Menu terloops
In Resensies [21 Okt 2025]

‘Appels en tee’ plaas kyker midde-in trefseker menslike storie


Die dramareeks ‘Appels en tee’ begin Dinsdag om 20:00 op kykNET. Riëtte van der Wat het die eerste drie episodes gekyk – en nou brand sy om te sien wat in die volgende episode op dié besonderse storie se karakters wag.

Deur Riëtte van der Wat
‘Appels en tee’ plaas kyker midde-in trefseker menslike storie

Dit is daardie tyd van die jaar wat die Jakarandas in die Noorde begin bot en die Kaap sy mooiste baadjie aantrek. Die lug is blou, die son skyn helder en ’n mens kry lus om iewers onder ’n boom, of op die strand, te gaan lê met ’n lekker Afrikaanse-liefdesroman vir ’n oomblik se ontvlugting.

Die tydsberekening van die nuwe Afrikaanse dramareeks Appels en tee, wat vanaand om 20:00 op kykNET begin, kon daarom nie meer perfek wees nie. Ek kan onomwonde sê dat die eerste drie episodes wat vooraf aan die media beskikbaar gestel is, die behoefte vervul aan ’n storie wat terselfdertyd bekend, maar onverwags, voel; met interessante mense (empaties vertolk) en lieflike plekke op die koop toe. 

Iets aan hoofskrywer Tina Kruger en regisseur Berdene Burger se verhaal herinner boonop aan ’n goeie boek van Sophia Kapp of Wilna Adriaanse, grootliks danksy die vroue-vriendskap wat sentraal tot die storie staan en te wyte aan die volronde karakters. (Berdene en Gita Fourie was medeskrywers.)


Regisseur en mede-skrywer Berdene Burger oor die inspirasie agter ‘Appels en tee’
“kykNET was op soek na ’n konsep vir ’n nuwe familiedrama en Tina het met die idee van twee vriendinne wat deur ’n geheim uitmekaar gedryf word vorendag gekom. Daar is soveel te sê oor die geheime wat ons almal binne ons dra –  die onderwerpe wat vandag steeds ‘taboe’ is om oor te praat en die tragiese gevolge daarvan. Dis hoe siklusse oor generasies aanhou herhaal. 
“Met die skep van hierdie storie was een van ons bedoelings om die belofte van vryheid uit te wys wat moontlik gemaak word wanneer daardie verborge geheime die lig sien. Dis natuurlik ook ’n voorreg om die platform te hê waar mens stories kan skep waarby jy self ook aanklank vind: vrouwees, moederskap, loopbane, en alles wat daarmee saam gaan, deur die dik en die dun.”

Ná meer onlangse Afrikaanse dramas met baie geweld en hoog-drama, is Appels en tee ’n welkome ratverwisseling. Die alledaagse lewe, met al sy nuanse, is kompleks genoeg, sonder dat ’n mens nog moordenaars en maniakke in die mengsel gooi. En met Appels en tee kry Tina en regisseur Berdene dit met die intrapslag reg om die kyker midde-in die menslike storie te plaas.

In ’n onderhoud met Terloops het Diaan Lawrenson, wat Lisa speel, dit perfek omskryf: in Appels en tee is daar nie noodwendig ’n protagonis of antagonis ter sprake nie. Elkeen van die karakters is egter die pro- én antagonis in sy of haar eie lewe, nes ons almal seker maar is.

Appels en tee
Ná meer onlangse Afrikaanse dramas met baie geweld en hoog-drama, is Appels en tee – met Diaan Lawrenson en Tinarie van Wyk-Loots ’n welkome ratverwisseling, skryf Riëtte van der Wat. Foto’s: Verskaf

Die besluite wat ons neem, veral wanneer ons jonk is, werk nie altyd goed uit nie, en daar is geen manier om te weet hoe die rimpeleffek daarvan ons steeds in die toekoms sal beïnvloed nie. 

’n Mens kan nie anders as om aan die Netflix-reeks Firefly Lane en sy sentrale vroue-vriendskap tussen Tully (Katherine Heigl) en Kate (Sarah Chalke) te dink nie. Dis lekker om vir ’n slag so ’n vriendskap binne die Suid-Afrikaanse, en Afrikaanse, konteks, te ervaar. Ook om ’n storie te kyk met twee sulke dinamiese vroue-karakters, wat reeds gelééf het en foute gemaak het. Ons stories maak saak, ongeag ons ouderdom.


Vroue om ’n tafel
Buiten vir hoofskrywer en uitvoerende vervaardiger Tina Kruger en die regisseur Berdene Burger, wat saam met Gita Fourie medeskrywer was, was Sunel Haasbroek die kinematograaf.
Berdene sê: “Daar is iets besonders wat gebeur wanneer vroue om ’n tafel bymekaar kom om stories te skep. Veral wanneer jy bereid is om nie net kreatief en kognitief met die proses om te gaan nie, maar ook emosioneel en intuïtief. Tussen die klomp van ons vroue (skrywers, toesighoudende vervaardiger, tegniese span en redigeerder) is daar ’n wonderlike en intense wêreld wat ’n wye area van ondervinding dek: alles van verliefdheid en verhoudings, kinders grootmaak, loopbane bou, vriendskappe en verlies. Ons het alles na die tafel toe gebring om iets te skep wat eerlik en opreg is.”

Appels en tee speel af oor twee tydlyne – ons ontmoet die karakters in die 1990’s as tieners wat in die Langkloof grootword en loop hulle weer raak in die hede, in ’n pragtige dorp aan die Tuinroete.

Lisa en Henriëtte het as jong meisies reeds ’n seldsame band, maar hulle word uitmekaar gedryf deur gebeure. Kan die band tussen hulle steeds daar wees ná jare apart, en ’n leeftyd van ervarings? Dit is een van die vrae wat jy saam met die karakters moet uitpluis.

Appels en tee
Die jong Henriëtte en Lisa word deur Nicola Nothnagel en Anya Human vertolk.

Diaan Lawrenson en Tinarie van Wyk-Loots het nog nooit vantevore teenoor mekaar gespeel nie, en tog skep hulle deur hul spel ’n verhouding tussen Lisa en Henriëtte wat die jarelange vriendskap, en die nadraai daarvan, besonders eg laat voel. Daar sou nie ’n beter keuse van aktrises wees vir hierdie rolle nie.

Diaan se Lisa is in alle opsigte sprankelend, maar mens sien in haar oë dat daar soveel meer diepte en kompleksiteit teenwoordig is as met die eerste oogopslag. Tinarie speel Henriëtte, die girl next door, met baie begrip en deernis vir ’n vrou wie se lewe nie uitgedraai het soos sy dit gesien het nie. Sy is sielsmoeg en al is sy nog daar, is stukkies van haar lankal verlore.

Die aktrises wat die jong Lisa en Henriëtte speel, is puik. Anya Human moet uitgesonder word vir haar vertolking van die jong Lisa. Daar is ’n ligvoetsheid omtrent haar spel, maar ook die geloofwaardige tekens van ’n meisie wat reeds op ’n jong ouderdom teen baie moeilike dinge te staan moes kom. (En as Anya nie ’n uitvoerproduk, nes Charlize, is nie, weet ek nie…)

Daarteenoor is die onskuldige, onseker jong Henriëtte, wat met sensitiwiteit en begrip deur Nicola Nothnagel vertolk word. Die reeks gee baie blootstelling aan jong akteurs soos dié en dit maak ’n mens baie opgewonde oor die toekoms van die Suid-Afrikaanse televisiebedryf om die talent te sien wat hier ten toon gestele word.

Bianca Langedyk se komiese tydsberekening en die “vonkel” in haar oog, maak van haar Annie (Henriëtte se dogter) ’n besonderse karakter. Annie is doof, maar ek moes eers gaan Google om te sien Bianca is nie. Sy en Jacques Erasmus, wat Lisa se seun Francois speel, het natuurlike chemie.

Appels en tee
Bianca Langedyk speel die rol van Annie, Henriëtte se dogter, met ’n vonkel in haar oog.

Daar is ook veteraan-akteurs soos Ian Roberts en Rika Sennett in die rolverdeling as onderskeidelik Jakkals, Lisa se vrydenkende pa wat tee maak van hibiskusblomme, en Griet, Henriëtte se konserwatiewe ma wat haar eie tas vol geheime saamdra. Die akteurs se tonele teenoor mekaar is baie pret, nes Ian en Diaan s’n as pa en dogter.

Appels en tee
Die rolverdeling sluit ook veteraan-akteurs soos Ian Roberts en Rika Sennett in as onderskeidelik Jakkals, Lisa se vrydenkende pa, en Griet, Henriëtte se konserwatiewe ma.

Neels van Jaarsveld en Ivan Zimmerman is ook in die rolverdeling as Henriëtte en Lisa se mans – Wessel en Jacques. Die manier waarop die skrywers hierdie twee mans as teenoorgestelde pole teenoor mekaar posisioneer, is baie doeltreffend. Huweliksverhoudings, mans se rol in ’n moderne samelewing en ontelbare ander vrae waarmee baie van ons stoei, word ook deur hierdie twee (en deur Jakkals) belig.

Berdene se regie is trefseker en getuig van ’n sensitiwiteit vir die storie en karakters. Geen skoot of toneel voel oorbodig nie en tesame met Sunel Haasbroek se kameraskote van die Langkloof en van Hoekwil, en ander mooi plekke aan die Tuinroete (dikwels in (dikwels in ’n goue lig gebaai), is Appels en Tee besonders mooi om na te kyk. 

Berdene woon in Hoekwil en sy sê dit was besonders om in haar tuisdorp te kon werk aan die reeks: “Hoekwil is ‘n piepklein dorpie en ek en Tina het die voorreg om in die regte lewe hier te woon. Dis werklik die paradys. Dis heerlik om in jou eie omgewing te werk. Die plaaslike gemeenskap (bure, dominees, vriende en winkeleienaars) het ongelooflike ondersteuning gebied om selfs die moeilikste oomblikke uitgevoer te kry. Daar was koffie aangedra, gras geplant, voertuie uit modder gesleep en storms gemaak.”

Daardie selfde gemeensaamheid wat in die produksieproses ingegaan het, het oorgespoel tot in die eindproduk. Ek brand nou om te sien wat in episode 4 op Lisa en Henriëtte wag.


Appels en tee saai Dinsdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Augustus 2026

Die waarheid oor ’n dokter lei tot ’n dramatiese wending en Joe is desperaat om vrae oor sy identiteit te beantwoord. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-kykgids vir Augustus 2026

Jacques en Theresa se groot dag breek aan, terwyl Karla en Arno nie tot ’n vergelyk kan kom nie. Hier is waarna 'Diepe Waters'-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Augustus 2026

Mike maak (weer) droog, Kaashifa vind iets skokkend uit en die Samsodiens sien rooi... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies