In die tweede episode van oud-rugbyspeler Ruan Smith (35) se soeke na liefde op kykNET se maatsoekreeks Op my eish! was dit reeds duidelik dat, benewens die onverwagte kinkel met die aankoms van Chantelle Smith (31), daar baie fyn getrap sal moet word. Mooi laggies, skerp naels . . .
Carmen, Chantelle en Caitlyn het was die eerstes wat eenkant-tyd met Ruan geniet het. Maar die derde episode was ook interessant – want vroeg-vroeg in hierdie episode het Ruan die geleentheid gekry om alleentyd met een meisie, of dalk twee, te spandeer.
Nie net een nie . . .
Boet en wingman JP het sommer vroeg reeds vir Ruan verras met nie net een nie, maar twéé briefies wat aan hom gerig was. Terwyl een briefie beloof het dat die skrywer nie sommer enige ou wil plettervat nie, het die ander briefie hom as “sag op die oog” beskryf. Maar wie was die skeppers van hierdie geheimsinnige briefies?

Ses op ’n uitstappie is dalk vyf te veel
Magoebaskloof Adventures het op ses van die meisies gewag. Dit was nou die ses wie se boerie-vernuf hulle in die tweede episode in die steek gelaat het. Die glykabel-rit was ’n groot uitdaging vir Ruan wat nie juis sterk op hoogtes is nie, maar die piekniek later onder die bome het die senuwees gekalmeer.
Hy kon egter nie sy nuuskierigheid bedwing nie en wou weet of enige van die meisies vir hom ’n briefie gestuur het. Tevergeefs . . . maar een van die briefskrywers skuil wel in die groep.
Chantelle en Hermi kon elk ’n kwartier met Ruan deurbring. En altwee se versugting was om elke afspraak met Ruan te kan bewerkstellig. Maar hul hoop word gou geblus toe Ruan aankondig dat hy net een meisie op ’n solo-afspraak gaan neem – en dis nie een van hulle twee nie.


Afspraaktyd
Maritha was die gelukkige een wat tyd saam met Ruan by House of Art spandeer het. Tussen die gesels deur het Maritha baie diep persoonlike inligting met Ruan gedeel – inligting wat hom heeltemal onkant betrap het.

Die pottebakkery-sessie daarna het heelwat gehelp om die atmosfeer ligter te maak. Dit was byna soos ’n oomblik uit die ikoniese fliek Ghost waar Patrick Swayze en Demi Moore saam iets op die pottebakkery-wiel getakel het. Die groot verskil was dat Ruan nie ’n spook is nie.

‘All dressed up and nowhere to go’
Die volgende uitdaging wat op die meisies gewag het, was een waar hul tas-sintuie op die proef gestel sou word. Maar net vyf kon dit bywoon. Chantelle (Wilson), Minette, Bejanke, Carmen en Cindy was die uitverkorenes.
“All dressed up and nowhere to go,” het dit van effe verontwaardig van Charlene gekom. Sy sou beslis nog meer verontwaardig gewees het as sy geweet het wat op die vyf meisies gewag het.
Die vyf is geblinddoek – en kykers sou nooit kon raai wat die meisies moes doen nie. Al wat genoem kan word, was dat kuite, boude en spiere ’n groot rol gespeel het . . .

Minette is daarna eerste uitgesonder vir alleentyd met Ruan en daarna was dit Bejanke se beurt. Iewers tussen die twee deur het dit begin lyk of Ruan iemand werklik van naderby wil leer ken.

Terug by die res, het die vyftal ’n poets op die ander meisies gespeel en voorgegee twee van hulle is huis toe gestuur. Die verligting was groot toe almal wel opgedaag het.
Besluite word geneem
Cindy, Carmen en Chantelle (Wilson) is later die aand genooi om saam tyd met Ruan te spandeer. Maar daar was iets aan die broei, en hulle was beslis nie voorbereid daarop gewees nie.
Skielik het die poets van vroeër die aand ’n onheilspellende toon aangeneem. Hy het nie net een nie, maar twee van die meisies versoek om hul tasse te pak.
“Ek dink dis super-k*k om eerste huis toe te gaan,” het dit tussen die trane deur gekom.
“Jy’t my gespeel soos ’n game,” was die verligte reaksie van iemand wie se tasse vir eers nog weggebêre bly. Maar Ruan het dit vir haar duidelik gemaak dat sy nou ook ’n bietjie meer “na die party” moet kom want hy wil haar beter leer ken.

“Ek wil nie net vir Ruan opvry nie, ek gáán nog vir Ruan opvry,” het sy baie dapper aangekondig. En behoede die een wat dit gaan waag om hom eerste te soen . . .

Op my eish! saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook S2 en S3 van Op my Eish! op Showmax.