Die eerste twee hoopvolle deelnemers in die stryd om voormalige rugbyspeler Ruan Smith se hart moes in die derde episode van kykNET se maatsoekreeks Op my eish! reeds hul tasse pak. Carmen en Chantelle (Wilson) was nie baie gelukkig met sy besluit nie, maar gedane sake het nie keer gehad nie.
Een ding is seker – die oënskynlike vreedsaamheid wat tot nou toe oor Kilima geheers het, gaan heel waarskynlik nie lank duur nie. Van die meisies is meer as vasberade om Ruan se hart te wen en hy erken hy het self ook al bietjie potensiaal begin raaksien.
Intussen was Charlene die een wat die vurigste gehoop het dat Ruan eersdaags die een gaan wees wat vir haar koffie in die bed gaan bring . . .
‘Touchies’ en ’n briefie met ’n belofte

Ruan en sy beste tjom en wingman, sy tweelingbroer JP, het planne gemaak vir ’n bietjie strategie in die spel. Rugby, natuurlik. En wie was dan nou beter as twee afrigters vir die twee spanne wat kragte teen mekaar gaan meet as juis hierdie twee voormalige rugbyspelers.
Maar eers het JP weer ’n briefie gehad om te oorhandig. Behalwe dat die skrywer lof uitgespreek het oor Ruan se rugby-moves, was daar die belofte dat hierdie skrywer die een is wat sy hart gaan vang. En sy het vir hom ’n wenk gegee oor wie sy is. Haar briefie is met parfuum deurdrenk en Ruan sal op sy sintuie moet staatmaak. Word hier nie dalk ’n bietjie onkant gespeel nie?

JP was maar versigtig vir wat die touchies-uitdaging sou oplewer, want hier was nou baie op die spel. “Wen, of huil baie mooi op die kamera,” was sy opdrag aan sy spelers.
Die wenners was toe Caitlin, Maritha, Minette, Hermi en Cindy en hulle het op ’n bosrit saam met Ruan gegaan. Maar o, die bitterheid. Charlene was glad nie gelukkig hiermee nie – sy het wéér nie ’n kans gekry om saam met Ruan op ’n uitstappie te gaan nie. Drie afsprake, en nie een was haar gegun nie. Die trane het gespat. Gelukkig vir haar moes een van die wenspan vanweë werksverpligtinge die rit misloop en so het Charlene toe eindelik haar kans gekry.
Biegsessies en bokdr*lle in die bos
Cindy, wat op die rugbyveld gewys het sy kan iemand sonder huiwering plettervat wanneer dit saak maak, het nie ophou plannetjies maak om die kompetisie uit te skakel nie. Sy en haar twee mede-samesweerders het seker gemaak dat ten minste een van hulle langs Ruan beland het tydens die rit. Moet nooit die lis (of lus) van ’n vrou onderskat nie . . .

Maar toe dit by alleentyd met Ruan kom, was dit einste Charlene wat eerste deur Ruan gevra is om eenkant te sit en gesels. Diep gesprekke is gevoer oor ’n Savanna in die hand. En vir Charlene was haar pad vorentoe duidelik: as sy nie liefde vind nie, het sy vir Jesus. En vir Hom het sy baie lief. Dis genoeg vir haar.
In die lieflike Bosveld het dit met verdrag duidelik geword dat daar onderling meer ‘haak-en-steek” onder oënskynlike skertsery weggesteek word as wat daar geniepsige doringtakke in Kilima is.
Of Ruan dit raakgesien het, was onseker. Vir hom was dit meer belangrik om vir Minette te verduidelik dat hy jare lank “ ’n k*k ou” was maar dat hy deesdae baie hard probeer om ander mense se gevoelens in ag te neem.
Hermi het ook haar kans gekry om eenkant met Ruan te gesels. Vir haar is die maak-of-breek van ’n verhouding die manier waarop die ander persoon haar eie kinders ook sal hanteer. Daarmee was hy ten volle aan boord.

Terwyl die ernstige gesprek plaasgevind het, het die res van die span besluit om die tyd wyslik te spandeer en uit te vind wie kan ’n bokdr*letjie die verste spoeg. So het Minette vir haarself ’n tequila losgespoeg.
’n Romantiese ete by kerslig in die bos
“Ek wil ’n bietjie sien hoe jou kop werk,” was Ruan se uitnodiging aan Cindy. Die vraag was net wie se kop enigsins nog sou werk met die feestelike tafel wat op hulle gewag het.
Ruan was baie beïndruk met Cindy en hy’t gevoel sy is pylreguit, sy weet wat sy wil hê, sy verstaan sy sin vir humor en dinge is gemaklik met haar.
‘In die donker’
Jenine het tot nou toe nog nie alleentyd met Ruan gehad nie. Sy het vir die res vertel dat sy in die donker voel daaroor. Daar was ook ’n bietjie hartseer te bespeur want sy wou baie graag ook daardie geleentheid met Ruan gegun word.

“Hulle sê goeie goed vat tyd,” was Chantal se reaksie tot groot vermaak van die res oor haar eie gebrek aan alleentyd met Ruan.
Die groot klagte in hierdie stadium van diegene wat reeds daardie alleentyd met hom spandeer het, was dat die tyd hopeloos te min was. Wat kan jy dan nou alles in 15 minute kwytraak en ook terselfdertyd probeer vasstel of daar enige potensiaal vir wederkerige gevoelens is?
Spanning . . . en ’n soen
Terwyl JP besig was om met die span tuis te gesels, het hy aan hulle genoem dat hy die onderlinge spanning kan aanvoel. Van die meisies stem saam en dat dit stadig maar seker aan’t opbou is.
Maar elders in die bos was daar spanning van ’n ander aard besig om op te bou. Met twee lanterns langs ’n kombers op die grond het dinge in ’n rigting begin beweeg tussen Ruan en Cindy.
‘Ons het ’n bietjie close geraak, so te sê,” het hy later erken.
“Hoekom?” wou sy by hom weet toe hy haar vertel dat hy haar binnekort gaan soen.
“Want ek wil,” en toe het hy daad by die woord gevoeg. En gesoen was daar beslis.

En Cindy, dieselfde Cindy wat in die vorige episode gedreig het met “ek wil nie net vir Ruan opvry nie, ek gáán nog vir Ruan opvry,” was hierdie oomblik egter ontgogelend.
“Dis ’n vet f*kop, dis ’n f*kop. Dit het so vroeg gebeur,” het sy later oor die soenery gesê. Maar glimlaggend erken dit was baie beter as wat sy verwag het. En sy het ook besluit om niks vir die ander te vertel nie.
Nog ’n avontuur, ’n kluitjie en ’n skok-besluit
Jenine, Chantal, Bejanke, Caitlin en Chantelle het vroegoggend ’n boodskap ontvang dat Ruan vir hulle op ’n avontuur wil neem. Charlene was vinnig by om uit te vind wat aangaan want sy het nie ’n boodskap ontvang nie. Dis weer tyd vir Jan Tuisbly vir haar.

Min het hulle geweet van die sweetsessie wat op hulle by Kings Walden gewag het: ’n e-bergfietsrit in die natuur. Ná ’n verfrissende ete op roete, het Ruan vir Jenine eenkant toe gevra. Hy het geen doekies omgedraai nie en wou gou weet of Jenine potensiaal vir hulle twee sien. Kan sy?

Tweede aan die beurt is Soutie, (soos wat hy Caitlin herdoop het) en daar was byna ’n glips met ’n omgevalle boomstomp. Gelukkig het altwee se sin vir humor die saak beredder. Daarna wou hy pront by haar hoor of sy werklik daar wíl wees. Gaan Caitlin se beroep dalk sake hier plettervat?
Toe sy egter by Ruan wou uitvis of hy al iemand gesoen het, het hy die antwoord baie gemaklik gesystap. En net daar ’n groot kluitjie gebak . . ..

Nee, bru, jy’s dan die een wat vertel jy draai nie doekies om nie?
Die derde alleengesprek was met Chantal wat uit die blokke vir Ruan vertel het sy’s die geheimsinnige briefskrywer. Maar vir volgende briefies gaan hy harder moet werk. Sy het ’n skattejag saamgestel en vir hom leidrade gegee om te volg.
Ongelukkig het Ruan slegte nuus vir haar gehad. Haar skattejag op soek na sy hart het vir haar niks opgelewer nie. Hy het vir haar gesê dat daar sterker konneksies in haar lewe is as dit wat tussen hulle twee bestaan. Hy wou nie vir haar nog langer van haar seuntjie weghou nie.

En toe kom Saartjie
Terwyl daar in spanning gewag is op die terugkeer van die dag se avontuurlustiges, het daar ’n nuwe gas haar verskyning gemaak. Sy was die tweede buiteperd, oftewel wild card, in die reeks en haar naam is Saartjie Erlank (27).

Dié mediese verteenwoordiger van Pretoria het vroeg reeds besluit sy gaan eers ietwat van ’n draadsitter wees. Maar as dit van Cindy afgehang het, sou sy nie eers daardie geleentheid gekry het nie.
“Sy hoef nou nie haar tasse uit te pak nie,” was haar onomwonde raad aan Saartjie. Hier gaan die vonke spat want Cindy noem haar so tussendeur “Kaartjie of Saartjie” en sy’t duidelik nie kans gesien om haar hartlik te verwelkom nie.
Maar moenie vir die fyn blondine “Kaartjie of Saartjie” onderskat nie . . .
Op my eish! saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook S2 en S3 van Op my Eish! op Showmax.