Die ewige soektog na liefde is een van daardie reise waar kykNET-kykers dit ook graag saam met die soekers deel. Soos nou die geval is met die voormalige rugbyspeler Ruan Smith (35) wat in die vyfde seisoen van hierdie maatsoekreeks gaan uitvind of sy hart gereed is om sy alleenloperstatus vir liefde te verruil.
Gelukkig het hy sy beste vriend, wat toevallig ook sy tweelingbroer is, wat hom as sy wingman deur die proses ondersteun. En niemand ken vir Ruan beter as juis JP nie.
Leeus, katte en lipstiffie . . .

Verlede week moes Ruan 12 meisies kies met wie hy ’n bietjie langer wou kuier, maar Melissa Jonker, wat aanvanklik een van die 12 was, het vanweë persoonlike redes van die reeks onttrek.
Gaan een van die oorblywende 11 meisies hom plettervat of gaan daar ’n buiteperd, oftewel Op my eish! se gunsteling partytjietruuk – ’n wild card – opdaag wat sake liederlik vir almal by die privaat-wildreservaat en spa Kilima naby Tzaneen gaan omkrap?
Heeltyd deeltyd, maar . . .
Dis glamping met ’n universiteitsgraad by Kilima. Maar vier meisies in een tenthuisie? Nie almal was baie opgewonde daaroor nie, want Caitlin McLaren het gou besef die pakplek vir hul uitrustings was baie beperk. Die ander meisies was gou om daarmee saam te stem. Van hulle het selfs met vier tasse en boonop ’n paar bokse daarby, opgedaag!
“Hou jou hande vir jouself” Met hierdie vermaning aan boeta JP, het Ruan begin regmaak vir die eerste aand se skemerkelkiekuier. Die meisies was ook baie besig om te poeier en te paint maar daar was reeds onderstrominge en selfs ’n bietjie wedywering oor wie die een gaan wees wat Ruan se aandag gaan trek.
Gaan dit dalk die een met die rooiste lippe wees of die een met die beste strategie?
Vir Carmen Hamman was daar ook baie onsekerheid oor wat die aand sou oplewer want “die girls kan nogal soos honger leeus lyk wat op hul prooi wil spring” . . .
Die spreekwoordelike kat kom weer
Dit was JP wat die meisies, én vir Ruan, onkant betrap het toe hy aangekondig het dat daar net 11 meisies is, maar dat hy iemand anders ingebring het. En nee, dit was nie ’n aangename verrassing vir almal nie.

Meer nog, dis “Chantel nommer drie”, het dit ontsteld van Chantal Viljoen gekom. Maar hierdie een is Chantelle Smith (31), ’n eiendomsagent van Alberton. Getroue Op my eish!-kykers mag dalk dink sy lyk bekend – en dis inderdaad so. Sy het vir die vorige seisoen van Op my eish! met Brendan Peyper ingeskryf maar nie die top-12 gehaal nie.
“Dis nou origheid”
Cindy-Lee Burrell het met die intrapslag reeds duidelik laat verstaan dat sy nie nonsens van kaboutertjies vat nie. En sy gee so goed as wat sy kry. Maar toe Carmen tydens die verrigtinge in trane ’n spoedhobbeltjie getref het, was Cindy een van die eerstes wat kom ondersteun en wyse woorde gedeel het.

“Dis nou origheid, want almal soek nou sy aandag,” het sy pront verklaar terwyl sy bemoedigend Carmen se hare saggies gestreel het. So tussen die lyne deur wou dit half voorkom asof daar reeds ’n paar dolke in fyn-versorgde hande met gemanikuurde naels hul verskyning gemaak het – en Carmen het dalk skrams met een van daai skerp lemme te doene gekry.
Kompetisietyd
Die 12 meisies moes kragte teen mekaar meet en die ses beste boerie- en skemerkelkiemakers sou op ’n groepsafspraak met Ruan gaan met fondue op die spyskaart. Hy het nie heeltemal geweet wat op hom wag nie, maar hy was van een ding seker en dit is dat daar weer een of ander kinkel sou wees. Maar hy het ook erken dat skemerkelkies nie juis sy koppie tee is nie.

Die wenners was Chantelle Wilson, Cindy, Carmen, Caitlin, Charlene en Minette. Dit was egter nie net die hetige kole van die boerie-braai wat dinge begin opwarm het nie. Die meisies is nou al behoorlik lus vir alleentyd met Ruan. Maar hoe lank gaan hulle moet wag?
Sommer gou was dit Carmen se beurt om saam met Ruan eenkant toe te stap. Haar vrese het hoogty gevier, want toe Ruan begin praat het, het dit haar herinner aan die gesprekke met ouens wanneer hulle die verhouding verbreek. Toe sy benoud by hom wou weet of hy haar gaan huis toe stuur, het hy haar laggend verseker: “Nee”.

Volgende aan die beurt was dit Chantelle. Kort voor lank het die trane geloop toe sy aan hom vertel het dat sy die kans van haar lewe gevat het om daar te wees.
“Soutie” was sy bynaam vir Caitlyn en hy het haar genooi vir die eenkant-gesels “voordat sy aan die slaap raak”. Ook sy het die vrees gehad dat sy haar tasse moet pak. Ruan het pront vir haar gesê daar is mense wat dink sy’s neus in die lug.
Meer oor ‘buiteperd’ Chantelle Smith
Chantelle hou van ’n man met ’n mooi glimlag, en nog meer as daar ’n flonkering in die oog is. Ruan se lengte en grootte is natuurlik ook vir haar ’n bonus. En ja, sy was bewus daarvan dat haar verskyning moontlik tot spanning onder die ander deelnemers kon lei. Tog het sy hierdie ervaring met respek en selfvertroue aangepak.

“Ek was aangenaam verras deur hoe vriendelik en verwelkomend die dames was. Dit het my dadelik op my gemak laat voel. Al was daar later gerugte van ongemak omdat iemand so vroeg ingekom het, het niemand dit ooit direk of onbeleefd teenoor my hanteer nie, en daarvoor is ek dankbaar.
“Ek weet wie ek is en waarvoor ek staan,” het sy gesê. “Dit was vir my belangrik omgetrou aan myself te bly en met ’n oop hart in te gaan.”
Maar waarna soek sy?
“Ek soek ’n man met ’n goeie hart. ’n Hart vir Jesus en mense. ’n Goeie sin vir humor en ’n sterk persoonlikheid. ’n Man wat nie te sleg op die oog is nie. ’n Man wat ’n goeie verhouding met sy familie het, wat hulle liefhet en respekteer,” het sy gesê toe sy vir die vorige seisoen van Op my eish! met Brendan Peyper ingeskryf het. Sy wou uit haar gemaksone tree en haarself uitdaag om nuwe dinge te probeer.
Toe het dit vir haar na ’n avontuur geklink en natuurlik kan min mense die bekoring van die onbekende ontsnap. Hoe hierdie avontuur gaan afloop, sal net tyd leer…
Op my eish! saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook S2 en S3 van Op my Eish! op Showmax.