vriendskap (tussen Diaan se Lisa en Tinarie van Wyk-Loots se Henriëtte) sentraal staan. “Vir my was die groot vraag oor Lisa hoekom sy in die verlede en hede sekere besluite maak,” sê Diaan. “Sy is ’n vrou vol geheime en kompleksiteite. En hoekom al daardie geheime hou? Want ek dink ons almal doen dit… Jy wil vir die wêreld wys hoe wonderlik jou lewe is. Hoe perfek jou man en jou kind is.

“Dit was vir my baie belangrik om haar besluite te verstaan en ook om empatie te hê met daardie besluite. Omdat daar so baie geheime in die reeks is, moet jy, as akteur, vir jouself probeer uitpluis wat presies jóú karakter se waarheid hier is. En dan wat om met daardie waarheid te doen, sodat ek dit ten volle kan vertolk. As aktrise moet jy verstaan waar jou karakter vandaan kom en jy moet van haar hou. Daar was soveel aspekte van Lisa waarmee ek empatie kon hê.”

Sy het gehou van die idee dat daar nie regtig ’n protanogis of antagonis in die storie is nie, want almal is eintlik beide, vertel Diaan. “Die een oomblik hou jy van Lisa en die volgende oomblik haat jy haar. Ek glo ons is almal flawed. Ons is so kwesbaar as mense en ons probeer sterk wees. Soms is ons lelik en soms is ons gaaf,” sê sy. 

“As sulke karakters na jou kant toe kom, veral in die middeljare van jou lewe wanneer jy nie meer die romantiese hoofrolle vertolk nie, gryp jy dit met albei hande.”


’n Gemeenskap
Een van die groot temas in Appels en Tee is vriendskap. Tussen mans en vroue, maar spesifiek tussen vroue.
“Hoe ouer ek word, hoe meer belangrik word my vriendskappe met vroue vir my,” sê Diaan. “Ek het min vriende, maar die handjievol wat ek het, is baie belangrik vir my. Ek wens ek het besef hoe belangrik my vriendskappe met vroue vir my is toe ek jonger was en dat ek dit moes koester. Want eintlik word vroue maar vir mekaar soos ’n gemeenskap, wat mekaar se lewensgeluk en hartseer deel. Die handjievol vriendinne wat ek vandag het, is integraal in my lewe en ek kan nie my lewe sonder hulle indink nie.”

Vroue-krag

Die “vroulike krag” agter die produksie was nog ’n wortel voor die neus. “Daar is Tina Kruger, hoofskrywer en uitvoerende vervaardiger; Sunel Haasbroek as DOP; Berdene Burger as regisseur. Dit beteken natuurlik nie dat ek dit nie ook geniet om saam met mans te werk nie, en daar was wonderlike mans by die produksie betrokke, maar daar is iets te sê oor die vroulike ensemble,” meen sy.

“Sjoe, Berdene Burger. Kom ons praat gou oor hierdie ongelooflike vrou. Wat ’n lieflike, outentieke mens,” sê Diaan bewonderend. “Berdene het regtig ’n spesiale plek in my hart. Sy is op my lys van die top-regisseurs om mee te werk.

Tinarie van Wyk-Loots, Appels en tee
“Ek het nog nooit voorheen saam met Tinarie gewerk nie en dit was ’n hoogtepunt in my loopbaan om dit te kon doen,” sê Diaan oor haar medester, Tinarie Van Wyk-Loots.

“Voor Appels en tee het ek omtrent twee jaar terug laas bietjie toneel gespeel. So mens kom maar met jou eie insecurities,” bieg sy. “In my daaglikse lewe kan kwesbaarheid nie ’n groot rol speel nie. Ek moet ’n leier wees; sterk wees; vorentoe kyk en al daai goed… Dan kom jy op stel en dink jy het dit lank terug gedoen, maar jy neem dit baie ernstig op. Berdene was reg vir dit alles. Sy was reg om spasie te hou vir jou. Sy het ’n ferm hand gehou om seker te maak ’n karakter word reg vertolk. Maar sy het ook ruimte gehou vir ons as aktrises, om seker te maak ons is okei ná moeilike tonele.

“In die agtergrond het ons almal maar ons eie lewe wat aangaan en Berdene was elke dag teenwoordig en het elke liewe dag haar beste vir ons gegee. Sy het die spasie vir my en Tinarie gehou om lekker te kon speel, en om te doen wat ons moes. Natuurlik met ’n koffietjie en saam lag tussenin.”

Om saam met Tinarie te kon werk, was nog ’n hoogtepunt: “Die rolverdeling is ongelooflik. Ek het nog nooit voorheen saam met Tinarie gewerk nie en dit was ’n hoogtepunt in my loopbaan om dit te kon doen,” sê Diaan.


Regisseur Berdene Burger oor Diaan Lawrenson:
“Regie is 90% casting en daar is niemand anders wat die rol van Lisa met soveel grasie, insig, integriteit en opregtheid sou kon vertolk nie.
“Orson Welles het gesê dat toneelspel soos beeldhouwerk is – dit is wat jy van jouself af wegneem om die waarheid van wat jy doen te openbaar wat ’n vertolking lewendig maak.
“Ek het die voorreg gehad om te sien hoe Diaan dag na dag beitel aan elke toneel om ‘n karakter te skep wat direk met die gehoor se harte gaan praat. Sy het die storie werklik lewendig gemaak.
“As mens is sy die tipe persoon wat baie diep in jou hart gaan sit en iemand saam met wie ek ‘n baie lang pad sal stap.”

“Toe ek, Tinarie en Berdene die eerste keer bymekaargekom het, het ons gesels oor of ons met die aktrises moet ontmoet wat ons karakters in die verlede vertolk. Maar ek dink dit sou onnodig druk plaas op die jong spelers,” meen sy. “Ons het besluit om hulle toe te laat om met die karakters te speel en dan pas óns by hul vertolking aan. Daar was egter ook belangrike tonele wat die jonger akteurs gedoen het, wat ons moes sien, sodat ons kon verstaan wat Lisa en Henriëtte dryf. Berdene het ons toegelaat om dit te kyk en daarby aan te pas.”

Daar is ’n tydsverloop van 27 jaar tussen die storielyne. “Natuurlik wil jy nie hê dit moet só verskil dat jy nie kan glo die jonger en ouer akteur is dieselfde mens nie. Nie net ek en Tinarie nie, maar ook Neels van Jaarsveld wat Wessel speel, moes die jonger karakters in ag neem in ons spel, omdat dit ons ook gehelp het om ons karakters beter te verstaan.”

Ervare en nuwe talent op stel

Diaan meen die jong talent op stel het baie goed gevaar. “Bianca (Langedyk), wat Henriëtte se dogter speel, en Jacques Erasmus, wat my seun Francois speel, het baie goed gedoen,” sê sy. “Daar was baie ervare akteurs op stel wat hoogs professioneel te werk gaan. Ons het dieselfde van die jong akteurs verwag. En hulle hét almal hul werk baie ernstig opgeneem. So kan almal pret hê op stel.”

Sy meen die voordeel van jonger en meer ervare akteurs wat saamwerk, is dat almal by mekaar kan leer, mits jy oop is daarvoor. “Ek was nog altyd in my beroep geseën om met baie ervare akteurs saam te werk en ek probeer soveel moontlik by hulle leer. Ek hou hulle dop. Kyk hoe werk hulle op stel.”

Nes destyds by 7de Laan, was daar met Appels en tee ’n geleentheid om teenoor legendes in die bedryf te speel.

APPELS EN TEE
“Ek het baie bevoorreg gevoel om saam met Ian Roberts te werk,” vertel Diaan.

“Rika (Sennett) is die wonderlikste vrou en baie professioneel. Ek het ook baie bevoorreg gevoel om saam met Ian Roberts te werk en sy wonderlike, eksentrieke vertolking te beleef. Ek en hy het ’n paar baie spesiale tonele gehad. As hulle sê, ‘Cut’, het ons albei gesê, ‘Jissie, dit was nou lekker!’.”

’n Voormalige kollega vertel dat as Diaan op stel kom, dit almal se vlak van professionaliteit verhef. “Ek dink dit is tweedelig. Aan die een kant is dit wie ek is. Ek voel altyd mense moet wegstap van ’n werkservaring saam met my en dink, ‘Dit was nou lekker’. Ek wil nooit hê mense moet dink ek was ’n diva nie.”

Haar jare lange ervaring op die stel van 7de Laan, was ook ’n ongelooflike leerskool in professionaliteit, vertel sy. “Ons het baie vinnig geskiet, wat beteken het jy moes op stel kom en jou ding doen. Daar was nie tyd om te mors nie.

“Die ouer akteurs het ons ook baie geskool. Hulle sou sommer vir jou sê, ‘Daai was aaklige acting, probeer weer’. Jy werk vinnig en die werkslading is intens. En Paula, my karakter, het baie gepraat en sy was in omtrent elke storielyn, en my werkslading was baie. Baie. 

“Ek het gevind dat as jy onvoorbereid op stel kom, en net dink waar jy nou moet staan en wat’s jou volgende lyn, gaan jy nie ontspan nie. Deur jou woorde te ken, en te luister en te leer, word die werk lekker.”


Appels en tee saai Dinsdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Augustus 2026

Die waarheid oor ’n dokter lei tot ’n dramatiese wending en Joe is desperaat om vrae oor sy identiteit te beantwoord. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-kykgids vir Augustus 2026

Jacques en Theresa se groot dag breek aan, terwyl Karla en Arno nie tot ’n vergelyk kan kom nie. Hier is waarna 'Diepe Waters'-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Augustus 2026

Mike maak (weer) droog, Kaashifa vind iets skokkend uit en die Samsodiens sien rooi... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies