November bring groot omwentelinge na Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar die kykNET-sepie Suidooster afspeel.
Hier is ses storielyne waarvoor aanhangers moet uitkyk in Suidooster se verjaarsdagmaand:
Wade se klubdroom ontaard in ’n nagmerrie
Wade (Dean Smith) se plan om sy sukkelende kroeg, Brassery, in ’n glansryke klub te omskep, lyk aanvanklik belowend en hy kry selfs vir Early B om te kom optree. Dinge begin egter lelik skeefloop wanneer ’n nuwe bendebaas, Selwyn (Tevin Eagleson), sy “beskermingsdienste” vir Wade aanbied.
Wat begin het as ’n sake-ooreenkoms verander vinnig in afpersing, geweld en chaos. Zoë (Lauren Joseph) probeer vergeefs om Wade te waarsku, en wanneer dinge buite beheer raak, word hulle verhouding tot breekpunt gedryf. En daar is ’n skokkende nadraai…
Maryam se soeke na vergifnis loop skeef
Daar is weer olie op die vuur wanneer Mymoena (Jill Levenberg) se ouer suster Maryam (Celeste Wannenburg) ’n verrassende onthulling oor wyle AB (Cedric Joel) maak. Dit lei dan tot nuwe konflik tussen die susters.

Maryam trek uit die Samsodien-huis en probeer haar lewe herbou deur by ’n reisagentskap te werk. Mymoena maak, soos in die verlede, weer vrede met haar, maar ou versoekings steek kop uit en kort voor lank raak Maryam se vingers lank. Mymoena se geloof in haar suster word getoets soos nog nooit vantevore nie, en ’n hartverskeurende besluit word geneem.
’n Fietsry-droom eindig in tragedie
Wat as ’n gesonde stokperdjie begin het, eindig in tragedie wanneer Riaan (Daniel Coetzee), Gary (Craig Adriaanse), Justin (Eden Classens) en Gary se meisie Lilly (Lascelles Marias) in ’n ongeluk beland. Die voorval eis ’n lewe en laat skuldgevoelens en woede soos ’n storm oor hulle spoel. Riaan verloor beheer oor sy emosies en sy lewe, en sy vriendskappe word behoorlik getoets.
Verbode gevoelens tussen Frankie en Riaan
Frankie (Mienke Ehlers) probeer vir Riaan bystaan in sy donker tyd, maar haar empatie ontaard in iets meer persoonlik as wat sy bedoel het. Wanneer Gary (Craig Adriaanse) dié twee saam sien, broei jaloesie en skinderstories uit wat Frankie en Justin (Eden Classens) se verhouding onder groot druk plaas.
In die middel van al die chaos besef Frankie en Riaan dat hul ware gevoelens nie maklik weggesteek kan word nie.
Nazeem se tweestryd tussen reg en verkeerd
Nazeem (Irvine van der Merwe) worstel met die versoeking om weer betrokke te raak by onderwêreld-bedrywighede. Hy besef egter dat sy toekoms dalk eerder in “eerlike werk” lê. Sy plan om die Royal met plaaslike produkte te vernuwe, kan hom red – of vernietig – afhangende van watter pad hy kies. Sy reis bring broodnodige morele balans na die donker kant van Ruiterbosch.

Jenna, die poetsbakker van Ruiterbosch
Te midde van al die drama sorg ’n nuwe jong gesiggie vir glimlagte én chaos. Die twaalfjarige Jenna (Judi Hattingh) plak “googley”-ogies oral in die mall as ’n grap. Maar dan word sy deur Aiden (Theodore Jantjies) betrap – en hy word onverwags deur haar ma beïndruk…
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.







