Menu terloops
In Recaps [19 Mar 2026]

‘Op my eish!’: Aijaijai… nog ’n soen, nog ’n stok in die wiel


Toe gooi iemand uit ’n heel onverwagte oord ’n m**rse spanner in the works in vandeesweek se episode van ‘Op my eish!’.

Deur Annelene Oberholzer
‘Op my eish!’: Aijaijai… nog ’n soen, nog ’n stok in die wiel

In verlede week se episode van kykNET se maatsoekreeks Op my eish! het die voormalige rugbyspeler Ruan Smith Minette se voete onder haar uitgeslaan toe hy tydens ’n aand alleen vir haar vertel het hy is baie seker van sy gevoelens vir haar. 

Met haar terugkeer na die span in vandeesweek se episode het Minette geweet sy gaan gepeper word met vrae oor die vorige aand se glamping saam met Ruan. En sy was in die kol. Maar swyg was ook ’n antwoord.

Toe het Ruan ook die oggend besluit dis tyd vir ’n gesprek met Hermi.

oP MY EISH
Zipped lips! Minette het net mooi niks met die res gedeel oor haar afspraak met Ruan nie. Foto’s: Skermgrepe

Blindsided’

“Ek het die aand saam met jou baie geniet,” het hy die aanvoerwerk begin. Ja, dit was sulke tyd. Hermi moes haar tasse pak. Alhoewel hy iets vir haar gevoel het, was sy gevoel vir “ander mense” sterker, het hy haar laat verstaan.

Ten spyte daarvan dat sy vir Ruan alles van die beste toegewens het, het Hermi gesê sy was blindsided en het nie hierdie boodskap van Ruan verwag nie. Tog weet sy die Here beplan nog steeds vir haar iets baie mooi en baie spesiaal.

Maar Ruan was nog nie klaar gesels nie. Ook Jenine is eenkant toe geroep.

“Ek weet jy’t ’n opregte hart en is ’n goeie mens,” het hy vir haar gesê en bygevoeg dat hy nie noodwendig ’n konneksie met haar gevorm het nie.

Jenine het gesê sy het daar weggestap met die wete dat daar in die toekoms beter goed op haar wag. En sy het ’n raaiskoot gewaag dat Ruan of vir Charlene of vir Minette aan die einde van die reeks gaan kies. Net die tyd sal leer of sy in die kol was.

Vir die volgende tydjie was daar eers net vier vroue oor, maar Saartjie het mos belowe sy keer terug…

‘Iets anders’

Nadat Ruan die viertal in die wildritvoertuig ingelig het dat Hermi en Jenine huis toe is, het hy aangekondig dat hulle ’n speletjie gaan speel. Dit gaan iets anders wees, maar hulle gaan nie soos mal goed hoef rond te hol nie. 

Maar o aarde, het Ruan dalk ’n lat vir homself gepluk met hierdie speletjie? Soort van ’n 30 Seconds-speletjie. Dit was daarop gemik om uit te vind hoe goed hy die vier wat saam met hom is, ken. En ook hoe goed hulle hom ken. Geen prys om te wen nie, maar ekstra tyd met Ruan was vir almal van hulle meer as genoeg beloning.

Op my eish
Die vroue het kleigetrap met baie van die antwoorde van die speletjie wat hulle met Ruan gespeel het.

“Ek hoop nie hierdie 30 Seconds lei tot huismoles nie,” het Charlene gelag. Het sy dalk iets geweet wat die ander nie geweet het nie?

Die vroue het kleigetrap met baie van die antwoorde, maar sou Ruan beter vaar? Hy kon net al Charlene se vrae korrek beantwoord.

Dit was ook Charlene se eerste wen, een wat sy met Cindy moes deel oor hul kennis van Ruan. Maar dit was Bejanke wat eenkant toe genooi word deur Ruan.

Amper tassies gepak

’n Knetterende vuur, heerlike happies en ’n kombers met gemaklike kussings op ’n klipmuurtjie het die twee ingewag. Bejanke het vir Ruan vertel dat sy byna-byna haar tassies die vorige aand gepak het omdat almal reeds alleentyd met hom spandeer het, behalwe sy.

Kinders het tydens hul gesels opgeduik en Ruan het dit duidelik gemaak dat dit ’n package deal is: “Net soos wat ek ’n package deal is met al my k*k”.

Voor die eerste reëltjie van, “Ek kyk graag so diep in jou oë” kon inskop, het die twee mekaar nadergetrek vir ’n soen. “Ek gaan nie lieg nie, dit was lekker en het my spesiaal laat voel,” het Bejanke ná die tyd erken.

Op my eish
Voor die eerste reëltjie van, “Ek kyk graag so diep in jou oë” kon inskop, het Ruan en Bejanke mekaar nadergetrek vir ’n soen.

“Ná vanaand het Bejanke ’n moerse spanner in the works gegooi. Ek het besef ek het groot moeilikheid wat kom in ’n opsig want daar is sterk gevoelens,” het dit half-benoud van Ruan gekom. En hy was by ’n kruispad van keuses wat hy allermins verwag het.

‘Spill the tea’

Soos oudergewoonte het JP, die keer met ’n koppie tee in die hand, hom by die meisies aangesluit. Saartjie het teruggekeer van haar verpligtinge en was baie gretig om op te vang met wat alles in haar afwesigheid plaasgevind het.

Sommer gou het hy vir Bejanke versoek om haar bril af te haal – om te sien of sy bloos ná die vorige aand se afspraak met Ruan.

“Al wat ek sien, is teekoppies en JP. Toe dog ek JP is gereed met ‘spill the tea, spill the tea’ maar daar was niks ‘tea’ nie,” het Cindy droogweg opgemerk.

Boozy twister

Nee, mense, geen boozy cruise vandag nie, maar ’n boozy twister, het JP die span ingelig oor wat vir hulle voorgelê het.

“As ek hom tot nou nie kon buig soos ’n warm Fizzer nie, gaan ek hom in ’n game buig soos ’n warm Fizzer,” was Cindy se plannetjie vorentoe. 

Dit was toe einste sy wat eerste hande en voete op die speelmat teen Ruan moes plaas. “Ek sal nie sê ek het ’n meestersgraad in yoga en track nie – maar ek is los . . . nie letterlik nie, in die heupe . . .” het sy gou herstel. Maar Ruan was slinkser en meer soepel as wat die verwagting was.

Op my eish
“As ek hom tot nou nie kon buig soos ’n warm Fizzer nie, gaan ek hom in ’n game buig soos ’n warm Fizzer,” was Cindy se plannetjie met dié speletjie.

Bejanke en Ruan het volgende probeer, en dié keer moes Ruan bes gee. Met Minette se speelbeurt het hy letterlik op haar gesit om druk op haar toe te pas – en van die speelmat af te kry. Saartjie het hom uitgeknikker met haar uithouvermoë. Maar hoe het Charlene gevaar?

“Dit was net kuite en boude. Dis my nuwe favourite game,” was haar terugvoer.

Minette het dit gewaag om Ruan weer uit te daag en dié keer het sy sy skrumskakelposisie teen hom ingespan. Sy wou nie besgee nie – en die meisies wat die spektakel bekyk het, het glad nie omgegee nie.

“Kyk, daai was ’n mooier view as Tafelberg,” het Bejanke laat hoor. Dit was nou natuurlik met verwysing na Ruan se agterstewe waarteen hulle moes vaskyk.

Toe besluit die “view” dis tyd vir ’n afspraak met Saartjie later die aand…

Skaakmat?

Ruan was uitgevat in jeans en ’n swart-en-wit hemp terwyl Saartjie baie elegant in haar swart rok gelyk het. Daar was ’n rusbank op die reuse-skaakbord met skaakstukke rondom die twee gerangskik.

Op my eish
Ruan en Saartjie het ’n bietjie alleentyd geniet.

Hulle het kopstukke gesels oor die rol wat familie en -geleenthede aanbetref. Tot waar Ruan aangekondig het dat hy iets ernstig op die hart het. Saartjie se reaksie daarop was dat hulle dan nou reeds ernstige sake bespreek het.

Die twee het oor een ding saamgestem – hulle verstaan mekaar, al het hulle nog nie baie tyd saam spandeer nie.


Op my eish! saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook S2 en S3 van Op my Eish! op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Augustus 2026

Die waarheid oor ’n dokter lei tot ’n dramatiese wending en Joe is desperaat om vrae oor sy identiteit te beantwoord. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer
Sien alle opsies