Menu terloops
In Recaps & Resensies [11 Jun 2025]

‘Op skou’: Van ’n braaivleis-sokkie tot die samba, dáns gaan daar gedans word


In die sesde episode van die kykNET-reeks ‘Op skou’ word daar vandeesweek meer geleer oor die baldans-wêreld met elegante drag en seepgladde danspassies asook die pad na die nasionale kampioenskappe.

Deur Annelene Oberholzer

Stroom 'Op skou' op DStv Stream

‘Op skou’: Van ’n braaivleis-sokkie tot die samba, dáns gaan daar gedans word

Eens op ’n tyd is dit as ’n sonde beskou, maar deesdae sit mense wêreldwyd hul beste voetjie voor – want dis tyd om te dans! Hier is wat ons geleer het – en mense wat ons ontmoet het – tydens die sesde episode van Op skou, kykNET se realiteitsreeks oor buitengewone kompetisies.

Op skou
Die beoordelaars by danskompetisies fokus onder meer op interpretasie, tegniek wat tydsberekening, liggaamsposisie en voetwerk insluit, voorkoms, hoe die musiek geïnterpreteer word en of daar wel ’n besliste konneksie tussen die twee dansers is. Foto: Skermgreep

Ontmoet die dansers 

André Dippenaar 

“Dit gaan regtig bos, ouens. Dit gaan regtig, regtig bos. En dit transport jou na hierdie ander wêreld toe,” kom dit van die 41-jarige Moorreesburger toe hy oor dans uitgevra word. Hy is ’n professionele baldans- en Latyns-Amerikaanse dans-instrukteur. André vertel dans was nog altyd in die familie. Woensdae en Vrydae is daar gebraai . . . en gedans.

Hy verduidelik dat Amerikaanse vloeiende ballet (American smooth ballroom) uit vier verskillende danse bestaan. Dit is die wals, foxtrot, tango en die Weense wals. Wat Latynse danse aanbetref, is daar maklik tien verskillende danse wat uitgevoer kan word.

Hy is gek oor dans en hy beskryf dit as ’n verskriklike mooi omgewing waar almal aanvaar word. Dans het hom geduld geleer, ook om met ander mense te werk.

Nikki Pistorius 

Vir haar is dans bevrydend en dit laat haar vergeet van alles anders in haar lewe. Sy en André is alreeds ’n dekade lank dansmaats. Voor dit was hy haar afrigter. Nikki se ouma het die liefde vir dans in haar aangewakker toe sy ses jaar oud was. Kan jy glo? Die 36-jarige Nikki erken sy’t eers gedink dans is vir ou mense.

Edwin de Waal

Edwin, wat alles behalwe sy ouderdom sal verklap, is André en Nikki se dansafrigter. Hy vertel dat Nikki al haar eendjies in ’n ry het terwyl André nie ’n idee het van hoeveel eendjies hy het nie. Maar wat saak maak, is hoe ongelooflik goed die twee as ’n span werk.

Zea Abdol

“Dans het my geshape in die persoon wie ek nou is. Dit was ’n baie groot lewensles,” vertel dié voltydse danser. Sy het haar liefde vir dans begin ontwikkel vanaf 12-jarige ouderdom. Toe sy aanvanklik uitgevind het haar dansmaat gaan Angelo wees, was sy nie baie gelukkig nie. “Hy’t ’n baie suur gesiggie gehad. Toe begin ons dans, drie uur op ’n dag.”

Dit was drie weke voor ’n groot kompetisie, en daardie drie weke was meer as genoeg vir die twee om ’n wonderlike band met mekaar te smee. 

Zea doen baldans, sowel as Latyns-Amerikaanse danse. Omdat Angelo ná haar begin het met baldanse, het sy ’n ander dansmaat vir hierdie roetine.

Zea vertel op haar beurt meer van die moeilike omstandighede waaronder sy grootgeword het, waar bendegeweld en dwelms aan die orde van die dag was. Haar ouma het haar grootgemaak, maar haar dood ’n paar jaar gelede laat haar nog steeds baie emosioneel. So tussen die trane deur vertel sy dat haar ouma haar wel sien dans het en dat sy glo sy sou baie trots op haar gewees het vandag.

Angelo van Reenen

“As jy my in Pick n Pay sien, gaan ek cha-ha walks doen, as jy my in Woolies sien, sal ek rumba walks doen. Singing in the shower? Myne is nie net singing in the shower nie, myne is ’n hele concert. Ek dans all the time,” kom dit laggend van Angelo wat dans vandat hy agt jaar oud is. 

Hy het Zea aanvanklik as ’n baie stil meisie ervaar toe sy by Kim-Lee aangesluit het. Maar vandag, erken hy, sit sy hom baie gou en maklik op sy plek. Net soos Zea, het hy al ’n paar noue ontkomings gehad. Een daarvan was toe hy en sy pa in die kruisvuur tussen twee faksies beland het. Een van die koeëls van die spatbord af weggeskram het, het hom in sy nek getref. Hy was gelukkig om te oorleef, maar voel tot vandag toe dat hy die voorval nog nie heeltemal verwerk het nie.

Grant-Lee Ford

Zea se baldans-maat ken haar al geruime tyd. Sy ma was haar onderwyseres gewees, en sy het ook ’n dansskool gehad. Hulle twee sou aan die volwasse kampioenskappe deelgeneem het, maar ná ’n goeie gesprek oor te min voorbereiding, besluit hulle om nie hierdie keer deel te neem nie.

Riana Jacobs

Riana is Angelo se dansmaat in die baldans-kategorie. Die twee dans die afgelope jaar saam, maar ken mekaar al vir baie jare vanweë hul gedeelde liefde vir dans. Sy’t kennis gemaak met dans op die kassie en toe sy hoor van ’n dansskool in die omgewing, was daar geen keer aan haar nie.

Kim Lee Isaacs

Zea en Angelo dans onder haar bekwame leiding. Angelo het as 10-jarige by haar beland vir danslesse en Zea het sowat 10 jaar gelede met haar opleiding by Kim Lee begin. Sy onthou vir Zea as ’n baie skaam meisietjie, maar vandag is sy en Angelo die twee wat die jonges onder hul vlerk neem. Kim Lee is geweldig trots op haar twee hardwerkende dansers.

Op skou
Dans is nie goedkoop nie. Skoene begin by R1 500 en kan tot R3 000 beloop. Reiskostes, kostuums en bykomstighede ruk jou sak nog verder. Foto: Skermgreep

Voor die kompetisie

In Moorreesburg word daar groot aan die uitrustings beplan. Nikki se ma, Sue Howard-Pain, het nog nooit enige van haar kompetisies, eksamens of klasse misgeloop nie. Én boonop is sy die kunstige hand agter al die skeppings wat Nikki vir kompetisies dra.

“Dans is nie cheap nie,” erken André. Skoene begin by R1 500 en kan tot R3 000 beloop. Reiskostes, kostuums en bykomstighede ruk jou sak nog verder. Hy glo as jy die vrugte wil pluk, moet jy maar die [geld]-boom water gee. Nes in Nikki se geval, is ook sy ma baie gewillig om hand by te sit met sy uitrustings vir die kompetisie.

Intussen fokus Angelo en Zea op tegniek en hul passies. Dis nou te laat om ou foute uit te probeer stryk.

Die kompetisie

Die opening van die SADTA-kampioenskap (South African Dance Teachers’ Association) is ’n vrolike affêre vol kleur en klank. Maar die senuwees lol, veral vir Angelo wat aan sowel die baldans- as die Latyns-Amerikaanse afdeling gaan deelneem.

Die beoordelaars fokus onder meer op interpretasie, tegniek wat tydsberekening, liggaamsposisie en voetwerk insluit, voorkoms, hoe die musiek geïnterpreteer word en of daar wel ’n besliste konneksie tussen die twee dansers is.

Een van die danspare haal nie hierdie keer die paal vir die finaal nie. Tog het hulle hul dansery geniet – en dis waaroor dit eintlik gaan, daardie plek op die vloer wanneer jou hele hart en lyf en kop oorgeneem word deur die meesleurende ritme van die dans.


Op Skou saai uit op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Op Skou se episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies