Menu terloops
In Gons [5 Nov 2025]

‘Fanaties’: Nuwe Afrikaanse realiteitsreeks versamel stories oor Suid-Afrika se antieke skatte


‘Fanaties’, kykNET se nuwe dokumentêre realiteitsreeks, vertel oor aanbieder Natie Ferreira se skattejag in die wêreld van antieke mooigoed en die stories agter dié oudhede.

‘Fanaties’: Nuwe Afrikaanse realiteitsreeks versamel stories oor Suid-Afrika se antieke skatte
Kyk lokprent

Oudhede, geheime en stories uit vervloë tye kry nuwe lewe in kykNET se splinternuwe dokumentêre realiteitsreeks Fanaties, wat op Woensdag 5 November om 20:00 begin.

Die reeks, wat uit agt episodes bestaan, volg die passievolle en charismatiese Natie Ferreira deur sy wêreld van antieke skatte, versamelaars en geskiedenis, en onthul die mense en verhale agter die ou mooigoed en interessante dinge wat ons verlede lewend hou.

“Die geleentheid om my stories en dié van medeversamelaars met kykers te deel, was vir my ongelooflik opwindend,” vertel Natie. “Ek hoop om mense ’n nuwe liefde vir oudhede te gee; om nuwe versamelaars te kweek en te wys dat agter elke item ’n storie en ’n stuk geskiedenis skuil. Dis vir my belangrik om mense te inspireer met die ryk geskiedenis van ons land en sy mense.”

In die reeks gaan dit nie net oor wat iets werd is nie, maar ook oor wie en watter geskiedenis daaragter staan. Natie ontdek waardevolle, vergete en soms ongewone skatte, maar die ware waarde lê in die stories wat hy onderweg raakloop. Van besoeke aan versamelaars en kenners tot die besige bedrywighede in sy winkel – Die Sinkhuisie in Riviera, Pretoria – bied elke episode ’n unieke kykie in ’n omgewing waar stof, spinnerakke en herinneringe hand aan hand gaan.

Vir Natie lê die hart van die program in verrassende ontdekkings. “Dis ongelooflik lekker om te snuffel vir daai onverwagte skatte wat net binne die volgende boks wegkruip.”

Hy voeg by dat Die Sinkhuisie vir hom meer as net ’n perseel is waar gekoop en verkoop word: “My winkel speel ’n sentrale rol in die reeks. Dis ’n plek waar mense bymekaarkom en hul liefde vir oudhede deel. Dis ook die plek waar items nuwe huise en stories kry.”

Fanaties, Natie Ferreira
Vir Natie Ferreira lê die hart van Fanaties in verrassende ontdekkings. “Dis ongelooflik lekker om te snuffel vir daai onverwagte skatte wat net binne die volgende boks wegkruip.” Foto’s: Verskaf

Agter die skerms

“Elke dag bring nuwe verrassings,” sê die vervaardiger, Elmi de Pauw, van Walla Films. “Ek is mal oor oudhede en programme oor oudhede. So, toe ons die geleentheid kry om Fanaties te maak, was ek vreeslik opgewonde.”

Elmi sê dit was vir die span belangrik om dié passie visueel uit te beeld. “Ons begin altyd in die winkel en kyk wie is daar vir ’n winskopie of ’n versamelstuk. Dan ry Natie uit na mense wat kenners of versamelaars is. Visueel het ons probeer om soveel moontlik vas te vang van wat in die mense se huise is – elke item vertel sy eie storie.”

Tussen die uitstappies deur speel baie van die aksie in Die Sinkhuisie af, waar Natie saam met sy ma, sy skoonma en winkelbestuurder, Mandy, werk. “Hulle is ’n heerlike span,” sê Elmi. “Daar’s altyd bietjie drama en speelsheid tussen ma en seun – dis wat die winkel so lekker maak.”

Met Fanaties kry kykers ’n nostalgiese maar ook verrassend opwindende blik op die kultuur van versamelaars, restourasie en die geskiedenis. “Ek dink Fanaties bring iets vir almal in die huis,” sê Elmi. “Jy kan sit en jou verstom aan die mense en hul stories… En dalk besef dat iets in jou kas miskien meer werd is as wat jy gedink het.


Fanaties begin Woensdag 5 November om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes is ook na uitsending op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies